Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Hoe word die brandstofprys bereken en wat moet jy daaromtrent weet?

Gepubliseer op: 28 Februarie 2020

Geskryf deur Rika Nieuwoudt, programkoördineerder van BCom (Bestuursrekeningkunde) by Akademia

Meeste Suid-Afrikaners bevind hulself op ʼn gereelde basis by ʼn vulstasie om brandstof in hulle motors te gooi. Dit is ʼn gewoonte waarin mens maklik verval, maar wat kos hierdie gewoonte jou en waarvoor word dit aangewend? ʼn Verhoging in die brandstofprys raak elke individu, hetsy jy van persoonlike of openbare vervoer gebruik maak. Die verhoging kan ook beteken dat goedere wat ingevoer of vervoer word se pryse sal styg – waarvan die eindverbruiker die lading moet dra – en daarom is dit nodig om te verstaan watter elemente brandstofprys kan beïnvloed.

Die prys vir een liter brandstof word bepaal deur vier hoof elemente, twee indirekte belastings, die basiese brandstofprys en verspreidingskoste. Die indirekte belastings is redelik vas en kan slegs verhoog of verlaag word deur ʼn amptelike aankondiging deur die Minister van Finansies. Beide die ander komponente is die veranderlike elemente wat in meeste gevalle ʼn verandering in die brandstofprys veroorsaak.

Die basiese brandstofprys word bepaal deur die koste wat geassosieer word met die aankoop en verskeping van petroleum vanaf die Mediterreense gebied, Arabiese Golf en Singapoer. Hierdie koste sluit die koste vir versekering, vraggeld, voorsiening vir verliese in die oseaan en kaaigeld (aflaai en stoorkoste) in. Die basiese brandstofprys word gekwoteer in Amerikaanse dollar per vat, en is daarom afhanklik van die rand­–dollar-wisselkoers. Die huidige basiese brandstofprys vir 95 loodvrye oktaan, soos op 25 Februarie 2020, beloop 686,97 sent (R6,87) per liter.

Die vervoer en verspreidingskoste dui op die koste om verfynde petroleumprodukte vanaf die kusraffinaderye na binnelandse depots te vervoer, doeane- en aksynsverpligtinge, kleinhandelmarges aan brandstofstasie-eienaars, en sekondêre stoorkoste. Die vervoer- en verspreidingskoste na die binneland beloop tans 356,9 sent (R3,57) per liter. Vervoerkoste vir binnelandse brandstof verskil teenoor die kus, en daarom is die brandstof langs die kus in meeste gevalle goedkoper as in die binneland.

Amper 35% van ʼn liter brandstof is toeskryfbaar aan belasting, ʼn algemene brandstofheffing en die padongeluksfondsheffing. Die algemene brandstofheffing is tydens Februarie 2020, 361 sent (R3,61) per liter, en word volgens die Minister van Finansies verhoog met 16 sent tot 377 sent per liter. Hierdie belasting word as ʼn algemene belasting behandel en nie, soos baie mense aanvaar, vir padverwante uitgawes nie. Die belastingheffing aan die Padongeluksfonds (RAF) is een van die grootste inkomstestrome daarvan. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) administreer die versameling van die brandstofheffing en betaal dit aan die RAF ooreenkomstig ter sake statutêre bepalings. Tydens die begrotingsrede het die Minister van Finansies, Tito Mboweni, ʼn verhoging in die padongeluksfondsheffing van 9 sent per liter aangekondig, en sal hierdie heffing die brandstofprys in April 2020 tot 207 sent per liter verhoog.

Die verhoging in brandstofheffings het tot gevolg dat die algemene verbruiker vanaf April 2020 ʼn minimum van 25 sent per liter meer sal betaal, en kan die verhoging selfs nog hoër wees afhangende van hoe die rand teenoor die dollar presteer, en hoe ander gebeurtenisse soos onder ander die koronavirus en die versterking van internasionale markte die vraag en aanbod van petroleum beïnvloed.

Uiteensetting van 95 loodvrye oktaan (binnelands) per liter (Februarie 2020)

Basiese brandstofprys                        = 686,97  (42,86%)

Vervoer en verspreidingskoste           = 356,90  (22,27%)

Algemene brandstofheffing                = 361,00  (22,52%)

Padongeluksfonds                              = 198,00  (12,35%)

Totale brandstofprys                           = 1602,87 (R16,03)

Bronne:

Road Accident Fund – https://www.raf.co.za/Pages/Default.aspx

Automobile Association – https://www.aa.co.za/

Departement van Energie – http://www.energy.gov.za/files/esources/petroleum/petroleum_arch.html

Rika Nieuwoudt, programkoördineerder van BCom (Bestuursrekeningkunde) by Akademia