Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia en Sakeliga begin reeks boekbesprekings

Gepubliseer op: 17 Mei 2019

“ʼn Groot deel van die avontuur van menswees hou met boeke verband. Om deur boeke beetgepak en deur hulle meegesleur te word, verryk ons lewens. Sonder boeke sou ons as mense veel armer gewees het.” – Professor Danie Goosen, akademiese hoof by Akademia.

“Die gedagte is om op ʼn gereelde grondslag na lesers (en soms selfs skrywers) van onder meer boeke oor aktuele temas te luister,” verduidelik prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia. Die eerste boekbespreking het reeds op 14 Mei plaasgevind, waar een van die boeke van die politieke ontleder Bill Johnson, How long will South Africa survive?: The looming crisis, bespreek is. Die reeks boekbesprekings dien as platform waar idees uitgeruil word, uitgangspunte krities bespreek word en netwerke gebou word.

Goosen meen dat daar wêreldwyd ʼn enorme vraag na goeie boeke in die algemeen is. “Ondanks die teenspoed wat dit die afgelope jare beleef het, is die boekkultuur florerend. Boeke verkoop steeds in groot getalle. So asof die hedendaagse mens poog om te vergoed vir die verlies wat met die sosiale media en die TV gepaard gaan deur weer met ywer te lees.”

Volgens Piet le Roux, die uitvoerende hoof van Sakeliga, speel goeie boeke steeds ʼn belangrike rol in die sakegemeenskap. “’n Goeie besigheid en ʼn goeie boek is goeie vriende. Want om besigheid te doen is om jou kapitaal vandag op risiko te plaas vir ʼn opbrengs in ʼn onseker toekoms. Dit vereis van sakelui die vermoë om die toekoms te kan voorspel: vraag, aanbod, behoeftes, waardes, politiek, klimaat … Daarom is die beste sakelui in die wêreld mense wat dink én doen. Boeke help jou beter dink. Boeke bied insig in gister, vandag, en die ewigheid – en dit is onontbeerlik as jy jou en jou aandeelhouers se kapitaal op ʼn toekomsvisie wil waag.”

As hoëronderwysinstelling strewe Akademia ook daarna om die belang van boeke in die vorming van die menswees by studente te kweek. Deur by hierdie boekbesprekings betrokke te wees dra die instelling daartoe by om leeskultuur onder studente en die wyer publiek met oorgawe uit te bou. Teen hierdie agtergrond is daar bepaalde boeke waarna Goosen verwys wat uitstaan met betrekking tot die universiteitswese. “Hierdie boeke se invloed is oorweldigend dat ons onsself kwalik sonder hulle kan bedink. ʼn Goeie voorbeeld is daardie boeke wat dikwels as die sogenaamde ‘Groot Boeke’ beskryf word wat vandag nog aan verskeie universiteite gelees word.”

Goosen verduidelik verder dat onder die Groot Boeke moet eerstens die Bybel gereken word; maar ook die literêre werke uit die Klassieke wêreld en die moderne era soos die eposse van Homeros en die tragedies van die Griekse tragedieskrywers. Ander skrywers nader aan ons eie tyd dra ook by tot die kanon van Groot Boeke, soos Dante, Cervantes, Shakespeare, Goethe, Dostoyevsky en Ernst Jünger. Boeke wat oor eeue in verskeie dissiplines, insluitend filosofie, teologie, natuurwetenskappe, geskiedskrywing en ekonomie gepubliseer is maak verder deel uit van hierdie lys.

Oor eeue het dié boeke ʼn vormende invloed op studente uitgeoefen. “Trouens, sonder hulle vormende werking sou daar na alle waarskynlikheid ook nie ʼn Westerse kultuur gewees het nie,” sê Goosen. “Vanweë verskeie politieke redes verkeer die Groot Boeke egter vandag onder groot druk. Alhoewel talle universiteite nog die bestudering van die Groot Boeke as onontbeerlik vir die vorming van studente beskou, bevraagteken verskeie ander universiteite hulle gesag.” Daar word dikwels gevra of die Groot Boeke nie rassisties, paternalisties en kolonialisties is nie. Goosen meen dat die einste Groot Boeke ironies genoeg juis ʼn antwoord op hierdie uitdagings kan wees.

Volgens Goosen vertoon die goeie boek tog ʼn verstommende hardnekkigheid en verseg dit eenvoudig om te verdwyn. “Dit blyk onder meer uit die feit dat verskeie universiteite nog steeds die belangrikheid van die Groot Boeke beklemtoon. Daarsonder, sê hulle, vervlak ons, val ons ten prooi van die jongste intellektuele modes, en neig ons om ʼn sin vir die groter geheel te verloor.”