Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia Sakeplankompetisie: Waarom die entrepreneur in entrepreneurskap so belangrik is.

Gepubliseer op: 19 April 2016

In die wêreld van entrepreneurskap word daar baie gepraat van ’n omvattende sakeplan wat die idee of besigheid tot in die fynste besonderhede bespreek. Die entrepreneur se kennis van die markomgewing, die industrie, die bemarkingsboodskap en, die belangrikste aspek, hoe geld gemaak gaan word, word deur talle YouTube-video’s en mentorskapprogramme verduidelik.

Die vraag is egter, is dit genoeg? Kan enige iemand ’n goeie sake-idee / besigheid laat floreer? Suid-Afrika is immers ’n land van mense met planne (boer maak ’n plan), maar ten spyte hiervan word bitter min van hierdie planne tot uitvoering gebring. Verdoemende statistiek deur die ministerie van handel en nywerheid vertel verder die verhaal dat daar waar planne wel tot uitvoering gebring word, slegs twee uit elke sewe langer as twee jaar handel dryf!

Die vraag wat dus tereg gevra kan word, is watter rol die entrepreneur in die proses van besigheid speel?

Hierdie kernvraag word juis aangespreek deur die Akademia Sakeplankompetisie, ’n nie-winsgewende projek met die oogmerk om besighede van konsepvlak tot klein en mediumgrootte sake-ondernemings volhoubaar uit te bou. Deelnemers kan inskryf in een van twee kategorieë:

  • Nuwe- of klein sake-ondernemings wat enige onderneming vanaf konsepfase tot minder as drie jaar handeldrywend insluit, en wat ’n netto wins van minder as R500 000 per jaar voor eienaarsonttrekking het.
  • Bestaande en mediumgrootte sake-ondernemings wat besighede insluit wat langer as drie (3) jaar handel dryf, asook ’n netto wins van meer as R500 000 per jaar voor eienaarsonttrekking het.

 

Die boustene wat gebruik word tydens die kompetisie en die werkswinkels, is die Gallup Strengthfinder, ’n toets wat reeds wêreldwyd deur bykans 14 miljoen mense gebruik is om hul unieke stel van 34 talente uit te wys. Vanuit die 34 talente word elke individuele entrepreneur se 10 sterkste en 10 swakste unieke talente aangedui, wat die entrepreneur sy eie uniekheid en outentiekheid, asook die unieke bydrae tot sy besigheid beter laat verstaan.

Die uitgangspunt van die kompetisie is dat die entrepreneur vyftig present (50%) en die sakeplan vyftig present (50%) tot die sukses van ʼn besigheid / onderneming bydra. Die analogie van ’n perderesies is in ʼn groot mate gepas – vir ’n jokkie en sy perd om die Durban July-perderesies te wen, moet die jokkie en perd mekaar goed verstaan, en moet die jokkie ook presies weet hoe sy perd onder verskillende omstandighede gaan optree. Dieselfde geld ook vir besigheid – as jy nie jou besigheid se hart en siel verstaan nie, gaan jy ook nie noodwendig weet hoe om die vinnig veranderende omstandighede wat elke dag risiko’s en geleenthede vir jou besigheid inhou, suksesvol te bestuur nie.

As jy dit dus aan iemand anders oorlaat om jou sakeplan te skryf, moet jy seker maak dat daardie persoon in elke fase en tydens elke moeilike en uitdagende stadium van jou onderneming daar sal wees – hy of sy is immers die een wat jou besigheid só goed ken dat hy / sy die sakeplan daarvoor moes skryf. Jy mag dit dalk regkry deur die hulp van konsultante en professionele deskundiges op hul vakgebiede in te roep, maar maak seker dat jy ook ruim hiervoor begroot!

As jy egter besluit om self verantwoordelikheid vir jou eie besigheid te neem, moedig ons jou aan om jouself te bemagtig met die nodige kennis oor jou jouself, jou plek in jou besigheid, en die besigheidsvorm wat die beste vir jou gaan werk. Identifiseer die vaardighede wat jou onderneming gaan nodig hê om jou besigheid in die vinnig veranderende markomstandighede van ’n 21ste eeuse Suid-Afrika, Afrika en die internasionale besigheidswêreld te vestig en volhoubaar uit te bou.

Die Akademia Sakeplankompetisie bied in samewerking met verskeie vennote soos onder andere die Atterbury-groep, Investec Batebestuur, Nikon, Tygerberg 104FM, PretoriaFM en GrootFM, Unmatched Potential en Klipkouers, om maar ’n paar te noem, verskeie geleenthede waartydens entrepreneurs blootstelling aan bogenoemde vaardighede kan kry.

Verskeie Sake-ontbyte met denkleiers en bekende sakelui soos Whitey Basson van die Shoprite-groep, Wouter Snyman van die Attooh-groep en Louis van der Watt van die Atterbury-groep gee besigheidseienaars en entrepreneurs die geleentheid om skouers te skuur met sakelui wat weet hoe om in Suid-Afrika en Afrika van 2016 ’n sukses te maak van besigheid, en dit volhoubaar uit te bou.

‘n Tweedag Sakebestuur-werkswinkel op 25 en 26 Mei berei potensiële deelnemers voor om teen 20 Julie (die sperdatum vir inskrywings in die kompetisie,), hul ses (6) bladsy entrepreneur- en sakeplanvraelys behoorlik te kan beantwoord. Na verdere rondes van keuring, dring daar uiteindelik vier (4) deelnemers per kategorie deur na die Leeukuil, waar deelnemers die geleentheid gebied word om ’n paneel van ses swaargewig beleggers daarvan te oorreed dat hul “jokkie-” en sakeplan-kombinasie die beste geleentheid tot groei en verdere ontwikkeling bied. Benewens kontantpryse word wenners verder ondersteun deur ongelooflike mediablootstellingsgeleenthede, mentorskapprogramme, bemarking-, belasting- en regshulp wat reeds in die 2015-kompetisie ‘n waarde van meer as R1,5 miljoen oorskry het.  Nuwe toevoegings tot die pryse van die 2016-kompetisie sluit onder andere internasionale skakeling met Afrikaanse besigheidslui in Europa en Amerika in!