Die klaskamer op die toekomsdrumpel – Só verryk digitale media en KI die leerervaring

Gepubliseer op: 24 Februarie 2025

Geskryf deur dr. Chris-Mari Le Hanie, ʼn senior dosent in: Opvoedkundestudies, en Monique Alberts, dosent: Professionele Studies, aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.

Digitale media en kunsmatige intelligensie (KI) het géén bekendstelling nodig nie – óók nie in die klaskamer nie. En hoewel dié tegnologiese vooruitgang nog vir sommiges in ʼn koue sweet laat uitslaan, kan die verrykende impak daarvan in die onderwysmilieu nie ontken word nie. Dit beïnvloed die manier waarop onderrig gegee word, die leerproses benader word én hoe daar na assesseringspraktyke gekyk word. Méér nóg vandag se leerders is nie net toeskouers in dié vooruitgang van tegnologie nie, maar aktiewe deelnemers.

Terwyl onderwyslui hierdie vooruitgang onomwonde moet omhels en vier, is dit belangrik om te besef dat hierdie toekomsgerigte hulpbronne nuwe uitdagings en verantwoordelikhede tot gevolg het. Hierdie gevolge is veral gesentreerd rondom aspekte van digitale geletterdheid en etiese oorwegings.

Digitale geletterdheid: ʼn Noodsaaklike toekomsvaardigheid

Digitale geletterdheid gaan nie net bloot oor die gebruik van toestelle nie, maar oor die vermoë om inligting krities te navigeer, te analiseer en te skep met behulp van digitale gereedskap. In die klaskamer beteken dit dat leerders die vaardighede moet ontwikkel om digitale tegnologieë verantwoordelik en doeltreffend te gebruik.

Leerders moet nie net hierdie inhoude kan verbruik nie, maar dit ook sinvol self kan skep en daartoe kan bydra. In die klaskamer stel digitale geletterdheid leerders in staat om toegang tot relevante inligting te verkry, internasionaal met eweknieë saam te werk en oorspronklike inhoud te genereer. Hierdie prosesse dra by tot die versterking van probleemoplossings- en kritiese denkvermoëns. Ten einde gehalte onderrig en effektiewe leer te bevorder, behoort digitale media aan die volgende beginsels te voldoen:

  • Kurrikulumverbondenheid

Digitale media moet relevant wees en ʼn sinvolle bydrae tot die kurrikulum lewer.

  • Leerderbetrokkenheid

Die digitale leeromgewing moet leerders aktief betrek en motivering bevorder.

  • Assesseringsmoontlikhede

Digitale leeromgewings moet beide informele en formele assesseringsmoontlikhede insluit.

  • Inklusiwiteit bevorder

E-leer moet inklusiewe praktyke ondersteun en voorsiening maak vir verskillende leerbehoeftes.

  • Innovasie

Die gebruik van innoverende en gepaste digitale benaderings is noodsaaklik vir effektiewe e-leer.

  • Deursigtig wees

Digitale leer moet duidelike leerdoelwitte, inhoud en leerervarings ondersteun.

Die veranderende krag van digitale media en KI

Die integrasie van digitale media en KI in die klaskamer het die potensiaal om die onderrig-en-leerproses beduidend te verander. Deur die gebruik van KI kan onderwysers leerervarings meer persoonlik maak en die leerbehoeftes van elke leerder beter aanspreek.

Byvoorbeeld: KI kan help om komplekse konsepte steeds verder te verduidelik, navorsing vir huiswerk te doen, en selfs om programmeertale soos Java aan te leer. Verder bevorder die gebruik van digitale media kreatiwiteit, samewerking en die ontwikkeling van noodsaaklike vaardighede. Deur leerders aan te moedig om digitale hulpmiddels op hul eie inisiatief te gebruik, ontwikkel onderwysers ʼn leerkultuur wat kritiese denke en probleemoplossing bevorder.

Die suksesvolle integrasie van KI en digitale media vereis egter ʼn strategiese en gebalanseerde benadering. Onderwysers, beleidmakers en tegnologie-ontwikkelaars moet saamwerk om die voordele van KI te benut en terselfdertyd die moontlike nadele te beperk. Deur samewerking kan KI die onderwys positief verander en verbeter, wat lei tot ʼn meer dinamiese en effektiewe leeromgewing.

Etiese oorwegings en uitdagings

Die integrasie van KI en digitale media in die onderwys moet as twee kante van dieselfde muntstuk gesien word. Aan die een kant bied dit die daadwerklike potensiaal om die onderwysproses positief te beïnvloed, terwyl dit egter aan die ander kant uitdagende etiese vraagstukke tot gevolg kan hê.

Neem die voorbeeld van die fiktiewe Juffrou De Bruin om te illustreer hoe hierdie kwessies in die werklike klaskamer gestalte aanneem:

Juffrou De Bruin glo in die krag van tegnologie om haar leerders se leerervaring te verryk. Toe haar skool gevolglik aankondig dat hulle KI en digitale media in die klaskamer gaan integreer, was sy opgewonde oor die moontlikhede. Sy het met nuuskierigheid begin om KI-gebaseerde leermiddels te verken en was beïndruk met die onmiddellike terugvoer wat hierdie stelsels kon bied. Leerders kon dadelik sien waar hulle foute gemaak het, en dit het hulle gehelp om vinniger te leer. Maar namate sy die nuwe tegnologie meer begin gebruik het, het sy ook besef dat daar etiese vraagstukke was wat nie geïgnoreer kon word nie.

Eendag, tydens ʼn personeelvergadering, het een van haar kollegas die kwessie van privaatheid en databeskerming geopper. Die KI-stelsels het groot hoeveelhede data oor die leerders versamel – van hul leerpatrone tot persoonlike voorkeure. Juffrou De Bruin het begin wonder oor hoe veilig hierdie inligting regtig was. Wat sou gebeur as daar ʼn data-oortreding is? Hoe kon sy seker wees dat haar leerders se persoonlike inligting beskerm word?

Sy het ook opgemerk dat nie al haar leerders dieselfde toegang tot digitale toestelle by die huis het nie. Sommige van hulle kon gemaklik met die aanlyn platforms werk, terwyl ander gesukkel het weens beperkte internettoegang of ʼn gebrek aan toestelle. Dit het haar laat besef dat die gebruik van KI die bestaande ongelykhede onder haar leerders kan vererger. Sy wou nie hê dat tegnologie ʼn hindernis moes wees nie – dit moes ʼn brug wees wat almal gelyke geleenthede bied.

Hierbenewens het sy gewonder oor haar eie rol as onderwyser. Soms het dit gevoel asof die KI-stelsel die onderrigwerk vir haar doen – dit het die lesse aangebied, die vrae gemerk en selfs voorstelle gegee vir verbetering. Juffrou De Bruin het haarself afgevra: Sal my leerders nog onafhanklik kan dink as hulle soveel op KI steun? Hoe kan ek die regte balans handhaaf tussen tegnologie en my eie rol as mentor en gids?

Nóg ’n uitdaging was die vraagstuk van plagiaat en akademiese integriteit. Een van haar mees gevorderde leerders, Pieter, het onlangs ʼn opstel ingedien wat verdag volwasse geklink het. Toe sy navraag doen, het hy skaam erken dat hy ʼn KI-hulpmiddel gebruik het om die opstel te skryf. Dit het haar laat besef hoe maklik dit geword het om KI-gegenereerde inhoud as eie werk in te dien. Sy het besef dat sy haar leerders moes leer oor etiese skryfpraktyke en die verantwoordelike gebruik van KI.

Uiteindelik het sy besef dat, alhoewel KI onmiddellike terugvoer kon bied, dit nie die empatie en begrip kon vervang wat sy as onderwyser aan haar leerders gegee het nie. Daar was oomblikke wanneer sy aanvoeling moes gebruik om te sien wanneer ʼn kind gesukkel het, selfs al het die KI-stelsel gesê alles is reg. Sy het geweet dat geen masjien ooit die menslike verbintenis wat onderrig so kragtig maak, sou kon vervang nie. Vasberade om hierdie uitdagings uit die weg te ruim, het Juffrou De Bruin by ʼn werkswinkel oor die etiese gebruik van KI en digitale media aangesluit. Sy het besef dat sy nie alleen was in haar bekommernisse nie en dat baie ander onderwysers dieselfde uitdagings in die gesig staar. Sy het geleer dat dit noodsaaklik is dat opvoeders, beleidmakers en tegnologie-ontwikkelaars saamwerk om riglyne en beleide te ontwikkel wat die verantwoordelike en billike gebruik van KI in onderwys verseker.

Met hernude vasberadenheid het sy besluit om nie net KI as ʼn hulpmiddel te gebruik nie, maar om dit op ʼn manier te gebruik wat regverdigheid, privaatheid en menslike verbinding bevorder. Uiteindelik het sy geweet dat tegnologie nooit haar passie en rol as opvoeder sou vervang nie – dit kon dit net versterk as dit reg gebruik word.

Riglyne vir doeltreffende implementering van KI en digitale media in die klaskamer

Die doeltreffende implementering van KI en digitale media in die klaskamer vereis ʼn strategiese benadering wat nie net tegnologiese vooruitgang omarm nie, maar ook die etiese en pedagogiese aspekte in ag neem.

Hier ʼn paar praktiese riglyne wat onderwysers en skole kan help om die potensiaal van hierdie tegnologieë optimaal te benut:

  • Doelgerigte integrasie as deel van ʼn omvattende pedagogiese benadering.
  • Opleiding en ondersteuning vir onderwysers ten einde nuwe tegnologie te verstaan en te bemeester.
  • Gelyke toegang tot tegnologie vir alle leerders.
  • Verantwoordelike datahanteringsprosesse.
  • Laat leerbehoeftes die toon aangee vir KI-inisiatiewe.
  • Bevorder kritiese denke deur analise aan te moedig.
  • Tref ʼn balans tussen tegnologie en menslike interaksie.
  • Evalueer en monitor die leerproses voortdurend.
  • Stimuleer etiese gebruike by wyse van bewusmaking.
  • Gebruik nuwe tegnologie as ʼn ondersteunende hulpbron en nie as die hoofbron van kennis nie.

ʼn Oproep tot aksie

Onderwyslui het die verantwoordelikheid om leerders effektief toe te rus met die nodige digitale geletterdheid en kritiese denke wat hulle nie net in die klaskamer nie, maar ook in die toekoms sal help.

Die Akademia et al.-kortkursus: Digitale media en kunsmatige intelligensie in die klaskamer, rus reeds ervare onderwysers, onderwysstudente en beginnerdosente toe met die vaardighede en strategieë wat benodig word om digitale media en KI doeltreffend in hul lesse te integreer. Dié aanlyn kortkursus vind op 3 Mei 2025 plaas.

Dr. Chris-Mari Le Hanie, senior dosent: Opvoedkundestudies, en Monique Alberts, dosent: Professionele Studies, meen digitale media en kunsmatige intelligensie (KI) verryk nie net die leerproses nie, maar maak leerders ook toekomsgereed.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.