Search
Close this search box.

Skootrekenaar, tablet of harde kopie handboek?

31 Augustus 2023

Geskryf deur Anien van Niekerk, Fontiepos-joernalis

Om te studeer bly maar ʼn uitdaging. Baie van ons sou dit verkies het om die nuutste episode van ʼn Netflix-reeks te kyk, maar om ʼn blink toekoms te bou is dit nodig om elke nou en dan die handboeke oop te maak. Of wag, maak jy nog boeke oop? In die digitale era waarin ons onsself bevind is daar mos vele alternatiewe.

Skootrekenaars en fone is bykans onmisbare oorlewingsgereedskap. Daaruit ontstaan die vraag: Wat is die beste manier van studeer? Is dit op ʼn tablet, ʼn skootrekenaar of tradisionele handboeke? Al drie van hierdie leermiddele het voor- en nadele.

Handboeke word al vir jare gebruik en baie studente verkies steeds hierdie manier van leer. Fisiese boeke bied aan studente die geleentheid om skermtyd te beperk. Hulle aandag word nie so maklik afgetrek deur ander vensters wat toevallig oop is, soos wat gebeur as digitale toestelle gebruik word nie. Om ʼn fisiese handboek deur te blaai voel vir baie studente asof hulle vorder en hulle is dan gemotiveerd om verder te leer. Een van die grootse voordele van handboeke is dat wanneer beurtkrag inskop en jou digitale toestelle nie gelaai is nie, jy steeds kan leer. ʼn Groot nadeel is dat die meeste handboeke wat deesdae gepubliseer word baie dik en swaar is, wat dit moeilik maak om rond te karwei.

ʼn Skootrekenaar is weer makliker om rondgedra te word, aangesien jy verskeie boeke daarop kan laai. Dit is baie nuttig om al jou lêers, boeke en klasnotas op een plek te stoor. Skootrekenaars word ongelukkig dikwels gesteel, so studente in Suid-Afrika sal twee keer dink voordat hulle hul skootrekenaars in die openbaar uitstal.

Tablette is ʼn ander storie. Die feit dat hulle heelwat kleiner as skootrekenaars is, maak dat mense rustiger voel om tablette, eerder as skootrekenaars, in die openbaar rond te dra. Sommige tabletmodelle kom selfs saam met ʼn slimpen, wat dit maklik maak om notas in jou e-boeke te maak. Dit is baie handig as jy gou iets wil onderstreep of merk. ʼn Nadeel van tablette is egter dat hulle kleiner skerms het, verbasend duurder as skootrekenaars is, en die moontlikheid groot is dat ʼn mens kopseer kan ontwikkel deur te lank na dieselfde skerm te staar.

Akademia se model bied aan studente die geleentheid om van ʼn kombinasie van skootrekenaars, handboeke en tablette gebruik te maak. Ons almal het die voorreg om te bepaal watter een die beste vir ons werk. Dalk kan jy in jou voorbereiding vir die volgende semestertoets of eksamen eksperimenteer om te sien watter een die beste vir jou werk!

Wat is die beste manier van studeer? Is dit op ʼn tablet, ʼn skootrekenaar of tradisionele handboeke?

 

Alle Fontiepos-artikels is deur studente vir studente geskryf en weerspieël nie noodwendig Akademia se mening of standpunt nie.