ʼn Liefde vir taal word deur die gemeenskap blootgelê
Geskryf deur dr. Annelise de Vries, dosent in Opvoedkunde by Akademia en voorsitter van die Afrikaanse Taalraad
Ek is van kindsbeen af blootgestel aan die rykheid wat taal bied.
My ma, wat al vir meer as veertig jaar ʼn kleuterskooljuffrou is, het reeds in ons kinders se grootwordjare die waarde van stories in ʼn moedertaal (en ook in ander tale) besef. Sy het ons weekliks na Ermelo se dorpsbiblioteek geneem waar ons elkeen boeke kon kies. Sy het ons dan betaal vir elke boek wat ons gelees het wanneer ons agterna vir haar kon vertel waaroor die storie gehandel het, wie die karakters was en wat gebeur het.
My pa het ook ʼn bewustheid vir taal by ons as kinders gekweek as hy vertel het hoe hy as boorling van ʼn plaas in die Vryheid-distrik in KwaZulu-Natal gedink het Zoeloe is Engels. Toe die juffrou by die Katolieke skool waarin hy was (sy ma was ʼn Italianer en gevolglik ʼn Katoliek), met hom Engels gepraat het, het hy in Zoeloe teruggepraat. Ek onthou nog hoe hy my geleer het isele ligxumela emgwaqeni (die padda spring in die pad).
My ouma (aan vaderskant) het ons kinders weer leer tel in Italiaans en grootgemaak op spaghetti bolognese met basiliekruidpesto wat sy self gekweek en gemaak het. My pa sit hierdie tradisie baie getrou voort.
In graad een het juffrou Putter my liefde vir taal en meer spesifiek my moedertaal, aangewakker met Laerskool J.J. van der Merwe se graadeenkonsert in 1996. Ek onthou nog een van my spreekbeurte: “… kos sonder sout, proe soos hout”.
Die redenaarskompetisies by hierdie skool het ook bygedra tot kreatiewe denke in my moedertaal. Ek onthou nog die slotwoorde van een van my toesprake: “Volgende keer as ek in ʼn hysbak staan, gaan ek met bordkryt ʼn kring om myself trek en sê: ‘dis my persoonlike ruimte, niemand mag daarin kom nie’”.
In die laerskool het ons ook Zoeloe by mnr. Sakkie geleer. My maatjie, Nandi (ʼn baie gepaste naam veral vir die Zoeloe-klas) het my allerhande woorde geleer en my getroef om die woorde vir mnr. Sakkie te sê, ek het dan met groot ontsteltenis agtergekom dat sy my getruuk het en dat dit nie ʼn regte Zoeloe-woord is nie. Nietemin, dit het my taalbewustheid gekweek.
In die hoërskool, kry ek steeds onderrig in my moedertaal. Ek kry die geleentheid om aan talle kultuuraktiwiteite deel te neem, my liefde vir my moedertaal het in daardie jare nog meer gegroei. Ek het kreatief geraak in my taal en deur kommunikatiewe grense gebreek om die literêre waarde van my moedertaal te ontsluit. Daar het ek ook sport gedoen in my moedertaal. Ons het langs die netbalveld geskree: “hop, hop spinnekop, die bal het in die gat gehop” en my ouers het my aangemoedig in ons taal.
Op universiteit, steeds in my moedertaal, ontmoet ek vriende van verskeie moedertale. Ons vergelyk sêgoed in ons onderskeie tale en lag lekker vir mekaar. Ek word geïnspireer deur mense soos prof. Wannie, prof. Jak en, prof. Hans in die Afrikaans-Nederlandse klas en ook mister Pheto in die Engelse letterkundeklas het my soms hoendervleis gegee.
Ek onthou nog hoe trots ek op my alma mater was met die oprigting van die taaldirektoraat wat aktief die streek waarin die universiteit gesetel was, se drie tale (Afrikaans, Setswana en Engels) bevorder het. Dit was die toonbeeld van funksionele meertaligheid. Dit het my bygebly.
Gedurende my loopbaan as jong dosent, mediaskakelbeampte, navorser, weer dosent, en nog altyd – taalaktivis, het ek wonderlike mense ontmoet wat passievol is oor hulle eie tale. Dit het my gevoel van behoort in my eie taalgemeenskap bevestig maar ook ʼn liefde gegee vir mense wat in hulle eie taalgemeenskappe floreer.
Saans, tydens storietyd met my eie twee kleuters, lees ons altyd eerste in Afrikaans, waarna hulle dan kies; ʼn Nederlandse boek (my kinders se oupa aan vaderskant is ʼn Nederlander), ʼn Engelse boek, ek het selfs ʼn paar boeke in ander Suid-Afrikaanse inheemse tale, en het onlangs Vlaams en Portugees by gevoeg. Ek verstaan ook nie alles nie, maar dis wonderlik om te sien hoe my pas-twee- en amper-vyfjarige hulle taalarsenaal uitbrei. Hoe hulle oor karakters soos Talienkie Tandmuis, Hondje Snuf, Fred Bear, Nogwaya, De Leewen van Vlaanderen en Guga dink. Dit alles, omdat hulle eers hulle eie moedertaal ontsluit het.
Vandag help ek aktief om my eie taalgemeenskap op verskeie vlakke te bevorder, maar ek het ook ʼn tasbare betrokkenheid by ander gemeenskappe se tale.
Vanaand, juis met storietyd, lê ek en dink; dis die gemeenskap rondom my wat my liefde vir my moedertaal en my begrip vir ander se moedertale ontgin het – ʼn liefde vir taal word by die gemeenskap gekweek.
Hou aan leef of begin leef in jou moedertaal.