NRO’s word sosialemediaslim met die hulp van Akademia-kundiges

Gepubliseer op: 4 Julie 2025

Sosiale media het die lewe, insluitend die manier waarop ons besigheid doen, ingrypend verander. Danksy diesulke platforms kan jy nou met die druk van ʼn enkele knoppie óf die klik van ʼn muis met die ganse wêreld kommunikeer én kompeteer. Gedagtig hieraan het akademici vanuit die BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-program by Akademia onlangs ʼn dinamiese sosialemediawerkswinkel vir verteenwoordigers van verskeie nieregeringsorganisasies (NRO’s) aangebied.

Die doel van die Social Savvy-werkswinkel, wat op 26 Junie by die instelling se Moot-sentrum aangebied is, was om NRO’s se impak te versterk deur nuwe kennis en praktiese vaardighede. Verteenwoordigers van Dynamic Women for Children, Uitkoms Versorgingsentrum, Eljada Huis, Huis Herfsblaar en The Breadhouse het die werkswinkel bygewoon wat spesifiek op handelsmerkbewustheid en fondsinsamelingspraktyke gefokus het. Tania Hoon, Solidariteit Helpende Hand se streeksorganiseerder vir die Pretoria-Oos-streek, het die klem op beste sosialemediapraktyke laat val, terwyl Akademia-kundiges deelnemers gehelp het om hul nuutgevonde kennis en vaardighede prakties in hul bestaande planne en besigheidspraktyke toe te pas.

Volgens drs. Anneri Geyer en Hélanie Jonker, beide dosente verbonde aan die instelling se Departement Tale en Kultuurwetenskappe, staar die NRO-omgewing baie spesifieke uitdagings in die gesig, veral as dit kom by spesialisvaardighede soos kommunikasie en bemarking. In die lig hiervan is dit vir Akademia, as ʼn gemeenskapsinstelling, belangrik om op ʼn dienende wyse te help om hierdie uitdagings aan te pak en só die gemeenskap se hande te versterk.

Beide Geyer en Jonker is dit eens dat effektiewe en bewese kommunikasievaardighede ʼn baie belangrike rol binne die NRO-omgewing speel, veral gegewe die feit dat hierdie organisasies meestal van skenkings of donasies asook goeie belangegroepkommunikasie afhanklik is vir hul voortbestaan. Die realiteit is egter dat hierdie kommunikasieverantwoordelikhede dikwels aan ʼn personeellid of vrywilliger oorgelaat word wat óf reeds gebuk gaan onder ʼn groot pligslading óf nie oor die nodige spesialiskennis beskik nie. Hiermee saam is begrotings knap en kan dié belangrike taak nie uitbestee word nie.

Jonker voeg by dat dit vir die deelnemende dosente, as praktykskenners, lekker is om ná afloop van die werkswinkel te sien hoe dat die nuuttoegevoegde kennis en vaardighede die NRO-verteenwoordigers in staat stel om met impak voort te bou op die ongelooflike gemeenskapsdiens wat hulle reeds verrig.

Benewens dié werkswinkel sal studente in die BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-program voorts hul finalejaarsprojekte op die deelnemende organisasies se kommunikasie en bemarkingsaktiwiteite skoei. Laasgenoemde behels onder meer die identifisering van ʼn uitdaging óf geleentheid asook die ontwikkeling van ʼn pasgemaakte strategiese kommunikasieplan in dié verband. “Ons studente onderneem ʼn leersame ontwikkelingsreis saam met die NRO-gemeenskap as reisgenoot, en deur samewerking en begrip word daar nie nét oplossings gevind nie, maar vind ʼn wedersydse leerervaring plaas wat die gemeenskap en die studente positief raak,” meen Jonker.

Aansoeke vir die BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-program vir die 2026- akademiese jaar word tans ingewag. Besoek die Akademia-webblad vir meer inligting.

Akademici vanuit die BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-program aan Akademia het onlangs ʼn dinamiese sosialemediawerkswinkel vir verteenwoordigers van verskeie nieregeringsorganisasies (NRO’s) aangebied. Van links is dr. Hélanie Jonker, dr. Anneri Geyer (beide dosente: Tale en Kultuurwetenskappe) en dr. Alé Steyn (departementshoof: Tale en Kultuurwetenskappe).
Verteenwoordigers van Dynamic Women for Children, Uitkoms Versorgingsentrum, Eljada Huis, Huis Herfsblaar en The Breadhouse het die Social Savvy-werkswinkel bygewoon.
Tania Hoon, Solidariteit Helpende Hand se streeksorganiseerder vir die Pretoria-Oos-streek het tydens die werkswinkel die klem op beste sosialemediapraktyke geplaas.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.