Internasionale Filosofiedag: Die wese van die filosofie
Gepubliseer op: 18 Nobember 2021
Geskryf deur dr. Hercules Boshoff, dosent: Filosofie en Besigheidsetiek by Akademia
Die herdenking van Internasionale Filosofiedag op 19 November skep geleentheid om weer by die wese van die filosofie stil te staan, naamlik die liefde vir wysheid (filia=liefde, sofia=wysheid). Die eerste vraag wat opkom is waarom so ʼn op die oog af onnodige benaming gebruik; waarom nie gewoon “wysheid” nie? Die tweede vraag is waarom spesifiek liefde daarby betrek, waarom nie behoefte of selfs “begeerte” soos daar in die verlede in Afrikaans, met die naam wysbegeerte, na hierdie versugting verwys is nie? Laat ons laasgenoemde vraagstuk eerste aanpak.
Plato verwys na die wysheid as iets wat noodwendig by die verwondering begin. ʼn Mens sou die verwondering ook kon beskryf as ʼn prikkeling wat verdere ondersoek aanwakker. Die prikkeling is weliswaar van so aard dat die persoon nie kan berus by blote afstandige nuuskierigheid nie; die persoon is besiel om die voorwerp beter te leer ken, en des te meer besiel aangesien hierdie ondersoek ook ʼn bepalende invloed op die persoon uitoefen. Dit is egter nie ʼn geïsoleerde ervaring nie, die filia verwys ook na vriendskap, na diegene wat hierdie liefde deel. Die vriendskap gegrond in die versugting na wysheid vind nie alleen neerslag tussen tydgenote nie maar plaas ons tegelykertyd in verbinding met van die grootste geeste wat nog ooit geleef het.
Maar gee hierdie gebeure nie aanleiding tot die bereik van ʼn gemaklike toestand waarbinne ons selfingenome kan verklaar dat ons nou “weet” en dat verdere ondersoek nou oorbodig is nie? Die teendeel hiervan is waar. Die louter grootheid van die geheel laat ʼn mens opnuut nederig oor die poging wat aangewend word om iets daarvan te kan ervaar en met ander te kan deel. Kant het verklaar aan die einde van een van sy belangrike werke, die Kritiek van die Praktiese Rede, dat hy met verwondering oor twee aangeleenthede gelaat word: die sterre in die hemel en die morele wet binne in ʼn mens. Hieruit kan ons sien waarom Sokrates die ondersoekende lewe as die lewe wat die moeite werd is om te leef, beskryf het.