Moedertaal, woordeskat en realiteitsvorming: ʼn Onlosmaaklike verbintenis

Gepubliseer op: 20 Februarie 2025

Geskryf deur Lira Beukes, dosent: Professionele Studies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.

Internasionale Moedertaaldag word op Vrydag 21 Februarie 2025 gevier. Vanjaar se viering verteenwoordig die 25ste herdenking van dié taalgebeurlikheid wat dit ten doel het om te fokus op linguistiese veelheid, en die daadwerklike impak daarvan op die menslike ontwikkeling.

Hoewel dié viering wêreldwyd plaasvind, dui statistiek daarop dat slegs 7 000 van die beraamde 8 324 moedertale nog aktief in gebruik is. Hierdie statistiek is kommerwekkend omdat die afsterwe van ʼn taal beteken dat leer in die taal nie meer plaasvind nie en só ook nie begripsontwikkeling, gemeenskapsvorming óf die kweek van kritiese vaardighede nie.

Moedertaal: die bril waarmee daar na die wêreld gekyk word

Taal vorm die lens waardeur ons die wêreld aanskou, ʼn realiteit wat deurgaans deur navorsing beklemtoon word. In die geval van jong kinders gee taal gestalte aan ʼn kind se algehele ervaringswêreld deurdat dit hom/haar toelaat om te benoem, te beleef en uiteindelik betekenis toe te ken.

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) definieer moedertaal as ʼn tweeledige konsep. Eerstens as die taal wat eerste aangeleer word deur die invloed van ʼn moeder óf in die tweede plek as die taal wat die meeste in die huis gebruik word. Laasgenoemde is dan ook die taal waarmee ʼn persoon die beste mee kan identifiseer óf die taal wat ʼn persoon die beste ken. Die moeder-metafoor in hierdie definisie onderstreep nie net die emosionele verbintenis tot moedertaal nie, maar ook die sentrale rol wat dit speel in die ontwikkeling van selfidentiteit en ʼn gepaardgaande wêreldbeskouing.

Volgens dr. Pieter Jusczyk, ʼn vooraanstaande internasionale taalverwerwingsielkundige, word babas reeds in die baarmoeder aan hul moedertaal blootgestel. Hierna leer ʼn moeder haar kind deur eenvoudige sinnetjies soos byvoorbeeld: “Boetie, is jy honger?” Deur diesulke basiese vrae te stel word babas geleer hoe om deur taal hul basiese behoeftes te kommunikeer asook watter woorde aan ʼn interne gevoel gekoppel kan word. Babas ontwikkel tot peuters wat deur geluide kommunikeer en uiteindelik, rondom vierjarige ouderdom, oor ʼn woordeskat beskik waarmee hulle hul ervaringe kan deel. Sonder woorde kan ʼn kind nie verduidelik wat hy/sy beleef óf watter emosie daarmee gepaard gaan nie.

Taal en wêreldbeskouing

Die bekende Sapir-Whorf-hipotese argumenteer reeds sedert die middel 1900’s dat taal nie net ʼn weerspieëling van die werklikheid is nie, maar dat dit inderdaad die werklikheid vorm. Ter ondersteuning hiervan meen navorsers dat taal voorts die spreker se realiteitsbegrip beïnvloed. Hierdie aanname word prakties geïllustreer deur die Kay and Kempton 1984-eksperiment waartydens Engelse moedertaalsprekers maklik tussen blou en groen kon onderskei, terwyl Tarahumara-sprekers van Mexiko – wat slegs een woord, “siyóname”, vir beide kleure het – nie dié onderskeid kon maak nie.

Moedertaal en kritiese denke: Orwell se waarskuwing

George Orwell, die bekende Engelse digter en skrywer, het in sy roman 1984 ʼn skrikwekkende visie geskets van ʼn wêreld waarin taal beperk word om denke te beheer: “Don’t you see that the whole aim of Newspeak is to narrow the range of thought? In the end we shall make thoughtcrime literally impossible, because there will be no words in which to express it.”

Hierdie aanhaling onderstreep hoe taal en woordeskat kritiese denke beïnvloed. ʼn Ruimer woordeskat stel individue in staat om die wêreld beter te begryp, abstrakte konsepte te verwoord én kritiese argumente te voer.

Die belangrikheid van lees en woordeskat

Wanneer ons Internasionale Moedertaaldag vier, benadruk ons die belangrikheid daarvan dat ons, as Afrikaanse moedertaalsprekers, ons moedertaal optimaal moet benut, uitbrei en koester. In hierdie milieu speel lees ʼn sleutelrol.

Dit is ʼn bewese feit dat kinders waarvoor daar gereeld voorgelees word, ʼn aansienlik groter en meer uitgebreide woordeskat ontwikkel. Die rede hiervoor is dat kinderboeke as ʼn leksikale hutspot dien omdat dié boeke ʼn relatiewe hoë volume van skaars of eiesoortige woorde bevat wat nie noodwendig in algemene gesprekstaal opduik nie. Ter illustrasie hiervan toon navorsing dat ʼn tipiese voorlesing vir kinders van geboorte tot vyf jaar oud, ʼn kind aan die volgende aantal woorde blootstel:

Weeklikse leesfrekwensie

Woordblootstelling:
Leesboek

Woordblootstelling:
Prenteboek

Veelvuldige boeke per dag

234 780

389 480

Daagliks

46 956

77 896

Drie tot vyf keer per week

26 832

44 512

Een tot twee keer per week

10 062

16 692

Nooit

738

1 224

Woordeskat in die palm van jou hand

Tegnologie bied vandag ʼn oorvloed moontlikhede om ons woordeskat in ons moedertaal selfs te verryk. Inisiatiewe in dié verband sluit in Die Virtuele Instituut vir Afrikaans* (VivA) asook die Beter Afrikaans-platform.

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) is nóg ʼn nuttige hulpbron terwyl die speletjies Wortel en Kwartel op ʼn eenvoudige, maar vermaaklike wyse help om ʼn persoon se Afrikaanse woordeskat uit te brei.

Die bekende aanhaling van CJ Langenhoven herinner ons dat elke persoon die waarde van sy eie moedertaal moet besef en vier. Mag Afrikaans, as jou moedertaal, vir jou die bril bly waardeur jy die wêreld glashelder kan aanskou en waardeer.

*Akademia en VivA staan in ʼn dinamiese samewerkingsooreenkoms met mekaar ten einde die hoëordefunksies van Afrikaans te bevorder. In dié verband tree VivA op as ʼn onafhanklike kontrakteur vir die instelling se Taalsentrum.

Lira Beukes, dosent: Professionele Studies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen dat moedertaal, woordeskat en realiteitsvorming ʼn onlosmaaklike verbintenis tot mekaar het. Hierdie verbintenis behoort opnuut tydens Internasionale Moedertaaldag aandag te geniet.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.