Search
Close this search box.

Universiteite, taal en kultuur ʼn onlosmaaklike trio – Akademia-kenner

Gepubliseer op: 14 Augustus 2024

Geskryf deur prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia

Die geboortedag van Afrikaans word jaarliks op 14 Augustus gevier. Gedagtig hieraan en die grootse viering van Afrikaans se eeufeeswording in 2025 (#Afrikaans100), voeg Akademia opgewonde sy stem van gelukwensing by die res van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe.

Volgende jaar op 8 Mei 2025 sal dit ʼn honderd jaar terug wees dat Afrikaans, naas Nederlands en Engels, as ʼn amptelike taal in die destydse Unie van Suid-Afrika erken is. Met dié gebeurtenis uit die vorige eeu het Afrikaans uitdrukking gegee aan die feit dat dit vroeër tot ʼn volwaardige taal ontwikkel het – ʼn taal wat op enige plek met styl, trots en trefkrag gebruik kan word. Laasgenoemde verwys na alle terreine vanaf die universiteitswese en die letterkunde tot en met elke ander aspek van die openbare lewe.

Met ‘volwaardige’ taal bedoel ons dat Afrikaans destyds daarin geslaag het om as’t ware deur die ‘klankgrens van taal’ te beweeg: Afrikaans het by wyse van sy standaardisering vanaf ʼn meestal gesproke na ʼn geskrewe taal ontwikkel. Sonder die verwerwing van só ’n eie standaardvorm sou Afrikaans nie die openbare wêreld met soveel sukses as amptelike taal kon betree het nie.

Nog nader geformuleer, sonder sy standaardisering sou Afrikaans ook nie so ʼn kragtige aanwesigheid in die universiteitswese gewees het nie. Die standaardisering van ons moedertaal was ʼn belangrike rede waarom dit hoegenaamd tot ʼn wetenskapstaal kon ontwikkel het.

Maar hoekom vier Akademia vandag die feit dat Afrikaans destyds as ʼn amptelike taal erken is? Universiteite en hoëronderwysinstellings is immers nie betrokke by die wel en weë van tale en kulture nie?

Verskeie akademici voer aan dat dit tog nie die taak van universiteite is om vir tale en kulture te sorg nie. Universiteite moet hulle met die wetenskappe en nie met die toekoms van tale en kulture besig hou nie, word daar aangevoer.

In hierdie tyd waarin ons onsself gereed maak om die amptelike erkenning van Afrikaans te vier, is ons ʼn antwoord aan diesulkes verskuldig. Ten minste twéé kwessies moet genoem word. Beide hou verband met die noue samehang tussen enersyds die universiteitswese en andersyds taal en kultuur.

Eerstens, universiteite staan nie neutraal ten opsigte tale en kulture nie. Universiteite en hul wetenskapsbeoefening geskied altyd weer binne die konteks van bepaalde tale en kulture. Dit is asof tale en kulture die natuurlike bedding is waarin die universiteitswese kan floreer.

Indien ʼn universiteit sy taal en kultuur verwaarloos, sal hy ook sy wetenskapsbeoefening verwaarloos. Trouens, sy wetenskapsbeoefening sal selfs onmoontlik wees. Universiteite het die water, grondstowwe en lig van tale en kulture nodig om hoegenaamd te kan wees.

Ironies genoeg is kundiges wat hierdie standpunt huldig self getuies van hierdie waarheid. Terwyl hulle aanvoer dat universiteite neutraal ten opsigte van enige taal en kultuur behoort te staan, neem hulle inderwaarheid by wyse van hul eie doseerwerk en navorsing ʼn bepaalde taal (die internasionale taal, Engels) en selfs in ʼn bepaalde kulturele ruimte (die globale kulturele ruimte) in beskerming.

Kortom, ook hierdie individue is van taal en kultuur afhanklik om hoegenaamd hul rol as dosente aan bepaalde universiteite te kan huldig. Histories gesproke is dit gewoon vals om voor te gee dat universiteite neutraal ten opsigte van taal en kultuur staan. As jy een taal en kultuur aflê, neem jy noodgedwonge ʼn ander taal en kultuur aan.

Tweedens, enigiemand wat slegs ʼn oppervlakkige insig van die universiteitswese het, sal weet dat universiteite histories gesproke telkens ʼn beduidende invloed op tale en kulture uitoefen. Selfs universiteite wat ʼn negatiewe invloed op tale en kulture uitoefen (soos universiteite wat vandag met ʼn beroep op ‘wokeness’ die bestaansreg van die Westerse kultuur bevraagteken) bevestig die punt – universiteite staan nie neutraal ten opsigte van kulture nie.

ʼn Voorbeeld is die vroeë universiteite tydens die sogenaamde Hoë Middeleeue. Francis Oakley skryf in The Mortgage of the Past dat die destydse universiteite selfs ʼn sleutelrol gespeel het in wat vandag onder historici bekendstaan as die ‘klein Renaissance’ van die 12de eeu.

Volgens Oakley het dié universiteite reeds met hul verbintenis tot die strewe na dinge soos die ware, die skone en die goeie ʼn kragtige invloed op die kunste, die musiek, die denke, die politiek, die wetenskappe en ook die ekonomie uitgeoefen.

James Hankins, ʼn historikus van Harvard, toon in onlangse werke soos Virtue Politics en Political Meritocracy in Renaissance Italy aan hoe universiteite tydens die 15de eeu ʼn soortgelyke rol met betrekking tot die geboorte van die (groot) Renaissance gespeel het. Soos met die vroeëre universiteite het ook hulle ʼn kragtige kulturele herlewing moontlik gemaak – op bykans elke terrein van die lewe.

Akademia staan nie neutraal ten opsigte van taal en kultuur nie. Inteendeel, Akademia neem sy plek met trots binne en ten gunste van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe op. Volgende jaar, en ook vandag, bring ons hulde aan diegene wat ‘universitêre Afrikaans’ en so ook die amptelike erkenning van ons moedertaal moontlik gemaak het.

Prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, meen universiteite bied die water, grondstowwe en lig wat tale en kulture nodig het om te floreer.