Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Mentorskapprogram sorg vir gebalanseerde graduandi

Gepubliseer op: 14 Desember 2017

Akademia het in November 2017 ʼn mentorskapprogram geloods, met die oog daarop dat studente nie slegs akademies nie, maar ook holisties ontwikkel sodat hulle selfstandige, goed-funksionerende volwassenes sal wees wanneer hulle hul tersiêre studies aan Akademia voltooi.

Tydens die inwydingsgeleentheid in November het die eerste groep mentors en mentees die geleentheid gehad om mekaar in ʼn gemaklike, prettige atmosfeer beter te leer ken. Twaalf mentors en 12 mentees neem aan die eerste ronde van die mentorskapprogram deel, maar dit is Akademia se visie dat elke student in die toekoms ʼn mentor kan hê.

Die kursusmateriaal, wat deur die niewinsgewende organisasie Lifexchange ontwikkel is, is op die nuutste navorsing in mentorskap gebaseer. Volgens Marieta Knight, die mentorskapprogram se proseskoördineerder, is die konsep van mentorskap daarop gebaseer dat positiewe verandering teweeg gebring word namate die verhouding tussen mentor en mentee groei en versterk.

“Die verhouding is dus die primêre meganisme waardeur positiewe groei en ontwikkeling plaasvind. Dit sluit beide die teorie van verandering en praktiese mentorskapsure waar teorie in praktyk omgesit word, in. Mentors se opleiding sluit die aanleer van verhoudingsvaardighede soos reflektiewe luister, die bou van optimisme en nederigheid in, asook interafhanklikheid en broosheid. Verskeie hulpmiddels word bekendgestel, insluitend positiewe selfgesprek, visualisering en bevestigings.”

Akademia beoog om in Februarie 2018 nuwe mentors te werf en ʼn mentorswerkswinkel aan te bied. ʼn Mentor kan enige iemand wees wat ouer is as die mentee is en meer lewenservaring het. Mentors word sorgvuldig gekeur om seker te maak dat hulle ʼn positiewe bydra tot die student se ontwikkeling kan lewer en dat hulle hulself tot ʼn langtermynproses van ten minste een jaar, maar ideaal gesproke drie jaar, kan verbind.

Marieta verduidelik dat een van die belangrikste eienskappe van ʼn mentor is dat die persoon oop is om self te leer en besef hy/sy weet nie alles nie. “Mentors ontvang hul opleiding reeds twee maande voor hulle by ʼn mentee geplaas word. Daar word van ʼn aanlyn platform gebruik gemaak om deurlopend met mentors in verbinding te wees en mentors het ook deurlopend toegang tot die kursusfasiliteerder en proseskoördineerder vir addisionele ondersteuning.”

Die langtermyndoelwit is om die mentorskapprogram by al Akademia se studiesentrums landswyd en in Namibië aan te bied sodat elke Akademia-student die geleentheid kry om by die insette van ʼn mentor te baat. Die 2018 program sal egter steeds tot die drie Pretoria-studiesentrums beperk wees.