Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Hoe om steeds te spaar terwyl lewenskostes bly toeneem

Gepubliseer op: 4 Julie 2022

Geskryf deur dr. Sandra Adendorff, dosent in ekonomie en internasionale handel aan Akademia

Studente van vandag staar unieke uitdagings in die gesig. Die oorlog tussen Rusland en Oekraïene met die gepaardgaande logistieke probleme, beurtkrag, vloede en pandemie het getoon dat ons studente inderdaad baie aanpasbaar is en veranderinge suksesvol kan hanteer. Alhoewel spaar dalk die laaste ding is waaraan die meeste van ons dink, is dit tog belangrik om veral in die Spaarmaand daaroor te besin.

Tans is die toename in lewenskoste ʼn bekommernis is vir almal. Ons verkeer tans in ʼn spiraal van verhoogde pryse wat inflasie verhoog en die Reserwebank word genoop om rente te verhoog om sodoende die ekonomie te stabiliseer in ʼn poging om weer inflasie te verlaag.

Skuld in Suid-Afrika het astronomies toegeneem en baie mense is in die knyp. Die belangrikste aspek wat egter jou besparingsgedrag beïnvloed, is op die ou einde jou waardes. Die moderne samelewing is baie verbruiksgeoriënteerd wat welvaart begrens en ongelukkig het die oorgrote meerderheid mense in Suid-Afrika ʼn ingesteldheid van lekker leef en koop wat jy begeer al is dit op skuld. Dit kom natuurlik ten koste van jou besparing aangesien die paaiemente en rentekoste op die spaar inbreuk maak. Verhoogde rentekoste beteken die paaiemente op huisverbande, kredietkaarte en ander lenings sal verhoog. Gevolglik is ons in die kontinue aanpassing van ons begrotings; wat hartseer is omdat dat dit veral studente is wat die meeste ly.

Op ʼn meer positiewe noot: Wat kan ons daaraan doen?

Prakties kan studente hul begrotings ontleed. Spaar is doodeenvoudig om minder uit te gee as wat jou inkomste is. Die idee is natuurlik om die gaping tussen inkomste en uitgawes so groot as moontlik te maak.

Hoe kan ek spaar?

Hou tred met jou inkomste en uitgawes wat noodsaaklik is. Eerstens is dit baie belangrik om in ʼn omgewing van stygende rentekoerse, jou skuld te verminder. Dan moet uitgawes ontleed word: Hou rekord van jou uitgawes en let veral op alles wat nie met jou algemene spaar- en gewoontes ooreenstem nie. Het jy dalk onnodige bestedings wat jy nie benut nie? Kanselleer onnodige debietorders. Vervoerkoste moet besny word en kos meer oordeelkundig gekoop word. Daarbenewens moet jy probeer om nie elke dag winkel toe te gaan nie en inkopies met ʼn inkopielys te doen. Aanlyn inkopies is ʼn goeie idee, maar jy moet die afleweringskoste in ag neem. Indien jy in die koshuis bly, kan jul saamspan vir grootmaat-aankope en die kostes verdeel of saamryklubs begin. Een van die voordele van studente is byvoorbeeld om jou studentekaart te benut wat jou toegang gee tot afslag op verskeie items Dan kan jy ook jou inkomste aanvul indien jy ʼn deeltydse werk kan kry of ekstra inkomste verdien. Aan die positiewe kant kyk na jou besparings en investerings en maak seker jy benut die hoër rentekoers deur in ʼn rente-belegging te investeer.

Gelukkig word ons jong Afrikaanse generasie gekenmerk deur waardes wat blywend is en plaas ons ons hoop op Jesus wat ewige waarde het. Navorsing bewys dat ʼn positiewe persepsie van die toekoms meer spaar genereer. Ons bid vir ʼn generasie van hoop om die toekoms se ekonomie te bou.

Dr. Sandra Adendorff is ʼn dosent in ekonomie en internasionale handel by Akademia en ʼn kenner op die gebied van inflasie.