Search
Close this search box.

Artium-2024: Fonties sorg vir pure kunsteplesier op die verhoog

Gepubliseer op: 27 September 2024

Artium, Akademia se jaarlikse kuns- en kultuurskouspel, was onlangs op die planke en almal betrokke is dit eens: Die Fonties se passievolle vertonings en vertolkings het gesorg vir pure kunsteplesier uit die boonste rakke! Tydens dié geleentheid, wat op Dinsdag 17 September 2024 in Centurion plaasgevind het, en wat deur die Akademia-studenteraad (SR) aangebied is, het die instelling erkenning gegee aan die kuns- en kultuurprestasies van sy vier inbly- én twee dagkoshuise. Die gesogte Kultuurbeker is ná afloop van die geleentheid aan Huis Strelitzia (die oudste dameskoshuis) toegeken as die algehele wenner van die 2024-kultuurjaar.

Só sien die geleentheid daarvan uit

Volgens Elsomé Thuynsma, die SR-lid verantwoordelik vir Kuns en Kultuur, verteenwoordig Artium ʼn hoogtepunt op die jaarlikse studentelewe-gebeurlikheidskalender. “Dié geleentheid is ʼn groot viering van ons Fonties se kreatiwiteit en hul vermoëns,” vertel Thuynsma. Sy voeg by dat die aanloop tot Artium ook vir groot opwinding sorg met die koshuise wat hul onderskeie toneelopvoerings tydens Voorskou (10 September) op die planke gebring het. Ná dié uitdunronde het drie koshuise, Huis Karoo, Huis Magalies en Huis Strelitzia, na die Artium-finale deurgedring. Laasgenoemde het ook ʼn platform gebied vir optredes deur al drie Akademia se sleep-sêrgroepe; Henlia (Huis Dahlia en Huis Hennops), Karoolelie (Huis Daglelie en Huis Karoo) en Maglitzia (Huis Strelitzia en Huis Magalies).

Ander Fontie-kultuurwenners, wat in Meimaand aan die instelling se eerste Fontasties-talentkompetisie deelgeneem het, het ook die geleentheid gehad om by die finale op te tree. Hierdie Fonties het ingesluit Monique Alberts (dans), Chloë Morrow (sang) en Zandré Gower (algehele Fontasties-wenner). Artium is op ʼn hoogtepunt afgesluit deur ʼn optrede deur die kunstenaar Stefan Jansen.

Volgens Thuynsma het vanjaar se Artium haar asem weggeslaan – van die toneelopvoerings tot die sêrgroepe en elke individuele optrede. “Ek dink die passie en hoë standaard waartoe elke deelnemer hom-/haarself verbind het, was vir elkeen in die gehoor duidelik om te sien,” sê Thuynsma. Sy voeg by dat dit wonderlik was om te sien met hoeveel energie en toewyding daar opgetree word. “Ek is só trots om deel van die Fontie-familie te wees, en die gehalte van die geleentheid spreek tot die oormaat talent waaroor die instelling beskik,” sê Thuynsma. Sy spreek ook haar dank uit teenoor Akademia vir die daarstelling van geleenthede soos Artium om studente die vryheid te bied om hulself op die kuns- en kultuurfront uit te lééf.

Kuns- en kultuur dra by tot goed gevormde studente

As die SR-lid gemoeid met kuns- en kultuuraangeleenthede is Thuynsma opgewonde oor die potensiaal wat op die verhoog ontsluit word. Sy meen dat dié vryheid spreek tot Akademia se uitgangspunt dat studentwees méér as net studie behels. “Die instelling is daartoe verbind om Fonties se denke én hart te vorm, en só goed gevormde individue, met ʼn duidelike roepingsbesef, die wêreld in te stuur,” noem sy.

“Elke kuns- en kultuurgeleentheid is ʼn geleentheid vir studente om nuwe talente te ontdek, nuwe vaardighede te ontwikkel, en om aktief deel te wees van ʼn gemeenskap wat hulle heelhartig ondersteun en wil inspireer,” verduidelik Thuynsma. Sy voeg by dat diesulke geleenthede studente die geleentheid bied om hulself beter te leer verstaan, om lewenslange verhoudings te smee en, om met selfvertroue, hul stem te laat hoor. “Hierdie tipe betrokkenheid en deelname skep nie net wonderlike herinneringe nie, maar leer ook vir Fonties waardevolle lewenslesse wat hulle in hul persoonlike én professionele lewens kan gebruik,” sluit Thuynsma af.

Die volgende toekennings is ook gemaak

  • Sêrwenners

Beste FAK-liedjie: Maglitzia (Huis Strelitzia en Huis Magalies)

Beste eie komposisie: Maglitzia

Beste Afrikaanse keurspel: Maglitzia

Beste Engelse keurspel: Karoolelie (Huis Daglelie en Huis Karoo)

Beste solis: Anri Greyling

Beste tromspeler: Ryk van Reenen

Die algehele sêrwenners was Maglitzia.

  • Toneelwenners

Beste kostuums: Huis Strelitzia

Beste dekor en rekwisiete: Huis Strelitzia

Beste x-faktor: Huis Strelitzia

Beste draaiboek: Huis Magalies

Beste akteurs: Edo Collyer en Keynan Fox

Beste aktrises: Tamryn Botes en Ilke van Zyl

Beste bykarakter: Hermann Pretorius

Beste energie op die verhoog: Niël Bekker

Blapsie van die aand: Huis Karoo

Die algehele toneelwenner was Huis Karoo, terwyl Maglitzia as die algehele wenners van die eerstejaarskonsert aangewys is.

  • Ander

Gebeure: Huis Strelitzia

Debat: Huis Dahlia

Die SR rig hiermee ʼn opregte woord van dank aan die beoordelaarspaneel wat hulself uitsonderlik van hul taak gekwyt het. Die beoordelaars was Steffie le Roux, Machiel Roets, Ilze Grove Pritchard en Stefan Jansen. Vir foto’s van dié geleentheid, besoek gerus Akademia se Facebook-bladsy.

Huis Strelitzia is as die algehele kuns- en kultuurwenners aangewys en is met die kultuurbeker beloon.
Die manne van Huis Karoo het met die louere weggestap vir die beste toneelstuk.
Die sleep-sêrkompetisie is deur Maglitzia gewen. Dié sleepkoshuispaar bestaan uit Huis Magalies en Huis Strelitzia.
Huis Dahlia het as wenners van die debatskompetisie na vore getree.