Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

ʼn Resensie van die Akademia-gedenkboek

Gepubliseer op: 14 Oktober 2022

Geskryf deur APM Moen, die man wat hou van suksesverhale

Wanneer ʼn mens tien jaar lank aan ʼn projek van onbepaalde duur gewerk het, mag jy seker met reg ʼn oomblik stilstaan en, soos Janus die Romeinse god, terugkyk.

Soos hierdie gedenkboek toon, kan Akademia – wat op 20 April 2010 onder hierdie naam geregistreer is – se bestaan via Solidariteit (2002) en die Mynwerkersunie (1902) teruggespoor word. Dit het begin as ʼn droom van ʼn eie Afrikaanse, privaat universiteit wat onafhanklik van staat en politiek staan, en hierdie boek beskryf die stadiums van die verwesenliking van hierdie ideaal aan die hand van talle beduidende gegewens – statisties en menslik – wat die akademiese en geografiese groei van hierdie unieke hoëronderwysinstelling uitbeeld. Dit gee ook deur middel van insiggewende aanhalings ʼn oorsig van die ontwikkeling en implementering van die filosofiese onderbou van die inrigting, van belangrike momente in die groei van die poel van bestuurskennis, die uitbreiding van administratiewe kapasiteit en die fisiese uitbou van die fasiliteite.

Maar hierdie boek is nie ʼn stuk stowwerige argiefmateriaal nie. Die groot aantal denkers en drywers agter die ideale van hierdie instelling, waarvan baie nog aktiewe personeellede is, kom self aan die woord en verskyn ook in beeld. Wat in hierdie gedenkuitgawe veral sigbaar word, is die hegte samewerking tussen tientalle mense ten einde ʼn duidelik omlynde stel organisatoriese, didaktiese en kulturele doelwitte te verwesenlik en probleme gesamentlik aan te spreek.

Janus, na wie hier bo verwys is, het ook vooruit gekyk. En die boek beskryf dan ook Akademia se voorgenome uitbreidings, soos ʼn volwaardige kampus (vir 5 000 voor- en 2 000 nagraadse studente). Nuwe graadkursusse word ook voortdurend ontwikkel en hier bekendgestel.

Die beeldmateriaal in hierdie boek is omvattend. Die afgestudeerdes is almal daar, die dosente, die personeel agter die skerms, die fakulteite en die fasiliteite, en die studentelewe kom ook aan die beurt. Die uitleg en drukwerk is netjies en oorsigtelik en ʼn aanwins vir die koffietafel.

Die suksesverhaal wat hier vertel word gee uiteraard erkenning aan almal wat bygedra het tot die verwesenliking van ʼn kulturele, maatskaplike en akademiese prestasie, van stigters tot studente.

Maar dit dien ook as ʼn inspirerende voorbeeld van wat enige kulturele groep, hoe ook al gedefineer, kan regkry.

Al wat dit kos is toewyding.

Die Akademia-gedenkboek is beskikbaar op Die Winkel. Koop gerus jou kopie hier.

Die Akademia-gedenkboek vat die instelling se eerste tien jaar van klasgee saam in ʼn pragtige koffietafelboek.