Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Fontie studeer vanaf Thailand aan Nagraadse Onderwyssertifikaat

Gepubliseer op: 28 Junie 2022

Willem van As is tans vanaf Thailand besig met sy Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys), ook bekend as NGOS, by Akademia. Hy studeer via die nauurse onderrigleermodel se e-leeropsie wat pasgemaak is vir studente wat reeds werk of ander belangstellings nastreef, of hulleself in die buiteland bevind.

Hy het sy BCom-graad in Internasionale Handel en Bemarking by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus in 2008 voltooi en het kort daarna Engels as tweede taal in Suid-Korea gegee. Ná vyf jaar in Suid-Korea het hy verhuis na die Noord-Kaap en daar skoolgehou. “Tydens my verblyf in Korea is die saadjie geplant dat ek ʼn NGOS moet doen, maar dit was in die Noord-Kaap waar ek besef het dat dit noodsaaklik was,” vertel hy. Nadat hy die aansoekdatum vir NGOS by Unisa verpas het, het hy na Wuhan in China getrek nadat hy ʼn pos by ʼn skool daar aangebied is.

“Die plan was om net vir ʼn paar jaar in China te woon, my NGOS daar te voltooi en om dan terug te trek Suid-Afrika toe, maar ek het toe my toekomstige vrou van Oekraïne af daar ontmoet,” vertel hy. In Januarie 2020 het Van As en sy vrou op ʼn tiendaevakansie uit Wuhan vertrek en toe die nuus gekry dat Wuhan onder grendel is weens Covid-19. “Ons het toe besluit om vir ʼn week of wat Thailand toe te kom, tot die siektetoestand oorgewaai het, en is tot vandag toe hier.”

Hy noem dat hy al lank van Akademia bewus was, en dat hy bly was toe hy die nuus hoor dat ʼn NGOS-kwalifikasie via e-leer aanbied word. “Dit is die einste kwalifikasie wat ek nodig het om oor te skakel van ʼn Engelstweedetaalonderwyser na ʼn Ekonomiese Bestuurswetenskappe- en Ekonomieonderwyser.” Hy vertel dat hy vanaf sy eerste interaksie met Akademia ʼn baie goeie ondervinding gehad het en het besluit om sy NGOS by die Afrikaanse instelling te voltooi.

Hy vertel dat die tydverskil hom nie hinder om aanlyn klasse by te woon nie. “Die Spens is ʼn baie lekker platform om die lesings af te laai en later weer te kyk,” vertel hy. Al sy handboeke is ook elektronies beskikbaar, en hy het al lekker op die strand op Koh Larn, die naaste eiland, gelê en deur sy voorgeskrewe handboeke op sy foon gelees.

Hy geniet ook tot dusver sy aanlyn eksamens. “Daar is ʼn klomp tegniese goed waaraan mens gewoond moet raak, maar as mens dit eers gewoond is, is dit maar dieselfde gevoel as om in persoon eksamen te skryf.” Van As beplan om later vanjaar of vroeg volgende jaar sy praktiese komponent van sy NGOS-kwalifikasie in Suid-Afrika te voltooi waarna hy baie uitsien.

Van As se raad aan huidige, sowel as voornemende NGOS-studente is om by die kwalifikasie se informele WhatsApp-groepe in te skakel. “Daar hoor jy gereeld van ander studente wat in dieselfde situasie as jy is se ervarings en kan julle aan mekaar hulp verleen. Die groep maak dit tien keer makliker en maak die gevoel van isolasie baie minder.”

Van As noem dat indien jy enigsins verdere studies oorweeg, moet jy Akademia kontak. “As dit nie vir my Akademia-werwer se vriendelike aanmoediging was nie, het ek seker nog net gepraat van eendag NGOS doen, en nou doen ek dit!”

Indien jy self of iemand wat jy ken vanaf die buiteland wil studeer, besoek gerus Akademia se webblad vir meer inligting oor studieopsies op die instelling se nauurse onderrigleermodel. Akademia – maak kennis met jou toekoms!

Willem van As studeer tans via die e-leeropsie aan Akademia se Nagraadse Onderwyssertifikaat vanaf Thailand.