Gepubliseer op: 1 Julie 2025
Akademia-alumnus, Elisma van der Watt (23), se kollegas verwys nie verniet na haar as ʼn hedendaagse Nancy Drew nie. Nét soos dié amateurspeurder gee Van der Watt, ʼn hardenuusjoernalis (wat fokus op hofsake, misdaad en ondersoekende artikels) by Maroela Media, nie bes as sy op die spoor van ʼn storie is nie. Óf dit nou die Joshlin Smith-verhoor in Saldanha, die menslike oorskot wat in ʼn Heidelbergse woonbuurt ontdek is, óf die hervestiging van ʼn jagluiperd vanuit die Noord-Kaap behels – sy is op die nuusspoor.
Van der Watt, ʼn gebore en getoë Weskus-meisie van die Vredenburg-distrik, het in 2021 haar visplakkies vir die Pretoriase stadsliggies verruil. En die res is soos hulle sê, geskiedenis.
Wie nie waag nie, wen nie
Volgens Van der Watt, wat haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Paarl Gimnasium voltooi het, was die besluit om in die noorde te studeer ʼn keerpunt in haar lewe. Sy was seker oor haar voorneme om haarself as joernalis te bekwaam, maar het aanvanklik nie geweet aan watter instelling sy haar studiereis wou aanpak nie. Akademia se BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-program het belowend gelyk, maar die instelling se moedertaalonderrigaanslag het uiteindelik vir haar die knoop deurgehaak.
“Ek het, sonder om ʼn opedag of inligtingsessie by te woon, ʼn kans gewaag en my instink gevolg – iets waaroor ek nóg nie ʼn enkele oomblik spyt was nie,” vertel Van der Watt. Sy vertel laggend dat die besluit om nie haar skoolmaats te volg en by ander openbare hoëronderwysinstellings te studeer nie, vrugte afgewerp het omdat sy só meer tyd gehad het om haarself te vind en heelhartig aan Akademia se vormingservaring te kon deelneem. “Met my aankoms in Centurion het ek letterlik niemand geken nie, en óók niks van Pretoria geweet nie. Die uiteinde van die saak was dat ek die beste van hierdie skuif moes maak, en ek is dankbaar dat ek deurgedruk het”, sê Van der Watt.
As oud-inwoner van Huis Valorem, Akademia se eerste inwoonkoshuis (nou privaat verblyf vir senior dames) het Van der Watt haar studie by wyse van die voltydse kampusmodel aangepak en het sy in 2023 haar program voltooi. Gedurende 2022 het sy ook as redakteur van die instelling se destydse studente-nuusbrief, die Fontiepos, gedien én sy was die primaria van haar koshuis.
“Vandag beveel ek my alma mater se BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-program ten sterkste aan vir enigiemand wat daaraan dink om ʼn beroep in die media na te volg. Dié program het my voorberei om as multimediajoernalis ʼn storie van die begin tot die einde deur te volg – ʼn vaardigheid wat my in my dagtaak help én my bó ander jong joernaliste laat uitstaan,” sê Van der Watt.
Groot drome en goeie wense vir haar alma mater
Van der Watt sê sy koester groot drome en goeie wense vir haar alma mater. Dit sluit in voortgesette groei as ʼn trots-Afrikaanse instelling wat akademiese uitnemendheid met sterk gefundeerde waardes kombineer. Sy is veral opgewonde oor hoe die Joernalistieke stroom binne die Fakulteit Geesteswetenskappe ontwikkel. “Dié departement het die potensiaal om wêreldklas joernaliste op te lei wat nie net tegnies vaardig is nie, maar ook waardegedrewe, krities en met integriteit die veranderende mediawêreld kan betree. Ek hoop van harte dat studente hul roeping by Akademia sal ontdek en die instelling sal vertrou om hulle te help vorm tot leiers, denkers en doeners wat ʼn positiewe verskil in die samelewing sal maak,” sê Van der Watt.
Sy meen verder dat as ʼn trotse alumnus dit verblydend is om te sien hoe die instelling geografies uitbrei. Die vestiging van die instelling se voltydse kampus in die Paarl sal volgens haar nuwe lewe blaas in ʼn streek waar daar ʼn groot behoefte is aan Afrikaanse hoër onderwys. “Ek sien daarna uit om deel te bly van ʼn groeiende en dinamiese Akademia-netwerk van alumni en ondersteuners van dwarsoor die land,” meen Van der Watt.
Van kleinkassienuus tot voorstelinieberiggewing
Nuus en aktualiteitsprogramme was van kindsbeen af deel van Van der Watt se lewe. Haar ouers het haar en haar twee ouer broers aangemoedig om wyd te lees en die gesin het weeksaande saam na die televisienuus gekyk. Op Sondae-aande het hulle vóór die Sondagaandfliek op die betaalkanaal, M-Net, saam na die ondersoekende nuusprogram Carte Blanche gekyk.
Sy is eers in graad 7 toegelaat om prente vir skooltake vanaf die internet af te trek, en moes tot dan tydskrifte en koerante gebruik het om dié take te illustreer. In die aanloop tot dié internetvergunning het sy óók haar take met die hand geskryf en uitgelê. Vandag het sy steeds ʼn spesiale plek vir Die Taalgenoot-tydskrif, nie nét omdat dit visueel só goed aangebied word nie, maar óók omdat die artikels en foto’s haar denke én hart raak.
Ten tye van haar studiereis het sy verskeie internskappe gedoen en gou tot die besef gekom dat sy ʼn natuurlike aanvoeling, en nuuskierigheid, vir harde nuusaangeleenthede het. Haar vermoede is bevestig ná sy en haar klasmaats die Pretoriase hooggeregshof besoek het as deel van ʼn Joernalistiek-uitstappie. Die feit dat sy boonop ʼn op-die-man-af-persoonlikheid het én haar nie deur suikerpakkiewaarhede laat beïnvloed nie, kom haar ook handig te pas in haar gekose beroepsveld.
Haar gróót deurbraak het gedurende haar finale jaar van studie in Augustus 2023 plaasgevind, toe haar eerste artikel as ʼn vryskutjoernalis in Rapport verskyn het. Dié artikel het oor seksuele vergrype by regse opleidingskampe gehandel. Sy het algaande méér artikels nagejaag, haar professionele netwerk uitgebrei en het in 2024 by Maroela Media aangesluit. ʼn Lewensafrigter help haar om die impak van moeilike stories en die emosionele impak daarvan te hanteer, want elke storie laat volgens Van der Watt ʼn spoor na. Sy oorweeg dit ook om verder in ʼn kriminologierigting te studeer ten einde haar vlak van verslaggewing verder te verdiep.
Die voorreg om stories te mag vertel
Op die vraag watter stories tot op hede al die grootste impak op haar gehad het, antwoord sy sonder twyfel dat die Joshlin Smith-verhoor bo-aan dié lys staan. “Sommige stories is net moeiliker om oor te vertel as ander,” meen Van der Watt en vertel dat sy reeds méér as 80 artikels oor dié vermiste dogtertjie van Middelpos met die kenmerkende blougroen-oë geskryf het.
Van der Watt het vir langer as twee maande in Saldanha gebly ten tye van dié hoëprofielverhoor wat selfs internasionale media-aandag geniet het. Dit was veral die impakverslae, besoeke aan Joshlin se grootmaakma, Natasha Andrews, en handelinge met die plaaslike Middelposgemeenskap wat haar sal bybly. Sy vertel dat ʼn groep vroue vanuit die gemeenskap elke dag sedert die begin van die verhoor op 3 Maart elke dat om 07:00 voor die gemeenskapsentrum, wat as hofgebou verklaar is, gebid het dat reg en geregtigheid sal geskied. Die vroue het ook vir die regter, die staatsaanklaers, die staatsgetuies en die mediaverteenwoordigers gebid. “Ek het nóg nooit so ʼn intense geloofsbelewenis in ʼn hofkonteks beleef nie. Almal het saamgebid dat Joshlin gevind kan word en dat die skuldiges aan die pen sal ry,” onthou Van der Watt.
“Dié hofsaak is amper verby (die verdediging moet nóg appelleer), maar daar is steeds méér vrae as antwoorde. Ek hoop dat ons eendag ʼn teken van Joshlin sal kry, ál is dit net ʼn liggaam om ter ruste te lê, én al neem dit nóg 25 jaar. Hierdie storie is lánk nie klaar geskryf nie,” sluit Van der Watt af.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.