Die invloed van kragonderbrekings op die ekonomie

Deur dr. Sandra Adendorff, dosent in ekonomie en internasionale bestuur aan Akademia

As daar iets is wat almal in die land soms moedeloos maak, is dit kragonderbrekings; veral die onbeplande kragonderbrekings wat aan die toeneem is. Dit het nie slegs negatiewe gevolge vir die produktiwiteit van ieder en elk in die land tot gevolg nie, maar het ook ʼn negatiewe invloed op ekonomiese groei. ʼn Ontwikkelende land soos Suid-Afrika benodig uiteraard alle insette wat nodig is om ʼn ekonomie te stimuleer. Ongelukkig het ons kragreus, Eskom, nie genoeg kapasiteit om aan die land se energiebehoeftes te voorsien nie en is beurtkrag aan die orde van die dag.

Die Covid-19-pandemie en gepaardgaande grendelmaatreëls het almal onkant betrap en die ekonomiese situasie vererger steeds. Eskom se onvermoë om genoegsame krag op te wek is een van die groot strukturele beperkings op ekonomiese groei. Daarbenewens verkeer die staatskas onder druk en plaas dit meer druk op staatsondernemings soos Eskom om te presteer sonder om van hierdie staatskas afhanklik te wees. Alhoewel daar verskeie projekte op die tafel is, ontbreek die deurvoering daarvan en byt elke individuele verbruiker die spit af.

Kragonderbrekings het ʼn ernstige impak op die ekonomie aangesien dit groei negatief beïnvloed. Verder verhinder dit besighede om te investeer en uit te brei. Aspekte van die ekonomie wat negatief beïnvloed word, is verlies aan ekonomiese aktiwiteit, afname in ekonomiese groei en verlies aan investering in die land. Volgens prof. Jannie Rossouw van die Universiteit van die Witwatersrand het beurtkrag ongeveer een persent se afname in ekonomiese groei tot gevolg gehad. Daarvolgens kon die ekonomie ongeveer dertien persent groter gewees het as wat dit tans is as gevolg van kragonderbrekings. Indien die verlies aan investering dieselfde impak het, beteken dit dat die ekonomie 25 persent groter kon wees as dit nie vir beurtkrag was nie, en gevolglik het die land R1 275 biljoen verloor as gevolg van beurtkrag. Om dit in konteks te sit: nominale bruto binnelandse produk (BBP) was in 2019 R5,1 biljoen.

Die WNNR het bevind dat 2020 die ergste jaar vir beurtkrag nóg was. Onlangse navorsing deur die WNNR toon dat beurtkrag vir 859 uur van die jaar plaasgevind het (9,8%) ten spyte van ’n verlaging in die vraag tydens die nasionale Covid-19-inperking. Hierdie voortgesette toename van beurtkrag word hoofsaaklik aan onbeplande onderbrekings, ineenstortings en gebrek aan instandhouding toegeskryf.

Bron: WNNR, 2020.

Strategies maak dit sin om ou kragstasies met groenkragaanlegte te vervang deur onafhanklike kragprodusente wat gedeeltelik deur die privaatsektor gefinansier word. Die regering het wel sulke planne, maar dit gaan moeilik wees om in die huidige omgewing van korrupsie en wanbestuur beleggers te oorreed om in hierdie projekte te belê.

Intussen is veral myne moedeloos met Eskom se beurtkrag en het hul onlangs versoek om eie kragopwekking na 50 megawatt (MW) te verhoog, waar hulle tans tot 10 MW beperk is. Daarbenewens is daar ook private maatskappye en munisipaliteite wat self krag wil opwek.

Probleme wat ons in Suid-Afrika ervaar het die vraag na alternatiewe energie wat omgewingsvriendelik is, verhoog. Dit is belangrik om op die verskillende soorte te let – biomassa, sonkrag, wind, gety en geotermiese krag – en dat elkeen sy eie voordele en nadele het. Daarby mag munisipaliteite en ander kragverbruikers nou in beginsel elektrisiteit goedkoper by onafhanklike kragprodusente koop.

Die staat het hom tot die ondersteuning van hernubare energiebronne verbind om die tekort aan energie te ondersteun en firmas kan nou vir die voorsiening van hernubare energie tender. Ongelukkig is daar ook addisionele risiko’s soos klimaatsveranderinge en strukturele ekonomiese hervormings nodig om volhoubare energie te verseker.

Alhoewel Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, inligting met die oog op ʼn kernboukragprogram van 2500 MW gepubliseer het, is daar hoop dat die tenders vir alternatiewe energiebronne suksesvol bestuur sal word. Die aankondiging van president Cyril Ramaphosa dat die drempel vir selfopwekking sonder ʼn lisensie van 1 MW na 100 MW verhoog word, is baie positief en ons hoop dat dit vinnig amptelik in werking sal tree.

Verwysings

Cornelissen, C. 2021. Aankondiging oor kragopwekking wyd verwelkom. https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/aankondiging-oor-kragopwekking-wyd-verwelkom/ [Datum van gebruik: 10 Junie 2021].

CSIR. 2021. CSIR Releases Annual Power Sector Statistics Highlighting the Role of All Power Generating Technologies. https://www.csir.co.za/csir-releases-annual-power-sector-statistics [Datum van gebruik: 12 Maart 2021].

CSIR. 2021. CSIR Creates a Guide for South Africa’s Green Economy. https://www.csir.co.za/csir-creates-guide-south-africa%E2%80%99s-green-economy [Datum van gebruik: 10 Junie 2021].

McKane, J. 2021. Slegte nuus vir beurtkrag – Eskom in ernstige moeilikheid. http://www.netwerk24.co.za [Datum van gebruik: 12 Maart 2021].

McKane, J. 2021. Eskom CEO gives bleak outlook for load-shedding in South Africa. https://mybroadband.co.za/news/energy/389502-eskom-ceo-gives-bleak-outlook-for-load-shedding-in-south-africa.html [Datum van gebruik: 2 Maart 2021].

NERSA. 2019/2020. National Energy Regulator of South Africa, Annual Report 2019/2020.

IPP RENEWABLES, 2021. Independent Power Producer Procurement Programme. https://www.ipp-renewables.co.za [Datum van gebruik: 10 Junie 2021].

Staff Writer. 2021. Load-shedding cost South Africa over R1 trillion – Economics Professor. https://mybroadband.co.za/news/energy/390058-load-shedding-cost-south-africa-over-r1-trillion-economics-professor.html [Datum van gebruik: 2 Maart 2021].

Vorige
Volgende

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

REGISTREER VANDAG

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE VAN AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE

 

REGISTREER VANDAG