Gepubliseer op: 17 April 2024
Die Departement Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia het op Dinsdag 16 April ʼn simposium op die instelling se Leriba-kampus in Centurion aangebied. Die jaarlikse Joernalistieksimposium het die belangrikheid van die media se rol tydens verkiesingstye onder die loep geneem. Verskeie mediapersone van dwarsoor die land het die simposium bygewoon en ook as sprekers en paneellede opgetree. Akademici en studente van Akademia se BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-program het ook die dag bygewoon en skouers met die mediareuse geskuur.
Alida Kok, departementshoof van Sosiale Wetenskappe by Akademia, het die verrigtinge geopen waarna dr. Alé Steyn, departementshoof van Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia die gaste verwelkom het. “Die departement is baie trots om vanjaar ons tweede Joernalistieksimposium te kan aanbied. Ons span was dit eens dat ons nie anders kan as om vanjaar oor die rol van die media in verkiesingtye te gesels nie. Dit is vir ons belangrik om die tema uit ʼn verskeidenheid hoeke te benader en daarom het ons ʼn besonderse groep sprekers en paneellede by vanjaar se simposium wat kenners op hul gebied is.”
Die eerste spreker vir die dag, dr. Pieter Mulder, ʼn onafhanklike politieke kommentator, het die gaste ingelig oor die 2024- politieke landskap en die rol van die media tydens so ʼn verkiesingsjaar. Hy het vanjaar se verkiesing in Suid-Afrika kortliks bespreek en genoem dat alhoewel 28 miljoen mense vir vanjaar se verkiesing geregistreer is, die belangrikste is hoeveel werklik gaan stem. Mulder het genoem dat ʼn gesonde demokrasie veronderstel dat die mense stem nadat hulle goed ingelig is oor al die partye waarvoor hulle kan stem.
“Deesdae kan die mense nie al die leiers persoonlik ontmoet nie en moet hul inligting vanuit die media ontvang. Die politieke partye is dus afhanklik van die media om hulle inligting weer te gee,” noem Mulder. “As die media ʼn verantwoordelike rol vervul, kry jy ʼn gesonde demokrasie maar dit is nie altyd die geval nie. In verkiesingstye moet die media die onderskeid tussen verslag doen en analise behou en dus die feite van die menings kan skei.”
Die unieke rol van die openbare uitsaaier is uitgelig deur Magdaleen Krüger, voormalige stasiebestuurder van RSG. “Suid-Afrika se openbare uitsaaier, die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK), se rol is om in te lig, op te voed en te vermaak – ook in verkiesingstye, die vermaak val dan net weg. Die openbare uitsaaier het die geleentheid, asook die verantwoordelikheid, om inligting oor die verkiesing en partye vooraf, tydens en ná die verkiesing aan kiesers oor te dra,” noem Krüger. “Die SAUK bereik ongeveer 44,5 miljoen gebruikers per week van die verste uithoeke van die land. Onafhanklikheid en integriteit van openbare uitsaaiers is dus baie belangrik tydens verkiesingstye en die SAUK streef dit na weens die geweldige invloed, rol en verantwoordelikheid tydens veral verkiesingtye.”
Gert van der Westhuizen, Netwerk24 se politieke redakteur, het gesels oor fopnuus en “geheime” meningspeilings. Hy het ook die uitdagings van die media in ʼn hedendaagse demokrasie bespreek. “Inligting oor die verkiesing en verskillende politieke partye is vandag net die druk van ʼn knoppie weg. Daar is wel ʼn donker kant hieraan – daar bestaan fopnuus dwarsoor die internet en veral op sosiale media,” noem hy. “Fopnuus veroorsaak verwarring, mors mense, en veral joernaliste, se tyd en kan selfs paniek veroorsaak. Voorbeelde hiervan sluit in vals profiele van politieke leiers en vals stories wat op sosiale media versprei word. Die publiek en die media het ʼn groot verantwoordelikheid om navorsing te doen oor die egtheid van nuus voor dit versprei word.”
Kunsmatige intelligensie is ʼn groot besprekingspunt in hedendaagse joernalistiek. Prof. Basie von Solms, navorsingsprofessor in kubersekuriteit aan die Universiteit van Johannesburg se Sentrum vir Kubersekuriteit, het oor kunsmatige intelligensie-gedrewe mis- en disformasie as die grootste globale risiko gepraat. Hy het verwys na die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se jaarlikse Wêreldrisikoverslag van 2024. Die verslag het getoon dat uit die 34 korttermynrisiko’s vir die volgende twee jaar, die toprisiko kunsmatige intelligensie se gemanipuleerde misinformasie en disinformasie is.
Volgens Von Solms behels dit vals en onakkurate inligting wat doelbewus probeer om mense te mislei. “Die WEF prioritiseer hierdie risiko as veral ernstig aangesien die jaar verskeie groot nasionale verkiesings inhou waarin drie miljard mense wêreldwyd gaan kan stem,” noem Von Solms. “Die media moet die geleentheid gebruik om hierdie gevare aan die publiek uit te lig.”
Carina van Wyk, hoof van Onderrig en Opleiding by Africa Check, het die gaste toegespreek oor die rol van onafhanklike feiteverifiëring en mediageletterdheid tydens die verkiesingstyd. “By Africa Check verifieer ons die akkuraatheid van inligting in die openbare domein. Dit sluit tradisionele en sosiale media in. In aanloop tot die verkiesing kyk ons na verskeie politieke partye se stellings, asook stellings oor die partye, om te bepaal of dit akkuraat of misleidend is,” noem sy. “In tye van onsekerheid is daar beslis ʼn toename in vals inligting. Van die voorbeelde van vals inligting waarvoor die publiek en die media moet uitkyk in die verkiesingstyd is bekendes wat glo sekere partye ondersteun, politici wat verkeerd aangehaal word, vals profiele op sosiale media, gemanipuleerde grafika en vele meer.”
Die dag is afgesluit deur ʼn paneelgesprek gelei deur Suzanne Paxton, aanbieder van Spektrum en Kommentaar op RSG. Paneellede het ingesluit Von Solms, Krüger, Tim du Plessis, onafhanklike joernalis en politieke skrywer, Vicus Bürger, Netwerk24 se nuusredakteur in die noordelike streek, en Christel Cornelissen, hardenuusredakteur by Maroela Media.
Die dag se tema – die rol van die media tydens verkiesingstye – was ʼn groot besprekingspunt tydens die paneelgesprek. Die paneel is dit eens dat die rol van die media kortliks opgesom is om kiesers in te lig en op te voed oor die inligting wat hulle nodig het om ʼn ingeligte keuse by die stembus te kan maak.
ʼn Tweede belangrike punt tydens die paneelgesprek is die media se rol om kiesers in te lig oor die onderskeid tussen fopnuus en ware nuus. Van Wyk het hierop genoem dat die media hierin ʼn meer opvoedkundige rol moet speel en die publiek moet uitdaag om krities te wees rakende inligting oor die verkiesing. Krüger het dit beaam en bygevoeg dat die media se opvoedingstaak groot is. Cornelissen het ook genoem dat die media ʼn belangrike verwysingsraamwerk is vir mense wat onseker is oor die egtheid van inligting.
Bürger het ook ʼn belangrike punt uitgelig oor die media se rol om politieke partye en hul leiers verantwoordbaar te hou. Cornelissen het hier bygevoeg dat die media hul nie net moet blindstaar teen wat tydens die verkiesing gebeur nie, maar ook wat ná die verkiesing gaan gebeur aangesien die jonger generasie se toekoms daarvan afhanklik is. “Ons moet veral jongmense inlig oor hoeveel vir hul toekoms op die spel is met die verkiesing,” noem Cornelissen.
Opvoeding en die verspreiding van inligting is baie in die paneelgesprek bespreek, maar Du Plessis het ook genoem dat vermaak steeds belangrik is in verkiesingstye. Hy het genoem dat daar steeds plek is vir interessanthede en profielartikels oor politici. “Daar is ʼn groot aanbod van inligting oor die verkiesing en partye beskikbaar en daarom moet die mensfaktor steeds belangrik bly om die publiek se aandag te trek en te hou,” noem Du Plessis. Krüger het wel bygevoeg dat profielstories goed en wel is, maar dat dit nie die bepalende faktor is wanneer dit kom by wie die kiesers voor gaan stem nie.
Die paneelgesprek is afgesluit met die stelling deur Du Plessis dat die media alleen ʼn beperkte invloed op die mens se besluitneming het, ook tydens verkiesingstye. Cornelissen het gesê dat die media die kiesers slegs kan inlig, opvoed en vermaak maar dat die kiesers steeds hul eie kruisies sal moet trek. “Die media moet nie die uitslag bepaal nie, die land se mense moet. Dit is wat dit ʼn demokrasie maak,” sluit sy af.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2024 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.