Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Ontbyt met Whitey Basson

Gepubliseer op: 8 Maart 2016

Met gasspreker Whitey Basson stel Akademia op 18 Maart sy Sakeplankompetisie 2016 op Guardian Peak buite Stellenbosch bekend. Dié kompetisie, wat Akademia reeds vir die derde maal aanbied, spog met pryse ter waarde van meer as R1,5 miljoen en verskeie suksesverhale.

Sakeontbyt met Whitey Basson

Die Sakeplankompetisie skop vanjaar af met ‘n sakeontbyt in die Guardian Peak Restaurant, tussen Stellenbosch en Somerset-Wes. Gaste kan uitsien na die praatjie van gasspreker, Mnr Whitey Basson van Shoprite Holdings, oor die geheime daaraan om suksesvol in Afrika en Suid-Afrika sake te doen. Besprekings vir die beperkte aantal plekke kan hier gedoen word.

Begeleiding, pryse, werkswinkels

Die Akademia Sakeplankompetisie is ʼn nie-winsgewende inisiatief van Akademia om belowende ondernemers tot finansiering en sukses te begelei. Bestaande én voornemende sakelui word uitgedaag om hul ondernemings en sake-idees in ‘n sakeplan uiteen te sit en vir beoordeling voor te lê.

Voornemende deelnemers registreer aanlyn op www.sakeplankompetisie.co.za. Hier laai hulle ʼn templaatsakeplan van vyf bladsye af, voltooi dit toepaslik en dien dit elektronies in teen 20 Julie 2016. Inskrywings vind plaas in een van twee kategorieë, naamlik Nuwe Sake en Bestaande Sake.

Finaliste kry die geleentheid om hul idees by’n gala-aand aan ‘n saal vol top sakelui voor te dra, sowel as die kans om pryse ter waarde van meer as 1.5 miljoen rand te wen. Vanjaar se gala-aand vind plaas op 26 Oktober.

Opleiding- en mentorskapgeleenthede bied aan deelnemers begeleiding en die blootstelling om by kenners en mede-sakelui oor knelpunte aan te klop.  So kan voornemende sakelui verseker dat hulle vanuit die staanspoor hul ondernemings op die regte beginsels vestig en volhoubaar groei.

Halfdag Sakeplanwerkswinkels, asook ‘n tweedae Sakebestuurwerkswinkel, help deelnemers aan die kompetisie om die besondere wisselwerking tussen hulself en hul onderneming of sake-idee te verstaan en daarop voort te bou.

Besprekings en inskrywings

Sakeontbyt met Whitey Basson: Beperkte plekke is vir die publiek beskikbaar. Reserveer joune hier.

Sakeplankompetisie: Inskrywingsbesonderhede word eersdaags bekendgemaak.