Ons kulturele krisis. En oor die skone, die ware en die goeie.
Gepubliseer op: 18 Nobember 2021
Geskryf deur prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia.
In die filosofie is dit reeds ʼn oeroue tradisie om oor “kulturele krisisse” na te dink. Reeds tydens die Klassieke tydperk het filosowe daaroor geskryf. Ons hoef maar net aan Plato (427v.C.-347v.C.) te herinner. Soos wat ons weet, het Plato, waarskynlik die grootste denker uit die Klassieke tydperk, in talle van sy werke oor die kultuurkrisis van sy eie tyd nagedink. Veral in sy invloedryke Republiek poog hy om ʼn antwoord daarop te gee.
Tydens die afgelope twee eeue is dit ook ʼn tema waarby moderne filosowe gereeld stilstaan. In hierdie verband hoef ons maar net aan groot name uit die moderne tydperk soos Hegel (1770-1831), Nietzsche (1844-1900) en Heidegger (1889-1976) te herinner. In vele opsigte poog hulle om die “nihilisme” (afgelei van die “niks”) ten grondslag van die moderne kultuur te begryp. In plaas daarvan dat God ten grondslag van die moderne ervaring lê, word dit eerder deur ʼn groot niks onderlê.
Vandag is dit Wêreldfilosofiedag. Ondanks die “gewigtige” en selfs “donker” aard van die tema, staan ons ter viering van dié dag kortliks by die hedendaagse kultuurkrisis stil. Omdat dit so ʼn enorme tema in die filosofie is, fokus ons op slegs ʼn enkele belangrike eienskap daarvan. In die besonder bring ons die hedendaagse ervaring van die “werklikheid” ter sprake.
Alvorens ons egter daarop fokus, staan ons ter inleiding kortliks by enkele ander eienskappe van die kultuurkrisis stil. Hopelik skep dit die nodige agtergrond vir ons tema. Ons formuleer puntsgewys:
Eerstens kan die morele verval van ons tydperk as ʼn belangrike eienskap van die hedendaagse kultuurkrisis beskou word. Die morele verval blyk onder meer uit die wyse waarop geweld in die alledaagse lewe en in die populêre uitbeelding daarvan bykans as “normaal” ervaar word; maar dit blyk ook uit dinge soos die plek wat ʼn instrumentele opvatting van ander mense vandag as vanselfsprekend aanvaar word (ʼn opvatting ingevolge waarvan andere bloot ter wille van eie mag en gewin ingespan word); uit ʼn verbintenis tot onbeperkte vorme van materialisme en morsige verbruikerspatrone; asook uit ʼn algemene kultuur van relativisme en ʼn gevolglike verlies aan standhoudende etiese riglyne.
In die tweede plek kan die enigsins dramatiese agteruitgang van ʼn oeroue instelling soos die tradisionele gesin vanaf die sestigerjare ook as ʼn belangrike kenmerk van die hedendaagse kultuurkrisis beskou word. In hierdie verband word tereg verwys na die negatiewe gevolge wat die ontbinding van gesinne op jongmense se ervaring van sin en betekenis het; hul ervaring van vereensaming en verlies aan geborgenheid; neigings tot selfmoord, ensovoorts. Tegelyk kan met oortuiging aangevoer word dat die gesinskrisis omvattende negatiewe implikasies vir sosiale en ekonomiese stabiliteit het. Verskeie kundiges wys reeds oor ʼn tydperk van dekades op die verband tussen hoë misdaadvlakke in onder meer Suid-Afrika en die verlies aan gesonde gesinstrukture.
Derdens moet ook verwys word na die verstikkende greep wat radikale ideologieë (saamgevat in die term “wokeness”) op hedendaagse universiteite, die vermaaklikheidswêreld, die media en ook groot besighede het. In plaas daarvan dat hierdie instellings deur ʼn respek vir die tradisies waaruit dit ontwikkel het gekenmerk word, word dit eerder deur ʼn diepe minagting aangevuur. In die naam van diversiteit en onrealistiese verwagtinge met betrekking tot gelykheid poog talle universiteite om ʼn strakke eenvormigheid op studente en dosente af te dwing. Alles in stryd met die gees van ondersoekende openheid wat die universitêre lewe na regte behoort te kenmerk.
Vierdens blyk die kultuurkrisis uit die hedendaagse opvatting dat die mens ʼn onverbonde individu is wat deur ʼn absolute keusevryheid gekenmerk word. Een van die talle gevolge hiervan is dat die individu eenvoudig sy rug op historiese verbande soos die eie gesin, kultuur, taal en godsdiens draai. Vanuit ʼn staanplek buite en selfs onverskillig jeens sodanige tradisionele verbande kies die onverbonde individu voortaan self waartoe hy homself wil verbind. In wese staan sy eie private belange in die sentrum van sy aandag, terwyl groter ideale (waarvoor hy sy lewe vroeër opgeoffer het) tot ʼn blote keuse naas ander dinge uitgerangeer word. Geen wonder dat dié verskraalde opvatting van menswees met ʼn intense verlies aan sin en betekenis gepaard gaan nie.
Vyfdens kan ook verwys word na dié tendense in die intellektuele wêreld wat aanvoer dat die mensdom tans ʼn sogenaamde “posthumane” tydperk betree. Laasgenoemde is ʼn tydperk waarin die mens met behulp van supertegnologiese instrumente tot ʼn mensmasjien herdefinieer word. Die Bybelse opvatting dat die mens na die beeld van God geskape is, word daarmee aan die vergetelheid oorgegee.
ʼn Sesde kenmerk van die krisis is geleë in die feit dat die moderne en hedendaagse globale ekonomiese orde op die oneindige vermenigvuldiging van begeertes rus; dat ʼn lewenshouding gekenmerk deur ʼn oneindige hoeveelheid begeertes deur ontevredenheid, onvergenoegdheid en selfs wrokkigheid gekenmerk word. In vele opsigte is dit ʼn onvolhoubare lewenshouding, omdat dit onder meer tot die verwoesting van ʼn sin vir gemeenskap, ʼn opheffing van ʼn diepgewortelde dankbaarheid jeens die geskenkte werklikheid en ook ʼn radikale uitputting van die natuur aanleiding gee.
ʼn Sewende kenmerk van die krisis is geleë in die kriminalisering van die tradisie (“die verlede is boos”). Dit gaan gepaard met die problematiek van skuld, selfveragting, vrees vir die eie (Roger Scruton verwys daarna as “oikofobie”) en ʼn verlammende verlies aan selfvertroue by Westerse elites in die eie geestelike, intellektuele, politieke en sosiale tradisies; die prysgawe van politieke en nasionale grense; asook utopiese verwagtinge wat aan die uitbreiding van die liberale demokrasie en individuele regte dwarsoor die globale wêreld geheg word.
ʼn Voorlaaste kenmerk van die krisis is spesifiek filosofies van aard. Dit hou verband met die wyse waarop die hedendaagse mens die werklikheid self ervaar. Ons keer hieronder daarna terug. Voorlopig net dit: Vanuit talle populêre sowel as intellektuele kringe word die werklikheid as ʼn donker afgrond ervaar; as iets wat sinloos, irrasioneel, afskuwelik en ook doelloos is. Een van die talle gevolgtrekkings wat hieruit afgelei word, is dat die werklikheid iets is waarteenoor ons onverskillig kan staan; iets waarvan ons kan wegstap; of selfs iets wat ons na willekeur aan ons eie magsbelange kan onderwerp, uitbuit, verhandel of bloot kan weggooi.
ʼn Laaste kenmerk van die krisis blyk uit wat kortweg beskryf kan word as die “dood van God” in die Weste. Dit blyk onder meer uit die verlies aan ʼn hoogste maatstaf waaraan die alledaagse geanker kan word; die ontkerstening van die Europese mens; Christelike kerke wat reeds vanaf die sestigerjare leegloop; die teologie wat sy rasionele oortuigingskrag in die gesprek met die wetenskappe verloor; die privatisering van die geloof (“geloof is slegs ʼn funksie van my keuse as individu”) en oorhoofs die verwysings na ons era as ʼn sogenaamde post-Christelike era.
Dit verg geen groot insig om te besef dat hierdie en verskeie ander eienskappe van die kultuurkrisis nie van mekaar geïsoleer kan word nie. Inteendeel, om die volle omvang daarvan te verstaan, moet die verskillende eienskappe in hul onderlinge samehang raakgesien word.
Omdat so ʼn opgawe egter ver buite die grense van hierdie artikel strek, wil ons hieronder by slegs een aspek van die hedendaagse kulturele krisis stilstaan, naamlik die filosofiese en in die besonder die (effens geleerd geformuleer) ontologiese vraag na die aard en wese van die werklikheid. Tegelyk sal kortliks vanuit die tradisie van filosofiese denke op ʼn antwoord gewys word.
Twee botsende opvattinge van die werklikheid
In die gemoed van die hedendaagse mens woed daar ʼn stryd oor die aard en wese van die werklikheid. Ten minste twee radikaal uiteenlopende beskouings stry om sy aandag. Ons staan kortliks by elkeen stil.
Volgens die eerste beskouing is die werklikheid ongeordend, toevallig en doelloos. Ten diepste word die werklikheid nie deur enige vorm van rasionaliteit, ordelikheid en doelmatigheid gekenmerk nie. Indien daar spore van die rasionele, die ordelike en die doelmatige daarin aanwesig is, is dit nie omdat ons dit daarin ontdek het nie, maar omdat ons dit van buite af (kunsmatig) daaraan opgelê het. Einde ten laaste is die werklikheid ongeordend, doelloos en ook iets wat geen etiese riglyne vir die mens bevat nie. Trouens, die werklikheid moet as ʼn blinde, toevallige en doellose spel van materiële kragte verstaan word.
ʼn Invloedryke voorbeeld hiervan blyk uit die werk van Gilles Deleuze en Felix Guattari, Franse filosowe van enkele dekades gelede. Volgens Deleuze en Guattari, wat ná hul dood in onderskeidelik 1995 en 1992 buitengewoon gewild aan Westerse universiteite geword het, moet die werklikheid self as ʼn doellose vryval van energieë verstaan word. In hul taal geformuleer, die werklikheid kan met wildgroeiende wortels (“risome”) vergelyk word. Soos wat risome onvoorspelbaar in enige rigting kan groei, so is die werklikheid self rigting- en doelloos.
Enige poging om die “risomatiese” aard van die werklikheid te orden deur dit op ʼn hoogste doel te rig, beteken volgens Deleuze en Guattari om jouself aan fascisme skuldig te maak. Enige doelgerigte beweging is toevallig. Om doelwitte in die werklikheid in te lees, is om jouself aan fascisme skuldig te maak.
Maar dit bring ons by die alternatiewe opvatting, die opvatting wat ons onder meer uit ons filosofiese bronne leer ken het. Volgens die tweede beskouing word die werklikheid deur vorme van rasionaliteit, ordelikheid en doelmatigheid gekenmerk. In aansluiting by die oudste filosofiese bronne kan aangevoer word dat die werklikheid self (ondanks die talle gebreke en die diepgaande invloed van die “sondeval”) deur waarheid, goedheid en skoonheid gekenmerk word. In die filosofiese tradisie word dikwels na dié sentrale eienskappe as die drie “transendentalia” van die werklikheid verwys.
Ingevolge die ou filosofiese opvatting is die werklikheid nie ʼn donker afgrond wat ons nie kan ken nie. Inderwaarheid is die werklikheid vir die denke toeganklik (alhoewel vir ons as sterflike wesens nooit volledig nie). Tegelyk is die werklikheid ook nie ʼn donker en onpeilbare boosheid nie, maar eerder goed (ondanks die breuke en krake wat dit ook kenmerk). Laastens is die werklikheid ook nie afskuwelik, skrikwekkend of weersinwekkend nie, maar vanweë sy skoonheid eerder ʼn bron van oneindige verwondering.
Ons staan slegs by enkele aspekte van die tradisionele opvatting van die werklikheid stil.
Die tradisionele filosofie
Eerstens sou ʼn mens kon vra waarin die drie transendentalia van die werklikheid gegrond is. Waaruit spruit die gedagte dat die werklikheid (in die mate waarin dit “is”) deur waarheid, goedheid en skoonheid gekenmerk word?
Ons oudste filosofiese bronne het ʼn duidelike antwoord: Ten diepste is die waarheid, goedheid en skoonheid van dit wat “is” in die God geanker. Omdat God self die volmaakte waarheid, goedheid en skoonheid is, word sy skepping (nogmaals, ondanks die breuke en krake daarin) ook deur spore van die waarheid, goedheid en skoonheid gekenmerk.
As ons ʼn oomblik soos ʼn teoloog mag klink: In die Bybel word tot oorvloede toe van hierdie eienskappe van God geskryf. Ons verwys slegs na een te midde van talle beskrywings van die skoonheid (“lieflikheid”) van God:
Een ding het ek van die Here begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikheid van die Here te aanskou en te ondersoek in sy tempel (Ps. 27:4).
Ons kan vandag kwalik ʼn sinvolle antwoord op die kultuurkrisis van ons tyd gee sonder om die ou opvatting oor die wonder van die skepping en die gronde daarvan in God self te herontdek.
Tweedens, ʼn sentrale kenmerk van die skepping is dat dit telkens deur die bronne as ʼn “geskenk” ervaar word. Die skepping is nie in die eerste plek die gevolg van ons eie vaardigheid, inspanning en vermoë om te konstrueer nie. Die skepping is in die eerste plek iets wat ons buite-om ons eie vermoë as ʼn pure geskenk ontvang het.
Onlosmaaklik deel van die krisis wat die Weste vandag beetgepak het, is die beskouing dat dit wat is ʼn blote gevolg van ons eie vermoë is. Ingevolge dié beskouing is alles wat is ʼn blote funksie van ons eie menslike vermoë om te konstrueer, te skep, te maak. Geen wonder dat dankbaarheid vandag op die agtergrond staan en die hedendaagse mens ook deur ʼn gebrek aan respek vir dit wat is, gekenmerk word nie. As dit wat “is” slegs die gevolg van my eie vaardigheid is, kan dit ook met ʼn onverskillige houding weggegooi word. Waarom? Omdat die werklikheid self in geen hoër gesag as my eie vermoë tot konstruksie geanker is nie.
Uit bogenoemde moet nie afgelei word dat die tradisie van filosofiese denke die skeppingsvermoë van die mens ontken of geringskat nie. Ingevolge die uitgangspunte van die tradisionele filosofiese denke word die mens opgeroep om uit dankbaarheid die werklikheid aktief te kultiveer (uit te bou, te ontwikkel en te versorg). Sy skeppingsvermoë is egter geen outonome vermoë nie. Dit is eerder ʼn vermoë wat hy ontleen aan die feit dat dit wat “is” hom voorafgaan en sonder enige verdienste aan hom geskenk is.
Ook wat hierdie saak betref, kan gesê word dat ons vandag kwalik ʼn sinvolle antwoord op die kultuurkrisis sal kan gee, sonder om hierdie ou waarhede uit die tradisie te herontdek.
ʼn Derde en laaste punt moet ook kortliks beklemtoon word. Ingevolge die tradisionele filosofiese opvatting kan die werklikheid nie van sy oorspronge in God geïsoleer en uiteindelik as ʼn pure sekulêre werklikheid beskou word nie. Dit wil sê as ʼn werklikheid wat van enige “transendente buitekant” losgemaak en nou slegs “na binne” en op sy eie outonome funksionering gerig is.
Volgens ons filosofiese bronne is die skepping vir sy blote wees (sy bestaan of eksistensie) van God afhanklik. Sonder God kan die skepping nie wees nie, selfs nie vir ʼn duisendste van ʼn sekonde nie. ʼn Belangrike gevolgtrekking oor die aard van die mens word hieruit afgelei: Vanweë sy wesensafhanklikheid jeens God word die mens opgeroep om met dankbaarheid aan die skepping deel te neem (eerder as om hom daarvan te isoleer en sy lewe rondom sy eie private belange te definieer). In en deur sy deelnemende gerigtheid op die ware, die goeie en die skone, kan die mens floreer.
Ten slotte
Alhoewel ons hierbo slegs in bondige terme na een antwoord (die ontologiese antwoord) op die kultuurkrisis verwys het, bied dit ʼn vertrekpunt met behulp waarvan antwoorde op die ander aspekte van die krisis gegee kan word.
Indien ons die werklikheid byvoorbeeld soos in die tradisie as ʼn geskenk ervaar wat ons tot dankbare deelname aanmoedig, word reeds ʼn antwoord op die onverbonde individualisme van ons tyd gee. Ingevolge die tradisionele opvatting kom ons immers nie tot ons “reg” wanneer ons ons lewe rondom ons eie individuele belange definieer nie, maar wanneer ons buite onsself uitreik en ʼn deelnemende rol in onder meer die gesin, skool, universiteit en politiek speel.
Alhoewel ons nie hier die tyd het om die implikasies van die tradisionele (noem dit) “deelnemende ontologie” verder te ontwikkel nie, bevat dit ook noodsaaklike wenke hoe om op die gesinsverbrokkeling te antwoord; maar ook op die ideologiese greep wat vandag op universiteit, die media, vermaak en groot besigheid uitgeoefen word; op die utopiese en grenslose uitbreiding van individuele regte in die politieke lewe; op die onvergenoegdheid waartoe ons grenslose hoeveelheid begeertes aanleiding gee; op die uitputting van die natuur en laastens, ook op die ontkerstening van ons wêreld.
Om onsself op die tradisie van filosofiese denke te beroep, beteken nie om ons rug op die toekoms te draai nie. Inteendeel, met dié beroep hoor ons eerder wenke van ʼn helder en nuwe toekoms. Op hierdie Wêreldfilosofiedag is dit goed om daaraan te herinner.