Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia nou op optiese vesel!

Gepubliseer op: 7 Maart 2016

Sedert Donderdag 25 Februarie draf studente van Akademia vinniger en beter via optiese vesel klas. Die oorskakeling vanaf ADSL-tegnologie na die nuwe optiesevesellyne lig die gehalte van beeld en klank in en uit Akademia se sewe klaslokale landswyd.

Waldemar Blanché, hoof van opvoedkundige tegnologie by Akademia, sê die oorskakeling hou Akademia aan die voorpunt van die tegnologie-omwenteling wat wêreldwyd in hoër onderwys plaasvind. “Optiese vesel beteken groot verbeterings in kwaliteit, stabiliteit en betroubaarheid van studente se interaktiewe klaservaring. Boonop kan dosente nou ook regstreeks Youtube en ander multimediavoere in klasse intrek.”

“Ons is besig met ‘n groot avontuur: om volstrek met hoër onderwys te gaan waar geen mens nog gegaan het nie,” sé Blanché.

Al is hoësnelheid ADSL steeds die mees gewilde breëbandkommunikasietegnologie in Suid-Afrika, het Akademia dié tegnologie nou vir selfs meer gevorderde optiese vesel ingeruil.

Akademia se onderrigmodel

Akademia se onderrigmodel kombineer ‘n klaservaring met afstandsonderrig. Studente woon klas by, maar kan kies by watter van sewe studiesentrums landswyd hulle dit wil doen.

Alle klasse is regstreeks met mekaar, sowel as met een van vier professionele ateljees by Akademia se hoofgebou, waar die dosent gesetel is, in verbinding. Studente sien op een groot skerm die notas; en op ‘n tweede skerm lewensgroot die dosent.

Soos meeste klasse by gewone universiteite duur sessies vyftig minute en kan studente aan die klas deelneem deur eenvoudig ‘n hand op te steek en ‘n vraag te vra. Sagteware bring outomaties so ‘n student na die voorgrond van die videovoer in ander klasse, byna asof die vraag in dieselfde lokaal gevra is. Op soortgelyke wyse kan die dosent studente vrae aan enige student in enige van die klasse landswyd rig en word die bespreking en antwoord regstreeks oor studiesentrums heen gedeel en ervaar.

Die ateljees vanwaar die dosente klasse aanbied is met gevorderde tegnologie ingerig. Voor dosente verskyn al agt klasse op groot TV-skerms, waar dosente studente kan identifiseer vir vrae en opdragte. Digitale penne dra wat dosente ook al op die papier voor hulle skryf oor na die skerms in studiesentrums. Terselfdertyd is klank- en videoingenieurs deurentyd in die beheerkamer besig om klank, video en ander tegnologiese aspekte te monitor.

Na klasse word die opnames geredigeer en binne enkele dae vir studente beskikbaar gemaak op Akademia se digitale leerruimte, die Spens. Hier kan studente videoopnames van die klasse aflaai, argiefmateriaal bestudeer, of selfs net die klankbaan op hul selfone laai om weer op pad werk toe as ‘n podcast te luister.