Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Só word Jeugmaand ook ʼn gemeenskapsviering – Akademia-kenner

Gepubliseer op: 16 Junie 2024

Geskryf deur dr. Mandie Dubery, maatskaplike werker by Akademia.

Jeugmaand word jaarliks in Junie in Suid-Afrika gevier, ʼn gebeurtenis wat vanjaar vir die 48ste keer plaasvind. Vir Akademia, ʼn trotse onafhanklike hoëronderwysinstelling, verteenwoordig dié maand egter opnuut ʼn geleentheid om sy verbondenheidsbelofte uit te lééf. Laasgenoemde verwys nie net na die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe nie, maar ook na die instelling se verbondenheid tot sy studente.

Die instelling streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar denke én hart gevorm word, en dit is juis hierdie vorming wat jongmense toerus om hul volwaardige plek in die samelewing met selfvertroue vol te staan. Hierdie gedagte herinner my aan die baie bekende Afrika-gesegde wat lui dat dit ʼn gemeenskap vat om ʼn kind (of jongmens) tot volwassenheid te lei.

Binne die konteks van die Akademia-gemeenskap, personeel, studente, alumni en vriende van die instelling, word Fonties vroeg in hul studiereis reeds gemotiveer en aangemoedig om roepingsgedrewe verantwoordelikheid te neem en ʼn positiewe impak op hul gemeenskap te maak. Dit is dan ook langs hierdie weg wat studente gelei word om by wyse van kennis, begrip en vaardighede die proses van selfontdekking te omarm ten einde as ambassadeurs van hoop, volhoubaarheid en diensbaarheid na vore te tree.

Die span verbonde aan Akademia se Studentesake-afdeling gaan baie strategies te werk om geleenthede te skep waar Fonties die mandaat van rentmeesterskap, as een van die kernwaardes van die instelling, kan opneem en op welke wyse ook al ʼn verskil kan bewerkstellig. By Akademia word gemeenskapsdiens as ʼn tweeledige proses beskou: aan die een kant is daar die geleentheid om moue op te rol en te gee, terwyl daar ook geleenthede geskep word wat deelname aan breër gemeenskapsontwikkelingsinisiatiewe vereis word. Die grondslag vir hierdie diensbaarheid word reeds tydens die eerstejaarsoriënteringsprogram gelê.

Die Spore-projek is nie net ʼn goeie voorbeeld van diensbaarheid nie, maar ook ʼn belangrike inisiatief om stukrag te gee aan gemeenskapsontwikkeling. Dié projek, ʼn geesteskind van die studenteraad (SR), het aan eerstejaar-Fonties die geleentheid gebied om op ʼn pret, maar praktiese wyse, na kwesbare gemeenskappe uit te reik.

Soos wat studente op hul studiereis vorder bou hul nuwe kennis en vaardighede op wat voorts op ander deelnemende wyses toegepas kan word om ʼn verskil in hul gemeenskap te bewerkstellig. In hierdie proses word Fonties toegerus om bewus te wees van behoeftes of uitdagings in hul omgewing, asook om eienaarskap te neem en aktief betrokke te raak ten einde ʼn impak te verseker. In hierdie bewuste proses van gemeenskaplike samehorigheid toon studente hul verbondenheid deur as rentmeesters op te tree en só gemeenskappe te help vestig én bou.

Die siklus van gemeenskapsbetrokkenheid en -ontwikkeling veronderstel aktiewe groei en betrokkenheid en lei tot die daarstelling van nuwe gemeenskappe wat op hul beurt jongelinge tot volwassenheid kan lei. In ʼn tyd waarin jongmense gekonfronteer word met vele uitdagings is dit verblywend om te weet dat dié generasie veerkragtig te werk gaan om kwessies aan te pak en gemeenskappe op ʼn hoopvolle wyse voor te berei vir die toekoms.

Mag Jeugmaand vir elke gemeenskap ʼn rede tot blydskap wees, en mag gemeenskapsverbondenheid van krag tot krag gaan.

Dr. Mandie Dubery, maatskaplike werker by Akademia, meen die jeug se verbondenheid tot die gemeenskap is ʼn rede vir hoop én viering.