Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Gereelde vrae en antwoorde

Klik hier vir ʼn volledige uiteensetting van ons progamaanbod.

Akademia et al., gesetel onder die Akademia-vaandel, is in 2022 gevestig om praktykgerigte kortkursusse met ʼn akademiese onderbou aan individue en/of ondernemings te bied. Dié kortkursusse word aangebied deur uitgesoekte akademici en kundiges en word verpak om te fokus op die behoeftes van die werksplek asook akademiese verdieping. Klik hier vir die nuutste kortkursusse.

Programme se tydsduur verskil. Soek op die Akademia-webblad by Inligting > Kwalifikasies na die kwalifikasie waarin jy belangstel en klik dan op die ‘Tydsduur’-opsie onderaan die bladsy.

Akademia bied jaar- en semestermodules aan. Raadpleeg gerus die jaarboek vir meer inligting. Klik hier.

Daar word deurlopend ondersoek gedoen om studente se behoeftes aan akademiese programme te bepaal. Akademia beoog om in die toekoms ʼn volledige programaanbod oor ʼn verskeidenheid fakulteite aan te bied. Ons volg egter ʼn deeglike ontwikkelingsproses wat stelselmatig uitgerol word, en alle programme moet ook eers deur die Raad op Hoër Onderwys geakkrediteer word. Besoek ons webblad en teken in om die Akademia-nuusbrief te ontvang om dadelik in kennis gestel te word van nuwe kwalifikasies.

Daar word voortdurend navorsing gedoen om die behoefte rakend die uitbreiding van sentrums te bepaal. Akademia het ʼn e-leeropsie om studente te akkommodeer wat nie naby Akademia-sentrums geleë is nie. Klik hier vir meer inligting daaroor.

Stuur ʼn e-pos aan jou betrokke programadres om van sentrums te verskuif.

Klik hier vir meer inligting oor opsies vir koshuisverblyf naby die Centurion-kampusse. Voornemende studente kan in die studieaansoekproses aandui of hulle in verblyf belangstel.

Akademia is ’n privaat verskaffer wat geakkrediteerde universiteitsvlakkwalifikasies in Afrikaans aanbied. Die Akkreditasiekomitee van die Raad op Hoër Onderwys is die liggaam wat alle kwalifikasies van openbare universiteite en privaat verskaffers in Suid-Afrika akkrediteer, wat dus beteken dat Akademia se kwalifikasies aan dieselfde standaarde as dié van nasionale universiteite gemeet is.

Alle Akademia-kwalifikasies is volgens die riglyne wat deur die Raad op Hoër Onderwys vasgestel is geakkrediteer. Alle privaat hoëronderwysinstellings en openbare universiteite moet aan hierdie riglyne voldoen.

Geen hoëronderwysinstellings of openbare universiteit kan aandui dat hulle kwalifikasies internasionaal geakkrediteer word nie, aangesien elke land ’n kwalifikasiereguleerder het wat kwalifikasies vanaf ander lande evalueer. Lande se wetgewing met betrekking tot sekere beroepe verskil ook tot so mate dat daar soms oorbruggende opleiding gedoen moet word. 

Die BCom (Bestuursrekeningkunde)-graad is ook volkome in pas met CIMA se vereistes, wat bewys dat Akademia sover moontlik verseker dat elke kwalifikasie belyn is vir en erken word in die ter sake bedryf.

Akademia is ’n geregistreerde hoëronderwysinstelling en kan daarom nie skoolvakke aanbied nie. Skoolvakke kan deur die volgende instansies verwerf word:

Let wel, die vakke geneem en punte behaal sal bepaal tot watter kwalifikasie jy toelating sal kry.

Studente wat aan Akademia studeer word Fonties genoem. Hierdie eienaam is afgelei uit ons leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne. Vrylik vertaal beteken fontes ook fonteine. Om ons studente Fonties te noem is dus nie bloot net ʼn afleiding van die naam van die instelling nie, maar dra ook betekenis. Soos goeie fonteine standhoudende skoon water gee aan die omgewing daarvan, is die ideaal dat Akademia-studente (Fonties) só sal wees vir hul gemeenskap

Akademia bied nie oorbruggingskursusse aan nie. Indien jy nie aan die toelatingsvereistes van een van ons grade voldoen nie, maar wel graad 12 geslaag het en aan die toelatingsvereistes van ’n hoër sertifikaat of diploma voldoen, kan jy vir die Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde of die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie (met spesialisasie in Regs- of Projekadministrasie) gekeur word. Ná suksesvolle voltooiing van ʼn hoër sertifikaat kan studente aansoek doen vir ʼn ooreenstemmende graadkwalifikasie.

Akademia se aansoeke vind aanlyn via die “Doen aansoek”-portaal plaas. Laat sowat 20 minute vir die aansoekproses toe.

Stap 1 Skep ʼn profiel

Hierdie proses vind slegs een keer plaas. Klik op “Teken aan” en dan op “Skep profiel”.

Stap 2 Voltooi die inligting soos versoek, en skep ʼn wagwoord wat aan die volgende vereistes voldoen:

  • Moet ʼn hoofletter bevat
  • Moet kleinletters bevat
  • Moet ʼn syfer bevat
  • Moet ʼn spesiale karakter (– ! @ # $ % & *) bevat
  • Moet in totaal ten minste agt karakters bevat

Stap 3 Klik op “Skep my profiel”

Stap 4 Voltooi die persoonlike inligting en kies “Stoor”.

Stap 5 Klik op “My aansoeke”.

Stap 6 Klik op “Skep aansoek”.

Stap 7 Voltooi die persoonlike inligting wat gevra word en klik op “Stoor”.

Stap 8 Voltooi al die velde en heg die nodige dokumente aan.

Stap 9 Onthou om aan die einde op “Dien aansoek in” te klik.

Indien jy uitteken voordat al die inligting voltooi is, kan jy weer op ʼn latere stadium by jou inteken en die volgende stappe volg:

  • Kies “Teken aan” by die “Doen aansoek” skakel op Akademia se webblad.
  • Voltooi die inligting.
  • Kies dan “Teken aan”.
  • Klik op “My aansoeke”.
  • Klik op die afpyltjie aan die regterkant en klik “Voltooi aansoek”.
  • Jy kan dan voortgaan en jou aansoek voltooi.


Om jou aansoekstatus te volg, teken in en besigtig die volgende onder “Aansoekstatus”:

Aansoek – Dit beteken dat jou aansoek nog nie ingedien is nie.

Onthou om op “Dien aansoek in” te klik sodat jou aansoek ingedien kan word

Die ander fases van die aansoekproses:

Keuring – Tydens hierdie fase word jou aansoek voorberei om aan die keuringspaneel voorgelê te word.

Indien die dokumente nie korrek is nie sal jy ʼn e-pos ontvang wat dit aandui. Jy kan enige tyd inteken en die dokumente gaan regstel. Klik “Volgende” onderaan die aansoek en volg die stappe tot by die foutiewe/ontbrekende dokumente.

Onthou om weer op “Dien aansoek in” te klik.

Registreer – jou aansoek is afgehandel

Volg die stappe om weer in te teken en klik dan op die “Studeer by Akademia” dokument. Volg die instruksies in die dokument om jou Bevestiging van Registrasie en Studentekaart te vind.

  • Kies “Teken aan” by die “Doen aansoek” skakel op Akademia se webblad.
  • Voltooi die inligting.
  • Kies dan “Teken aan”.


Voorlopig
– Voornemende studente wat tans in graad 12 is sal hierdie status sien wanneer hulle voorlopig goedgekeur is. Indien jy hierdie status sien, maar nog nie jou voorlopige goedkeuringsbrief ontvang het nie, stuur asb. ʼn e-pos na registrasie@akademia.ac.za.

Onvolledig – Hersien jou aansoek. Die dokumente wat tydens jou aansoek ingedien is, is foutief; lees gerus die e-pos wat in dié verband gestuur is. Indien jy nie die e-pos ontvang het nie, kyk asb. in jou gemorsposlêer vir ʼn e-pos wat vanaf stelsel@akademia.ac.za gestuur is.

Navrae of probleme kan gestuur word na registrasie@akademia.ac.za

Toelatingsvereistes vir graadstudies

Toelatingsvereistes vir elke kwalifikasie verskil. Soek op die Akademia-webblad by Inligting > Kwalifikasies na die kwalifikasie waarin jy belangstel en klik dan op die ‘Toelatingsvereistes’-opsie onderaan die ter sake bladsy.

Studente wat reeds matriek behaal het
  • Omvattende CV
  • Gesertifiseerde afskrif van identiteitsdokument
  • Gesertifiseerde afskrif van Nasionale Senior Sertifikaat of staat van uitslae deur Umalusi uitgereik. Verwys gerus na die dokument vir die verskil tussen die Staat van Uitslae en die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS). Indien jy nie tans in besit van jou NSS is nie, moet jy asb. jou skool kontak, of aansoek doen vir ʼn heruitreiking by die Departement van Onderwys.
  • Gesertifiseerde afskrifte van enige naskoolse kwalifikasies indien van toepassing
Tans graad 12-student
  • Gesertifiseerde afskrif van identiteitsdokument
  • Jongste graad 11- of 12-punte (soos van toepassing)

Jy moet die Departement van Basiese Onderwys kontak. Hiermee die kontakbesonderhede:

  • Nasionale kantore: 012 312 5845/6/7
  • Oos-Kaap: 043 604 7709/73
  • Vrystaat: 051 404 8000
  • Gauteng: 011 355 0588
  • KwaZulu-Natal: 031 327 0538/0331
  • Limpopo: 015 290 7747/7830
  • Mpumalanga: 013 766 5807
  • Noord-Kaap: 053 839 6585
  • Noordwes: 018 384 3100/51
  • Wes-Kaap: 021 467 2483

’n Student wat reeds vir ’n kwalifikasie by ’n ander hoëronderwysinstelling ingeskryf was, mag vir ooreenstemmende, geslaagde module(s) aansoek om krediete doen. Indien die krediete toegestaan word, sal die student vir die soortgelyke module(s) vrystelling kry.

MEER INLIGTING

 

Die module is deel van ’n goedgekeurde kurrikulum wat deur die Raad vir Hoër Onderwys geakkrediteer is. Dit is dus in ooreenstemming met soortgelyke kurrikula by openbare universiteite. Die universiteit waarby aansoek om krediete gedoen word, het egter nog die reg om self te bepaal of hulle dit gaan toeken. Elke aansoek word op eie meriete beoordeel.

Stuur ʼn e-pos aan jou betrokke programadres jou registrasie te kanselleer.

BEPALINGS EN VOORWAARDES

Stuur ʼn e-pos aan jou betrokke programadres om modules te staak.

BEPALINGS EN VOORWAARDES

ʼn Minimum van drie modules per jaar moet geneem word, behalwe by die Gevorderde Diploma in Projekbestuur, waar al die modules in een jaar voltooi moet word.

Kandidate wat beskik oor ʼn internasionale skoolverlatersertifikaat moet ʼn sertifikaat van gelykwaardigheid of vrystellingsertifikaat van USAf bekom vir toelating tot die instelling. Alle buitelandse kwalifikasies wat deur aansoekers verwerf is en wat hulle wil gebruik vir toelating tot nagraadse studies moet deur SAKO (Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid, bekend as SAQA) geëvalueer word. Studente kan hierdie aansoeke elektronies op die SAKO-webtuiste doen. Studente wat buitelandse skoolverlaterskwalifikasies verwerf het, moet dit by USAf indien vir evaluasie voordat hulle aansoek om studies by Akademia doen. Voornemende studente wat GED-kwalifikasies (General Education Diploma) ná Desember 2019 verwerf het, moet ook by SAKO aansoek om ’n ekwivalente sertifikaat doen.

Klik hier vir ʼn oorsig van elke program.

Op elke program-bladsy is inligting beskikbaar oor wat jy met die kwalifikasie kan doen. Soek op die Akademia-webblad by Inligting > Kwalifikasies na die kwalifikasie waarin jy belangstel.

Studiemateriaal

’n Lys van handboeke word aan elke student verskaf. Dit is die student se eie verantwoordelikheid om hierdie handboeke te bekom.

Bywoning van kontaksessies

Akademia se onderrigleermodelle is sodanig dat daar kontaksessies op ’n gereelde grondslag plaasvind. Die doel van hierdie kontaksessies is om die student deur die leerinhoud te begelei, om dit sodoende makliker te bemeester. Die kontaksessies word deur uitgesoekte vakkenners aangebied. Vir die nauurse onderrigleermodel word die kontaksessies regstreeks vanaf die Akademia-ateljee in Centurion na ’n landswye netwerk van studiesentrums uitgesaai. Studente wat via e-leer studeer, woon kontaksessies deur middel van Microsoft Teams by. Kontaksessies vir die voltydse kontakmodel by die Centurion-kampus is ook verpligtend.

Bykomende hulpbronne

Die Spens bied aan elke student ’n eie plek waar alle moontlike beskikbare inligting eie aan die student gepubliseer word. Studente kan dus hul punte, klasrooster en enige ander tersaaklike inligting op die Spens kry en ook daar met hul dosente kommunikeer. Verder dien die Spens ook as leerondersteuningstelsel en digitale biblioteek, waar jy toegang tot navorsingsdatabasisse, ekstra leeswerk en ander akademiese hulpbronne sal kry.

Studente-ondersteuning

Hoewel daar van die student verwag word om onafhanklik te studeer, is begeleiding en ondersteuning tydens studie vir Akademia baie belangrik. Behalwe vir die interaktiewe kontaksessies met dosente, kan akademiese personeel ook binne die gepubliseerde spreekure telefonies en per e-pos bereik word.

Bywoning van kontaksessies is verpligtend en ’n noukeurige bywoningsregister sal bygehou word.

Vir studies by Akademia is dit verpligtend dat studente toegang tot redelike internet- en skootrekenaarfasiliteite moet hê.

Let op die volgende minimum vereistes ten opsigte van die tegniese spesifikasies van ʼn skootrekenaar:

  • ʼn Core i3-, i5- of i7-verwerker of soortgelyk
  • 8 GB RAM of meer
  • 20 GB beskikbare hardeskyfspasie
  • SSD word sterk aanbeveel
  • Werkende webkamera
  • Werkende mikrofoon
  • Nuutste weergawe van Google Chrome, wat ook bygehou moet word

Let op die volgende minimum vereistes ten opsigte van die internettoegang:

  • Internetspoed van ten minste 1,5 Mbps aflaaispoed en 1 Mbps vir oplaaispoed

Ander vereistes:

  • toegang tot ʼn drukker
  • toegang tot ʼn skandeerder
  • Proctorio sagteware moet op rekenaar geïnstalleer word
  • MS Office-sagteware lisensie
  • Oorfone

Die onderstaande kategorieë van verskonings kan aanvaar word. Dit is die student se verantwoordelikheid om die verskoning op die Spens in te dien en die stawende dokumentasie op te laai, asook datums met verwysing na watter kontaksessies nie bygewoon is/gaan word nie.

Mediese rede: Doktersbrief van ’n geregistreerde mediese diensverskaffer (geldig vir die student en naasbestaandes).

Werksverpligtinge: Getekende brief van werkgewer op ’n amptelike briefhoof.

Familieverpligtinge: Sterftes van geliefdes: met begrafnisbrief. Troues: Kaartjie/uitnodiging.

Die Spens is die leerondersteuningstelsel en digitale biblioteek waardeur alle navrae, klasnotas, ekstra leeswerk en akademiese artikels, klasopnames, afkondigings, ensovoorts gelaai word. Alle akademiese kommunikasie vind deur die Spens plaas.

Selfassessering

Selfassessering geskied deur middel van selfassesseringsaktiwiteite in jou handboek, vrae op die Spens en addisionele opdragte soos deur dosente gekommunikeer. Jou aantekeninge en antwoorde op die aktiwiteite sal toon oor watter kennis, vaardighede en vermoëns jy beskik. Punte word toegeken vir selfassessering en dit tel vir jou finale punt in die module.

’n Student mag meerkeuseklastoetse met ’n skootrekenaar of tablet aflê, maar dit is die student se verantwoordelikheid dat die toestel gelaai en in ’n werkende toestand is.

Formatiewe assessering

Formatiewe assessering is die deurlopende assessering in jou module wat punte tel en in berekening gebring word vir jou finale punt vir die module. Formatiewe assessering geskied tydens die onderrig- en leerproses deur middel van verpligte werkopdragte en klastoetse.

Werkopdragte

  • Daar is werkopdragte in elke module.
  • Sperdatums word deur die jaarprogram bepaal en word aangedui in die werkopdrag en die jaarbeplanner.
  • Geen uitstel word vir werkopdragte toegestaan nie.
  • Werkopdragte tel saam 10% van die finale punt.
  • ’n Student moet 50% behaal om ’n werkopdrag te slaag.
  • Terugvoer en die memorandum van alle opdragte word deur die dosent op die Spens aan die student gekommunikeer.

Toetse

  • Daar is toetse per module ter voorbereiding van eksamenomstandighede.
  • Toetse word by studiesentrums afgelê.
  • Geen uitsteltoets sal aan ’n student toegestaan word indien toetsgeleenthede gemis word nie. ’n Student kwalifiseer slegs vir ’n siektetoets met die indien van ’n geldige mediese sertifikaat. Sodanige aansoek en bewys moet binne 48 uur na die betrokke toets op die Spens gelaai word onder die afdeling “Siektetoets”. Geen verskonings word aanvaar indien ’n student ’n siektetoets nie kan skryf nie.
  • ’n Student moet 50% behaal om ’n toets te slaag.


Alle werkopdragte en toetse (formatiewe assessering) wat voor die relevante sperdatum ingedien word, sal nagesien word en bydra tot die kumulatiewe jaarpunt vir die module.

Summatiewe assessering

Summatiewe assessering is die finale assessering in die module. Dit geskied deur middel van skriftelike eksamenvraestelle vir alle hoër sertifikaat- en graadprogramme. By die Gevorderde Diploma in Projekbestuur word ’n omvattende portefeulje, wat deur die loop van die jaar saamgestel moet word, ter summatiewe assessering ingedien.

Eksamen

’n Student moet ’n subminimum van 40% in die eksamen behaal, ongeag of die jaarpunt en/of finale punt 50% of meer is, om die module te slaag.

’n Student moet ’n finale punt van 50% behaal om ’n module te slaag, met inagname van bogenoemde punte.

Eksamenvraestelle kan uit die volgende bestaan: meerkeusevrae, kortvrae, langvrae, gevallestudies, praktiese toepassings ens.

Finale eksamenpunt

Die finale punt word soos volg bereken:

40% jaarpunt (formatiewe assessering) + 60% eksamenpunt

Hermerkproses

Aansoek om hermerk en bewys van betaling van die administrasiefooi hiervoor (R350) moet binne twee dae na die vrystelling van finale punte onder die afdeling “Hermerk en aanvullende eksamens” op die Spens gelaai word. Die hermerkpunt wat die student ontvang word gesien as die finale eksamenpunt vir die module, ongeag of dit hoër of laer as die oorspronklike punt is.

Aanvullende eksamens

Aanvullende eksamens bestaan uit die volgende.

Hereksamen

  • Hereksamens word gemerk tot ’n totaal van 50% om te slaag. Die jaarpunt en/of die eksamenpunt word nie in ag geneem om die slaagpunt te bereken nie. Die hereksamenpunt is die finale punt wat behaal word vir module.
  • Alle hereksamens vind aan die einde van die akademiese jaar plaas en handel oor die totale module-inhoud.
  • Aansoek vir ’n hereksamen word op die Spens gedoen.
  • Sou ’n student ’n hereksamen moet skryf, sal dit op die akademiese rekord aangedui word. ’n Administratiewe fooi van R350 per hereksamen moet binne twee dae na die vrystelling van finale punte betaal word, tesame met die bewys van betaling van die administratiewe fooi en ’n afskrif van die akademiese rekord wat voor aanvang van die hereksamen op die Spens gelaai word onder die afdeling “Hermerk en aanvullende eksamens”.

Siekte-eksamen

  • ’n Student kwalifiseer slegs vir ’n siekte-eksamen met die indien van ’n geldige mediese sertifikaat. Sodanige aansoek en bewys moet binne 48 uur ná die betrokke vraestel op die Spens gelaai word onder die afdeling “Hermerk en aanvullende eksamens”.
  • Geen verskonings word aanvaar indien ’n student ’n siekte-eksamen nie kan skryf nie. Die student sal die module in die volgende akademiese jaar moet herhaal.

Spesiale eksamen

  • ’n Student kwalifiseer slegs vir ’n spesiale eksamen wanneer die betrokke module die enigste module is wat uitstaande is om die kwalifikasie te voltooi. Die student moes reeds vir die module geregistreer wees en moes ’n jaarpunt verwerf het.
  • Spesiale eksamens word gemerk tot ’n totaal van 50% om te slaag. Die jaarpunt word nie in ag geneem om die slaagpunt te bereken nie. Die punt wat die student in die spesiale eksamen behaal, sal die finale punt vir die module wees.
  • Indien ’n student ’n spesiale eksamen druip, moet die student herregistreer vir die module.
  • Sou ’n student kwalifiseer vir ’n spesiale eksamen, sal dit op die student se akademiese rekord aangedui word. ’n Administratiewe fooi van R350 moet betaal word en bewys van betaling moet tesame met ’n afskrif van die akademiese rekord op die Spens gelaai word onder die afdeling “Hermerk en aanvullende eksamens”.
  • Werkopdragte Word deur betrokke dosent bepaal.
  • Toetse  Elektroniese toetse se punte is dadelik op die Spens beskikbaar.  Handgeskrewe toetse se punte word ongeveer twee weke na die laaste toetsdatums op die Spens beskikbaar gestel.
  • Eksamen  Punte word ongeveer twee weke na die laaste eksamendatum gepubliseer.
  • Aanvullende eksamen (her- en siekteeksamen) – Punte word ongeveer ’n week na die laaste aanvullende eksamendatum gepubliseer.

Studente is verantwoordelik vir die aankoop van handboeke vanaf enige verskaffer van hulle keuse. Akademia het Wize Books as voorkeurverskaffer van studente se handboeke en ander studiemateriaal aangestel. Wize Books bied spesiale aanbiedings vir Akademia-studente en lewer landwyd in Suid-Afrika af. Geregistreerde studente ontvang outomaties ʼn e-pos vanaf Wize Books met intekenbesonderhede tot die platform. Hier verkry studente die pasgemaakte versameling voorgeskrewe handboeke vir die modules waarvoor hulle geregistreer het. Die volledige handboeklyste word ook onder die Administrasie-portaal op die Spens beskikbaargestel.

Alle studente kry dieselfde geleentheid om elektronies met dosente te kommunikeer, geen studente mag dus bevoordeel word deur persoonlik met ’n dosent in kontak te tree nie.

Klagtes:

  • Vakinhoud – kontak betrokke dosent
  • Programinhoud – kontak betrokke programkoördineerder

Studente moet hulle studentekaart vanaf die Studenteportaal aflaai en dit saamneem na die studiesentrum of lokaal, waar dit ingeskandeer word. E-leerstudente moet met hulle e-posadres vir Akademia-studente via Teams inteken.

Stuur ʼn e-pos aan die betrokke programadres waarvoor jy geregistreer is om jou versoek aan die Eksamenkomitee voor te lê.

Akademia bied tans nie meesters- of doktorale studies aan nie.

Daar word wel diplomas aangebied: Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde, sowel as die Nagraadse Diploma in Belasting. Nog programme vir persone wat reeds kwalifikasies verwerf het, is BComHons (Ondernemingsbestuur), die Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en VOO-onderwys) en Gevorderde Diploma in Projekbestuur.

Akademia bied ’n verskeidenheid hoëronderwyskwalifikasies aan om jou loopbaan te bevorder. Klik hier vir die volledige programaanbod.

Toelatingsvereistes verskil vir elke kwalifikasie. Soek op die Akademia-webblad by Inligting > Kwalifikasies na die kwalifikasie waarin jy belangstel en klik dan op die Toelatingsvereistes-opsie onderaan die ter sake bladsy.

Akademia is ʼn niewinsgewende hoëronderwysinstelling en bied daarom nie studiebeurse of -studielenings aan nie. Studente wat oor onvoldoende fondse beskik kan tydens die studieaansoekproses van Akademia aandui of hulle vir finansieringsopsies wil aansoek doen. Meer inligting sal per e-pos aan die persone wat belangstelling tydens die aansoekproses aangedui het gestuur word.

 

Bank: FNB
Rekeningnaam: Akademia
Rekeningtipe: Tjekrekening
Rekeningnommer: 62333881143
Tak: Centurion (261550)

Gebruik studentenommer as verwysing

Geen aansoekgelde is terugbetaalbaar indien studies gekanselleer word nie. Alle studiekoste is onderhewig aan ʼn jaarlikse prysverhoging. Programkoste sluit geen hand­boeke in nie.

Let daar op dat ʼn nieterugbetaalbare registrasiebedrag van R3 000 vir die nauurse afstandsmodel en R9 500 vir die voltydse kampusmodel by alle fooie ingesluit is.

Klik hier vir die afbetalingsopsies.

Elke program se studiekoste verskil. Studiekoste kan ook verskil namate studente meer of minder modules per jaar neem. Soek op die Akademia-webblad by Inligting > Kwalifikasies na die kwalifikasie waarin jy belangstel en beweeg dan af op die bladsy na die ‘Ander inligting’-opsie vir inligting oor die bepaalde program se kostes.

Solidariteit-lede ontvang ʼn omvattende gesubsidieerde opleidingsvoordeel by Akademia vanaf 2025. Alle voordele is onderhewig aan Solidariteit se bepalings en voorwaardes. Klik hier vir meer inligting.

Akademia se voltydse kampusmodel bied aan studente die geleentheid om bedags vanaf 08:00 tot 17:00 klas te draf op onderskeidelik die Gerhardstraat- en Leriba-kampus. Dosente is fisies in die klas teenwoordig, terwyl die bestaande leerbestuurstelsel (die Spens) steeds leerondersteuning aan studente bied.

Die Gerhardstraat-kampus is in Die Hoewes in Centurion binne loopafstrand van die Gautrein-stasie geleë, terwyl die Leriba-kampus in Clubview, Centurion, geleë is. Klik hier vir die presiese adres.

Akademia beoog om teen 2026 die voltydse kampusmodel na die Wes-Kaap uit te brei. Die voorgestelde kampus sal studente nie net toegang bied tot Akademia se vyf dinamiese fakulteite nie, maar ook tot ʼn bruisende studentelewe. Dit word voorsien dat die voorgestelde kampus in die driehoek tussen die noordelike voorstede, Stellenbosch en die Paarl sal wees. Lees meer hier onder Toekomsmusiek.

Kwalifikasies op die voltydse kampusmodel word vanaf eerstejaarmodules stelselmatig uitgerol. Studente wat modules op die nauurse afstandsmodel voltooi kan ʼn spesiale aansoek rig om oor te skakel na die voltydse kontakmodel, mits die module(s) reeds op die laasgenoemde model aangebied word. Stuur ʼn e-pos aan registrasie@akademia.ac.za vir meer inligting.

Die kampusse in Centurion dien as die tussentydse stap terwyl beplanning en ontwikkeling van ʼn omvattende residensiële kampus voortgaan. Die oogmerk is om 5 000 voorgraadse studente op hierdie kampus te akkommodeer.

Daar is beperkte aantal koshuisverblyf beskikbaar vir studente wat voltyds op een van die kampusse studeer. Daar is twee manskoshuise, asook twee dameskoshuise. Klik hier vir meer inligting of stuur ʼn e-pos na koshuisverblyf@akademia.ac.za.

Die kostes vir elke program is onder programinligting op die betrokke kwalifikasie se webblad beskikbaar. Daar is wel ʼn kosteverskil omdat insette vir die twee modelle verskil.

ʼn Namibiese student moet aansoek doen vir ʼn studiepermit by die Suid-Afrikaanse Ambassade in Windhoek indien hulle op die voltydse kontakmodel in Centurion wil studeer.

Daar is nie tans enige vervoerdienste vir Akademia-studente vanaf die kampusse na die koshuise, of privaat verblyf nie, alhoewel voortdurende navorsing gedoen word om studentebehoeftes te bepaal. Die Gerhardstraat-kampus is egter stapafstand van die Gautrein-stasie in Centurion geleë. Die manskoshuise is op die Leriba-kampus geleë, terwyl die dameskoshuise binne 1 km van die Gerhardstraat-kampus geleë is.

Studente wat op die kampusse studeer neem deel aan ’n aktiewe en gesonde studentelewe met aktiwiteite soos debat, rugby, aksiesport, gemeenskapsprojekte en nog meer. Klik hier vir meer inligting.

Stuur ʼn e-pos na navrae@akademia.ac.za om ʼn afspraak te maak om die kampusse te besoek.

Daar is op beide kampusse genoegsame veilige parkering met toegangbeheer vir studente beskikbaar. Sekuriteitswagte is 24 uur op die perseel aan diens.

Beide die Gerhardstraat- en Leriba-kampus is ingerig met ʼn kafeteria sodat studente maklik en vinnig verversings vir hulle eie rekening kan aankoop. Die Gerhardstraat-kampus is ook gerieflik langs ʼn winkelsentrum geleë.

Klasse sal bedags vanaf 08:00 tot 17:00 plaasvind. Die finale rooster sal teen die einde van die voorafgaande jaar aan studente beskikbaar gestel word.

Studente woon bedags verpligte kontaksessies op onderskeidelik die Gerhardstraat- en Leriba-kampus by. Bywoningsregister sal geneem word.

Daar is gratis Wi-Fi op beide kampusse vir studente beskikbaar. Die Wi-Fi-wagwoorde word tydens oriëntering aan studente verskaf.

VIR ENIGE VERDERE VRAE, KONTAK ONS

Algemene navrae
0861 222 888
navrae@akademia.ac.za

Finansiële navrae
0861 222 888
finansiesnavrae@akademia.ac.za

 

STUUR ’N BOODSKAP

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE MET AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE