Search
Close this search box.

Die waarde van ʼn testament word té maklik onderskat – Akademia-kenner

Gepubliseer op: 16 September 2024

Geskryf deur Mariska Wannenburg, ʼn dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe by Akademia.

As dit kom by finansiële beplanning en méér nog boedelbeplanning en die opstel van ʼn geldige testament, is daar baie Suid-Afrikaners wat nie die erns en dringendheid van die aangeleentheid begryp nie. Hiervan getuig die vele tong in die kies-staaltjies wat dikwels om die braaivleisvuur vertel word:

ʼn Pa kom skielik te sterwe. Sy familie sit om die tafel by die prokureurskantoor vir die voorlees van die testament. Die prokureur bedank almal vir hulle teenwoordigheid en lees dan die oorledene se testament voor: “Ek, met gesonde verstand, maak die volgende bemakings. Aan my pragtige vrou laat ek my huis agter, my woonstel in Plettenbergbaai en R10 miljoen kontant. Aan my hardwerkende seun los ek my Lexus en R8 miljoen se kontant. Aan my wonderlike dogter los ek my Jaguar en R8 miljoen se kontant. Laastens, aan my broer, wat altyd aan my verduidelik het dat gesondheid soveel belangriker is as rykdom, bemaak ek my bergfiets!”

Nasionale Testamentweek vind vanjaar vanaf 16 tot 20 September plaas en bied aan persone die ideale geleentheid om erns te maak met dié prosesse wat volgens wet gevolg moet word ná afsterwe. ʼn Testament is immers per definisie ʼn plan van hoe jy jou bates en besittings, groot of klein, aan jou geliefdes gaan bemaak sodra jy tot sterwe kom.

Die realiteit van die saak is egter dat baie persone, en veral jong mense, nie hierdie proses as ʼn prioriteit beskou nie. Die rede? Hulle dink bloot nie aan die dood nie, óf hulle beskou die proses as té kompleks vir die lewensfase waarin hul tans verkeer. Dit is juis hierdie veranderlike aard van ʼn persoon se behoeftes, soos die aankoop van ʼn eiendom of die implikasie daarvan om in die huwelik te tree, wat in ʼn testament vervat moet word. Nóg ʼn werklikheid waarmee baie gesinne gekonfronteer word ten tye van die afsterwe van ʼn geliefde is dat ʼn testament óf nie gevind kan word nie, óf nie regsgeldig is nie. Laasgenoemde gebeur dikwels wanneer ʼn testament self opgestel word sonder insette vanaf ʼn regspraktisyn. Onthou dat die prokureurskoste wat vir die opstel van ʼn testament gehef word steeds baie goedkoper is as wanneer ʼn regspraktisyn aangestel moet word om ʼn ongeldige testament te verdedig. ʼn Geldige testament voldoen aan ʼn aantal formele vereistes en om dié rede word dit ten sterkste aanbeveel dat jy by ʼn gekwalifiseerde prosessionele persoon aanklop vir hulp, veral wanneer jy vir die eerste keer só ʼn dokument opstel.

Wat van ʼn kodisil?

Hierdie dokument verwys na ʼn bylaag tot ʼn testament wat sekere aspekte in verdere detail verduidelik, wysig of selfs herroep. Daar is besliste risiko’s verbonde aan ʼn kodisil. Soms is dit nie akkuraat opgestel nie en bevat dit teenstrydige inligting. Verder kan dit ook gebeur dat die eksekuteurs soms vergeet om die kodisil te lees en dan word die testament verkeerdelik uitgevoer. In sulke gevalle is dit raadsaam om eerder ʼn nuwe testament op te stel indien daar veranderinge aangebring moet word, wat ʼn vorige weergawe van jou testament sal vervang.

In die geval van verouderde testamente is dit belangrik om te weet dat ʼn ou testament steeds ʼn geldige testament kan wees. Die goue reël is egter om eerder jou testament dienooreenkomstig te verander soos wat jou lewensomstandighede verander. Op dié manier verseker jy dat dié dokument prakties uitvoerbaar bly.

Wat gebeur as jy sonder ʼn geldige testament tot sterwe sou kom?

In die geval waar ʼn persoon sonder ʼn geldige testament tot sterwe kom, óf die testament nie opgespoor kan word nie, sal alle bates nie outomaties na geliefdes oorgedra mag word nie. In hierdie scenario sal die oorledene se bates geërf word ingevolge die Wet op Intestate Erfreg.

Hierdie wet vereis dat indien die oorledene oorleef word deur hul gade, dan sal die gade die volle boedel erf. Sou die oorledene oorleef word slegs deur sy/haar biologiese kinders, sal die boedel gelykop tussen hulle verdeel word. In die geval waar die oorledene oorleef word deur sy/haar gade én biologiese kinders, sal die gade ʼn gedeelte ontvang of ʼn totaal van R250 000, welke die hoogste waarde het. Die balans sal dan gelykop verdeel word tussen die biologiese kinders. Wanneer die oorledene geen gade of biologiese kinders het nie, sal die boedel gelykop verdeel word tussen bloedverwante naastebestaandes. As daar geen oorlewende bloedverwante naasbestaandes is nie, of daar is minderjarige kinders ter sprake, sal die bates in die regering se Guardian’s Fund vir ʼn tydperk van 30 jaar gehou word, vir ingeval die bloedverwante naasbestaandes ʼn eis vir die bates indien. Daarna sal die regering ʼn eksekuteur aanstel om die boedel te beredder en wat moontlik kan lei tot onnodige uitgawes en fooie vir die boedel.

Wat is die implikasie van ʼn gesamentlike testament?

Soms gebeur dit dat gades ʼn gesamentlike testament opstel. ʼn Gesamentlike testament is ʼn testament van twee persone, vervat in ʼn enkele regsdokument. As dit korrek opgestel is en boedelsamestelling vind plaas, kan ʼn langslewende gade nie die inhoud van die testament eensydig wysig met betrekking tot die boedelsamestelling nie. Hierdie beperking beskerm die regte van die oorspronklike erfgename.

ʼn Gesamentlike testament het egter sy nadele. Dit is onbuigsaam ná die dood van die een gade en kan nié voorsiening maak vir omstandighede wat dalk verander het nie. Indien die langslewende gade byvoorbeeld eiendom moet verkoop weens finansiële druk, maar die eiendom is eintlik aan ander ʼn erfgenaam bemaak, is daar ʼn moontlikheid dat die eiendom nie verkoop kan word nie.

Agt praktiese wenke vir wanneer jy ʼn testament vir die eerste keer opstel:

  • Stel ʼn eksekuteur aan. ʼn Eksekuteur moet iemand wees wat jy vertrou, soos ʼn goeie vriend of familielid. Dit is ook moontlik om meer as een eksekuteur aan te stel. Die boedelberedderingproses is baie administratief van aard en kan soms gekompliseerd wees, en dan word ʼn professionele eksekuteur aangestel tesame met die familielede. ʼn Eksekuteursfooi kan tot 3,5% van die bruto waarde van die boedel beloop terwyl kommissie van 6% op alle inkomstes wat ingevorder is ná die datum van dood tot en met die boedel afgehandel is, gehef kan word. In die meeste gevalle kan hierdie fooi onderhandel word en kan daar vooraf op ʼn vergoeding ooreengekom word.
  • Maak seker dat jou testament gedokumenteer is. ʼn Geldige testament kan ook handgeskrewe wees, dit moet egter deur die testateur onderteken wees (op elke bladsy), asook deur getuies. Getuies moet veral daarop let om die laaste bladsy van die dokument te onderteken.
  • Vir die testament om wetlik afdwingbaar te wees, moet jy ten minste sestien jaar oud wees en oor die nodige verstandelike bevoegdheid beskik om die aard en gevolge van die testament ten volle te begryp.
  • Sluit basiese instruksies aangaande begrafnisreëlings in jou testament in.
  • Toon duidelik aan wie die begunstigdes is aan wie jy jou bates bemaak.
  • Gee ʼn kort oorsig van jou netto waarde (inkomste, bates en laste).
  • Besin deeglik oor internasionale bates. Indien jy oor buitelandse bates beskik, is jy daarop geregtig om jou wêreldwye bates in een testament te vervat. Elke land het egter sy eie wette en prosedures wat in die verband gevolg moet word, wat tydrowend is en baie vertragings kan veroorsaak. Wanneer jy onroerende eiendom in die buiteland besit, stel verkieslik ʼn aparte testament op in dié land. Op dié manier kan daar vasgestel word of die bepalinge in die wêreldwye testament uitvoerbaar is en of die beskikkings van bates voordelig sal wees vir belastingdoeleindes wat van toepassing is in die buiteland.
  • Stel ʼn trust daar. Die stigting van ʼn trust help om te vermy dat bates deur ʼn verifikasieproses (probate process) moet gaan. Die voordeel hiervan is dat trustees aangestel kan word wat oor die wettige reg beskik om bates namens die begunstigdes te bestuur. Verder bied trusts groter beheer oor wanneer en hoe bates versprei word. Die trustor (die persoon wat die trust geskep het) kry ook die geleentheid om spesiale voorwaardes of vereistes te skep waaraan voldoen moet word, selfs ná afsterwe.

Benut Nasionale Testamentweek

Geldige testamente kan deur verskeie kundiges opgestel word, byvoorbeeld prokureurs, finansiële beplanners en finansiëlediensteverskaffers (soos banke en versekeringsmaatskappye) asook trustmaatskappye.

In ʼn land waar soveel as sewe uit elke tien volwassenes sonder ʼn geldige testament sterf, behoort Nasionale Testamentweek met die nodige erns bejeën te word. Die verlies van ʼn geliefde is emosioneel, administratief en finansieel moeilik en word verder (onnodig) bemoeilik wanneer daar nie ʼn geldige testament in plek is nie.

Indien jy daarin belangstel om jouself as ʼn finansiële beplanner te bekwaam, is Akademia se BCom (Finansiële Beplanning)-program óf die BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)-program nommerpas vir jou. Aansoeke vir die 2025- akademiese jaar word tans ingewag.

Mariska Wannenburg
Mariska Wannenburg, ʼn dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe, meen Suid-Afrikaners onderskat die waarde en belangrikheid van ʼn geldige testament. Nasionale Testamentweek vanaf 16 tot 20 September bied persone ʼn gulde geleentheid om aandag aan hierdie belangrike aspek van finansiële beplanning te skenk.