Search
Close this search box.

Wysheid as universitêre ideaal

Gepubliseer op: 30 Junie 2021

Geskryf deur prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia.

Wat is wysheid? Wat onderskei wysheid van kennis? En watter rol speel die strewe na wysheid binne ʼn universitêre konteks? Is wysheid ʼn ideaal wat deur universiteite nagejaag behoort te word?

Hierdie vrae het vandag ʼn nuwe aktualiteit verwerf. Anders as in die verlede maak die strewe na wysheid inderdaad nie meer ʼn integrale deel uit van universiteite nie. Tot relatief onlangs was toonaangewende universiteite in die Westerse wêreld nog tot dié strewe verbind. Vandag word dit eerder na universitêre kantlyne uitgeskuif. Ons gaan hieronder van die standpunt af uit dat dit tot ʼn ernstige verskraling van die universiteitswese lei. ʼn Verbintenis tot die ideaal van wysheid is noodsaaklik vir die toekomstige universiteitswese.

Wat is wysheid? Ter wille daarvan om die gesprek oor wysheid in te lei, kan dit reeds hier reg aan die begin help om dié vraag te beantwoord deur wysheid van kennis te onderskei. Die wese van wysheid blyk duidelik uit hierdie onderskeid. In die verlede was universiteite tot beide verbind: die bevordering van kennis, sowel as die verdieping van wysheid. Vandag neig universiteite eerder daartoe om slegs klem op die bevordering van kennis te plaas. Maar wat is die verskil tussen wysheid en kennis?

Om hierop te antwoord, moet ons by ʼn konkrete voorbeeld stilstaan. Dit is egter nie sommer net só ʼn voorbeeld nie. Ek verwys na die bekende, en tegelyk omstrede, boek van Richard Dawkins, The God Delusion. Die verskil tussen wysheid en kennis blyk daaruit. Alhoewel ek nie bevoeg is om my oor die gehalte van Dawkins se biologiese “kennis” uit te laat nie, aanvaar ek ter wille van die argument dat hy ons help om ons kennis van die biologiese wêreld uit te brei en te bevorder. Sonder sy werk sou ons waarskynlik minder kennis van evolusionêre ontwikkeling gehad het.

Maar dit is presies op hierdie punt dat die kwessie van wysheid ter sprake kom. Vir enige redelike leser van The God Delusion is dit opvallend dat Dawkins homself nie tot kennis van die biologie beperk nie. Dawkins is meer ambisieus. Op grond van sy kennis van die biologiese wêreld maak hy tegelyk afleidings oor die wese van die ganse werklikheid (en in die besonder oor die wese van verskynsels soos die mens, etiek, ekonomie, skoonheid, politiek en helaas ook oor die wese van God en die godsdiens).

Teoreties gesproke sluit Dawkins aan by wat die ou ideaal van wysheid genoem kan word. Waarom? Ingevolge die oudste definisies word die wyse mens gekenmerk deur insig in die geheel van dinge (en nie net deur kennis van ʼn deel van die geheel, soos byvoorbeeld die biologie nie). ʼn Vlugtige lees van Dawkins se boek sou ʼn mens kon laat dink dat hy inderdaad by die wysheidsideaal aansluit.

Die kritiese vraag is of Dawkins daarin slaag. Verdiep hy inderdaad ons wysheid? My eie weliswaar subjektiewe indruk is dat Dawkins nie ons insig in die geheel verdiep nie, maar dat hy eerder vanuit sy vakkennis van die biologie ongegronde (selfs verregaande) afleidings oor die geheel maak. Sonder grondige kennis van byvoorbeeld die filosofie of die teologie eien hy homself die reg toe om omvattende filosofiese en teologiese uitsprake te maak. In die proses bevraagteken hy met groot selfvertroue tradisionele opvattinge oor die waarheid en selfs die bestaan van God. Kortom kan ons met reg sê dat Dawkins die geheel van dit wat is (ingesluit die bestaan van God) tot ʼn blote funksie van ons genetiese erfenis en die biologiese stryd om oorlewing vereenvoudig. Ons insig in die geheel word nie daardeur verdiep nie, maar eerder op ʼn drastiese wyse verskraal.

Met hierdie inleidende opmerkings as agtergrond wil ek graag nader aan die ideaal van wysheid stilstaan. Soos hierbo genoem, is dié ideaal wel vroeër deur universiteite gekoester. Intussen is dit op die agtergrond geskuif. Vroeër is daar by universiteite plek gemaak vir beide “kennis” (van spesifieke sfere van die werklikheid, soos kennis van die biologie) en “wysheid” (insig in die geheel). Tans word eerder net op die verwerwing van kennis gefokus.

As ek dit nou reeds kan noem: Akademia verteenwoordig ʼn uitsondering. Saam met onder meer universiteite met wie ʼn goeie verhouding gehandhaaf word, stel Akademia ʼn toekoms voor waarin die strewe na wysheid weer ʼn regmatige plek naas kennis in die akademiese wêreld sal inneem; nie ten koste van kennis nie, maar ter verdieping daarvan.

Kom ons keer na die aanvanklike vraag terug: Wat is wysheid? As vertrekpunt word Will

Durant, historikus en filosoof, se antwoord hierop gebruik. Die opmerkings wat reeds hierbo oor wysheid gemaak is, sluit by Durant aan. Hy bring wysheid in verband met die strewe na insig wat betrekking het op die geheel van dinge. In sy artikel – Wat is wysheid? – omskryf Durant dit as volg:

Ideaal gesproke is wysheid ʼn algehele perspektief (waar die geheelbeeld gesien word) – om ʼn voorwerp, gebeurtenis of idee te sien met alles wat daarop betrekking het. Spinoza het wysheid gedefinieer as die vermoë om dinge sub specie eternitatis te sien, dit wil sê in verhouding tot die ewigheid, of met ʼn omvattende perspektief. Durant stel voor dat wysheid gedefinieer word as die vermoë om dinge sub specie totius raak te sien, dit wil sê as ʼn geheel.

Vir ons doeleindes is dit belangrik om aan te toon dat Durant met genoemde omskrywing nie ʼn unieke stem verteenwoordig nie. Hy sluit inderwaarheid by die Westerse geestesgeskiedenis aan. Reeds vanaf die Klassieke en die Middeleeuse denke word wysheid telkens in soortgelyke terme omskryf. Kom ons loop terug op die spoor van hierdie geskiedenis.

  1. Die Middeleeue

Thomas Aquinas, die groot Middeleeuse denker, skryf in sy Summa Theologiae dat ons as mense ʼn natuurlike behoefte het om na die groter geheel (en ook die oorsprong van die geheel in God) te vra. In ʼn bekende deel van dié werk (vraag 6, artikel 6 uit die eerste deel), bring Aquinas die natuurlike vraag na die geheel spesifiek met wysheid in verband.

Ter verduideliking verwys Aquinas na die voorbeeld van ʼn huis. Diegene wat die vorm, definisie of geheel van die huis ontwerp, beskik binne die orde van die boubedryf oor wysheid. Dieselfde kan nie van die gewone werkers gesê word nie; dié wat hulself slegs met dele van die huis, soos die voorbereiding van die hout en stene, besighou.

Teen die agtergrond van sy bouvoorbeeld skryf Aquinas dat diegene wat na die geheel as sodanig vra (en in die besonder na die oorsaak van die geheel, naamlik God), wys is. Hy word kortliks aangehaal:

Die persoon wat die heel belangrikste rede vir die heelal erken, naamlik God, word veral wys genoem.

Daarom word hy wat die heel belangrikste rede vir die heelal, naamlik God, in ag neem, die allermeeste gesien as wys.

Aquinas impliseer dat dit nie natuurlik is wanneer daar nié na die geheelbeeld gevra word nie. Laasgenoemde gebeur wanneer ons in ons eie kleiner kennisvelde vasgevang word (soos ons biologiese kennis, ensovoorts). So word die geheel vergeet.

Aquinas sluit met sy uitspraak oor wysheid aan by die twee groot bronne van die Westerse kultuur. In dié bronne word ʼn hoë premie op sowel kennis as wysheid geplaas. Kennis van die eie dissipline is belangrik, terwyl wysheid moontlik word wanneer ons kennis binne die geheelbeeld plaas. Die bronne waarna verwys word, is “Athene” en “Jerusalem” – Klassieke Griekeland en die Bybel.

  1. Klassieke Griekeland

Met betrekking tot Klassieke Griekeland kan na talle voorbeelde verwys word. Ter wille van tyd staan ons slegs kortliks by Plato, die grootste filosoof van die Westerse wêreld, stil.

Plato se aangrypende dialoog, die Phaedrus, verteenwoordig ʼn besinning oor die aard van die siel. Plato voer daarin aan dat die siel tot sy reg kom wanneer dit in staat gestel word om (met metaforiese vlerke) na insig in die geheel te vlieg. Die implikasie is duidelik: die siel mis sy doel wanneer dit in gebreke bly om die reis na die geheel te onderneem.

Plato sluit die Phaedrus af met die opmerking dat diegene wat wysheid begeer as werklik ryk beskou moet word. Diegene wat, daarenteen, in die onderskeie dele van die geheel vashaak, is geestelik gesproke die werklike armes onder ons.

  1. Die Bybel

Dit bring ons by die tweede groot bron van ons wêreld, naamlik die Bybel. Die Bybel is letterlik met verwysings na die belangrikheid van wysheid besaai. Laasgenoemde word telkens gesien as insig in die geheel en in die besonder as insig in die oorsprong van die geheel, naamlik God self.

Die wysheidsliteratuur in die Ou Testament is veral ʼn boeiende getuie hiervan. Wysheid word dikwels hierin verpersoonlik, en as ʼn lewende krag gesien wat die ganse skepping onderlê. Omdat die skepping deur wysheid onderlê word, word dit ook deur rasionele orde, skoonheid en goedheid gekenmerk.

Te midde van talle ander voorbeelde kan ons na die boek Ecclesiasticus verwys. In vele opsigte kan dié boek as ʼn loflied oor wysheid beskou word. In Hoofstuk 1:1 word reeds geskryf oor die oorsprong van die wysheid: “Alle wysheid kom van die Here, en is met Hom vir alle ewigheid.” Hoofstuk 24:9 word die wysheid verpersoonlik en self aan die woord gestel: “Van ewigheid af, vanaf die begin, het (God) my geskep, en ek sal in alle ewigheid nie ophou om te bestaan nie,” gevolg deur pragtige verwysings na die ordeskeppende rol wat wysheid in die ganse skepping speel.

Wysheid word deurgaans in Ecclesiasticus verbind met die vermoë om die groter geheel raak te sien. Dwaasheid word daarenteen verbind met diegene wat hul eie kleiner wêreld (ons kan sê, die kennis van hul eie dissipline) verabsoluteer. So word hulle die prooi van niks minder as afgodery self nie.

  1. Ter opsomming

Saam met kennis was die strewe na wysheid altyd ʼn sentrale oogmerk van die Westerse universiteitswese. Slegs tydens die afgelope dekades word wysheid as ideaal onderspeel en selfs weggewerk.

Waarom? Talle universiteite het in dié tyd hulself as ʼn gewone besigheid herdefinieer. Ons sien dit in die taalgebruik van universiteite: studente het in dié tyd kliënte geword, terwyl dosente produkte aan hul kliënte lewer. Ingevolge hierdie herdefiniëring van die universiteitswese in besigheidsterme pas die ideaal van wysheid eenvoudig nie in hul kosteberekening nie. Om studente met die oog op wysheid op te voed is immers ʼn tydsame, trouens, selfs ʼn lewenslange taak. Universiteite wat slegs produkte aan hul kliënte wil verkoop, het nie tyd of geld daarvoor nie.

Verskeie gevolge vloei hieruit voort: Die eerste en belangrikste gevolg is dat ons vandag aan sodanige universiteite ʼn versplintering van kennis ervaar. Dissiplines word in verkoopbare modules afgebreek, met die gevolg dat die geheel van die onderskeie dissiplines (om nie eens te praat van die groter samehang tussen die verskillende dissiplines nie) verlore gaan. Wysheid as ideaal verdwyn op hierdie manier buite die gesigsveld.

ʼn Tweede gevolg is dat kennis (nou losgemaak van wysheid) dreig om self tot iets soos blote inligting (of selfs data) verskraal te word. En as dit die geval is, is die vraag natuurlik waarom ek nog hoegenaamd universiteit toe moet gaan. Inligting en data kan immers maklik op die internet opgespoor word.

ʼn Derde gevolg is dat die afwesigheid van ʼn geheelbeeld soos hierbo genoem weer op sy beurt ruimte op talle kampusse wêreldwyd (ook in Suid-Afrika) vir plaasvervangende ideologieë skep wat voorgee om self die beeld op die geheel te bied. In hierdie verband dink ons veral aan populêre ideologieë soos “wokeness”, BLM (Black Lives Matter), ʼn simplistiese goed-en-boos-skema wat op die Weste en die res van toepassing gemaak word, ensovoorts.

Die houvas wat dié ideologieë op universiteite verwerf het, gaan met sensuur jeens dosente en studente gepaard wat nie by die ideologiese voorskrifte inval nie. Een van die ironiese gevolge hiervan is dat die versplintering van universiteite ook op hierdie wyse verder aangemoedig word. Terwyl die ideologieë ʼn eie geheelbeeld op dinge wil skep, moedig dit in die praktyk die teendeel aan.

Bogenoemde bring ons by die slotopmerking. Watter plek neem Akademia met betrekking tot wysheid en kennis in?

Uit die bespreking is die antwoord daarop glashelder: In aansluiting by die universitêre tradisie oor eeue heen, streef Akademia daarna om aan sowel kennis as wysheid hul regmatige plek in ons dosering, navorsing en ook gemeenskapsbetrokkenheid te gee.

Soos wat eeue-oue universitêre ervaring geleer het, is dit juis ons studente wat die meeste voordeel hieruit trek. Met deeglike kennis wat studente aan Akademia verwerf, word hulle in staat gestel om ʼn suksesvolle beroepslewe te betree. Toegerus met wysheid word hulle tegelyk in staat gestel om die lewe as volwasse mense tegemoet te gaan. Akademia en die universiteite waarby daar graag aangesluit word, staan as gevolg daarvan soos ʼn helder ligbaken op die universitêre toneel uit.

Prof. Danie Goosen is die akademiese hoof van Akademia