Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Eensaamheid, totalitarisme en gemeenskap

Gepubliseer op: 4 Julie 2022

Geskryf deur prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia

Hannah Arendt skryf in ʼn steeds belangrike werk oor die totalitarisme dat eensaamheid ʼn belangrike oorsaak van die totalitêre mentaliteit is. Arendt skryf:

Wat die mens vir totalitêre oorheersing in die nietotalitêre wêreld voorberei, is die feit dat eensaamheid, vroeër ʼn grenservaring (by slegs sommiges), ʼn alledaagse ervaring word (In The Origins of Totalitarianism, 1951).

Arendt gaan in haar argument uit van die gedagte dat indien die mens van sy gemeenskappe geïsoleer en slegs as ʼn losstaande individu ervaar word, die voorwaardes vir eensaamheid en uiteindelik ook vir totalitêre beheer oor hom as mens voorberei word. Haar argument rus op ʼn eenvoudige uitgangspunt, naamlik dat ons gemeenskappe (soos ons gesinne, etniese gemeenskappe, gebiedsgemeenskappe en geloofsgemeenskappe) ons teen die gevare van totalitêre staatlike en ideologiese beheer afgrens.

Vroeër het gemeenskappe ʼn veel groter seggenskap in hul eie sake as vandag gehad. State het toe minder seggenskap in die sake van gemeenskappe gehad. Met die bykans onbetwisbare mag wat hedendaagse state (en die grondliggende liberale ideologie) vandag oor die mens geniet, word die gesag van gemeenskappe afgetakel. Terselfdertyd word die mens toenemend as ʼn losstaande individu gedefinieer. So word die weg na eensaamheid en verdere totalitêre beheer neergelê.

Wat die wêreld die afgelope jare met die Covid-pandemie ervaar het, is ʼn oorweldigende bewys van die samehang tussen individualisering, eensaamheid en staatlike beheer. Tydens die pandemie is die mens letterlik met maskers, afstandskontroles en ʼn verbod oor gemeenskaposbyeenkomste van sy gemeenskapsgenote geïsoleer en aan drakoniese maatreëls onderwerp.

Mattias Desmet, ʼn geleerde van die Universiteit van Gent, bevestig pas in sy buitengewone belangrike werk, The Psychology of Totalitarianism, die Arendtiaanse vertolking. In ʼn enigsins skokkende analise van die totalitarisme ten grondslag van die liberaal-demokratiese orde beskryf Desmet in detail hoe die hedendaagse mens van sy gemeenskappe losgemaak word; hoe hy dikwels in eensaamheid verval, en hoe die state dit as ʼn verskoning ervaar om steeds verder in die lewe van die mens in te gryp en dit te beheer. Hy skryf:

Totalitêre stelsels maak dit gewoonlik bykans onmoontlik vir mense om in groter groepe bymekaar te kom, en hulle streef daarna om alle sosiale en familiebande te verbreek en dit met die enigste toelaatbare band te vervang: die een tussen die individu en die totalitêre stelsel. (p. 124).

In ʼn omvattende analise van die Covid-pandemie skryf Desmet dat die staatlike beheer tydens die pandemie dikwels in samewerking met onder meer groot universiteite en wetenskaplikes geskied het. Universiteite en wetenskaplikes is nie noodwendig ʼn antwoord op die totalitarisme nie, maar eerder meelopers daarvan.

Alhoewel Arendt en Desmet dit nie in hierdie woorde formuleer nie, is die implikasie duidelik: Die antwoord op die hedendaagse totalitarisme lê in die herstel van die gemeenskappe opgesluit. Met sterk gemeenskappe waarvan die mens deel is (en waaraan hy op sinvolle wyses deelneem), kan die totalitêre bedeling van vandag op ʼn afstand gehou word.

Prof. Danie Goosen is die akademiese hoof van Akademia en ʼn kenner op die gebied van filosofie