Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Kubersekerheidskampioene staan aan die voorpunt van die toekoms

Gepubliseer op: 22 Mei 2024

Een van die grootste wanpersepsies wat bestaan is dat kubersekerheid suiwer voor die deur van tegniese kundiges gelê moet word. Om die waarheid te sê verteenwoordig tegniese vaardigheid slegs ʼn sub-aspek van dié veel groter multidimensionele dissipline. Só meen prof. Basie von Solms, navorsingsprofessor in kubersekuriteit aan die Universiteit van Johannesburg se Sentrum vir Kubersekuriteit.

Von Solms het vroeër vandeesmaand as gasspreker opgetree tydens ʼn openbare lesing wat deur Akademia se Fakulteit Natuurwetenskappe aangebied is. Tydens hierdie geleentheid het Von Solms die bogenoemde wanpersepsie in meer detail bespreek terwyl hy ook die waarde van kubersekerheidskundigheid – as ʼn noodsaaklike toekomstige spesialisarea – beklemtoon het.

Volgens Von Solms verteenwoordig die gebruikersdimensie een van die belangrikste nietegniese dimensies van kubersekerheid. Hy verduidelik dat hierdie dimensie onder meer kubersekerheidsbewusmaking en -bewustheid dwarsoor die algemene beroepspektrum insluit. In die praktyk beteken dit dat individue, en nie slegs inligtingstegnologiewerkers nie, in welke beroepsvelde ook al, as kubersekerheidskampioene na vore sal kan tree. In die lig hiervan doen Von Solms ʼn beroep op opleidingsinstellings, veral in hoër onderwys, om kubersekerheid as deel van hul kurrikulum te integreer.

Hierdie voorgestelde integrasie sluit aspekte in soos die veilige gebruik en bewaring van toegangswagwoorde, die bewustheid dat aanhangsels tot e-posboodskappe kwaadwillige en skadelike virusse kan bevat en dat kubermisdaad toenemend plaasvind. Von Solms beklemtoon laasgenoemde deur te noem dat die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) reken dat kubermisdaad as die derde grootste ekonomie, naas Amerika en China, beskou kan word.

Nóg ʼn belangrike nietegniese dimensie is dié van beleid. Von Solms verduidelik dat indien ʼn instelling nie oor behoorlike kubersekerheidsbeleidsdokumente beskik nie, sal hulle tegniese oplossings nie veel waarde hê nie. Hierdie beleidsdokumente sal onder meer spesifiseer wie in ʼn instelling watter aksies vanuit die instelling na die kuberruimte en vanaf die kuberruimte na die instelling mag uitvoer. Dit is veral belangrik in ʼn omgewing waarbinne werknemers hul eie slimfone en skootrekenaars gebruik om byvoorbeeld van die huis af via die internet na die instelling se rekenaarstelsels aan te teken.

Op die keper beskou word die topverantwoordelikheid vir kubersekerheid gevolglik aan die direksie van ʼn instelling toegeken. Von Solms stel dit dat dié hoëvlak bestuursraad ʼn noodsaaklike oorsigrol speel met betrekking tot alle aspekte van korporatiewe bestuurskunde, insluitend die bestuur van kubersekerheidsrisiko’s.

Ter opsomming verduidelik Von Solms dat verskeie ontwikkelings reeds die lig gesien het om instellings en individue se kubersekerheidsrisiko te help beheer. Hierdie sluit onder meer in:

  • Programmatuuroplossings
  • Identifikasies en magtiging ten einde veilig aanlyn aan te teken
  • Antivirus en antikwaadwillige programmatuuroplossings
  • Diepliggende enkripsie
  • Wetgewing
  • Streng voldoening aan internasionale standaarde soos ISO 27 000

Op die vraag of die kubersekerheidstryd effektief aangepak word, is Von Solms se antwoord ʼn besliste nee. Sy persoonlike mening is dat kubermisdadigers toenemend meer innoverend en berekend optree en dat die gaping tussen sekerheid en sekuriteit daagliks groter word. Hy skryf hierdie groter wordende gaping toe aan die kompleksiteit van die internet, die snelle ontwikkeling van kunsmatige intelligensie (KI), die beskikbaarstelling van ongereguleerde en ongetoetste programmatuur en die massas data wat eindverbruikers goedsmoeds op sosialemediaplatforms beskikbaar stel.

Alles is egter volgens Von Solms nie verlore nie. Kubersekerheid verteenwoordig ʼn opwindende beroepsmoontlikheid sowel as ʼn area van spesialisasie. Hy noem dat die WEF reken dat daar teen die jaar 2030 na beraming 85 miljoen kubersekerheidskundiges benodig sal word en dat daar tans ʼn tekort van om en by 4 miljoen sulke kundiges wêreldwyd bestaan. Von Solms het afgesluit deur studente en belangstellendes aan te moedig om voortdurend hul kennis oor die kuberruimte op te skerp deur nagraadse kwalifikasies en kursusse.

Indien jy droom van ʼn toekoms as ʼn kubersekerheidskundige is Akademia se BSc (Rekenaarwetenskappe)-program net vir jou. Studieaansoeke vir die 2025- akademiese jaar word tans ingewag.

Prof. Basie von Solms meen dat daar ʼn opwindende toekoms wink vir persone wat hulself as kubersekerheidskundiges wil vestig. Von Solms het as gasspreker opgetree tydens ʼn onlangse openbare lesing wat deur Akademia se Fakulteit Natuurwetenskappe aangebied is.