Gepubliseer op: 20 Maart 2025
Geskryf deur dr. Annelize van Antwerp (voorligtingsielkundige), dr. Mandie Dubery (maatskaplike werker) en Elana Kriel (opvoedkundige sielkundige) almal verbonde aan Akademia se Studentesake-afdeling.
Wêreldgelukkigheidsdag vind op Donderdag 20 Maart plaas en die vraag wat opnuut in die lig hiervan gevra word, is wat dit nou eintlik beteken om werklik gelukkig te wees? Hierdie vraag word al vir eeue deur filosowe en wetenskaplikes bestudeer, en daar blyk nie ʼn eenvoudige antwoord te vinde te wees nie. Tóg dui navorsing daarop dat geluk uit twee hoofbronne spruit, naamlik hedonia en eudaimonia.
Hedonia is die soeke na plesier en die vermyding van pyn. Dit gaan oor oomblikke van vreugde en genot – dinge soos lekker kos, goeie musiek en prettige ervarings. Hierdie tipe geluk is egter dikwels kortstondig van aard en vervaag vinnig. Aan die ander kant beklemtoon eudaimonia ʼn dieper, meer blywende vorm van geluk. Dit word gevind in ʼn sinvolle lewe, die uitleef van jou waardes en die voortgesette ontwikkeling van jou sterkpunte. Laasgenoemde siening word heelhartig deur moderne sielkunde ondersteun.
Volgens Abraham Harold Maslow se selfaktualiseringsteorie en Carl Rogers se idee van die ten volle funksionerende persoon, ervaar mense ware vervulling wanneer hulle hul potensiaal bereik én in harmonie met hul innerlike waardes leef. Ander teorieë wys op die belangrikheid van outonomie, bekwaamheid en verwantskap – dit wil sê, om vry te wees om jou eie besluite te neem, vaardig te wees in dit wat jy doen en sterk verhoudings met ander te hê.
Maar geluk is nie net ʼn abstrakte idee nie, dit is óók ʼn biologiese proses. Neurosielkunde toon dat gedagtes en optrede ons breinchemie daadwerklik beïnvloed. Wanneer ons daarom doelbewus positief dink én aktief dankbaarheid beoefen, word neurotransmitters soos dopamien en serotonien vrygestel, wat ons gemoedstoestand verbeter. Oksitosien, wat vrygestel word in betekenisvolle verhoudings, laat ons geliefd en gewaardeerd voel, terwyl endorfiene – die liggaam se natuurlike pynstillers – ʼn gevoel van welstand bevorder, veral na fisiese aktiwiteit.
Maar hoe kan ons méér geluk ervaar?
Eerstens moet ons nie net fokus op oombliklike plesier nie, maar óók op persoonlike groei en betekenisvolle ervarings. Dit beteken om aktief deel te neem aan die gemeenskap, verhoudings te bou en tyd te maak vir die dinge wat werklik saak maak. Tweedens is dit belangrik om gesonde gewoontes te handhaaf: genoegsame slaap, gereelde oefening en ʼn gebalanseerde dieet dra alles by tot ʼn beter gemoedstoestand. Derdens moet ons bewus wees van ons selfbeeld en die belangrikheid daarvan om onsself met respek en deernis te behandel en negatiewe selfspraak te vermy.
Uiteindelik is geluk nie iets wat ons eenvoudig “vind” nie, dit is iets wat ons doelbewus bou. Deur positiewe keuses te maak en ʼn sinvolle lewe te lei, kan ons nie net onsself help nie, maar ook bydra tot ʼn gelukkiger en gesonder samelewing. Al word geluk dikwels gesien as ʼn groot en onbereikbare ideaal, word dit in wese geopenbaar in klein gebare en opregte dade. Neem byvoorbeeld Akademia se Fontie-eerstejaars se gelukservaring tydens die oriënteringstydperk vroeër vanjaar, en méér nog hoe goeie geestesgesondheid en geluk seëvier in dade van ondersteuning en betrokkenheid.
Tydens vanjaar se Spore-projek, het Fonties instellings besoek wat kwesbare groepe versorg, naamlik kinderhuise, tehuise vir bejaardes en dienssentrums vir intellektueel gestremde volwassenes. Die deelnemende studente het hard gewerk en hul moue opgerol om skoon te maak, tuine netjies te bewerk en ander fisiese take te verrig. Méér nog, hulle het tyd gemaak om met die mense te gesels en werklik bande te bou. Dit was juis hierdie menslike oomblikke van verbondenheid wat die grootste impak gehad het. Aan die einde van dié projek het die Fonties met diep dankbaarheid teruggekyk op hul eie omstandighede en besef hoeveel vreugde daar in onbaatsugtige gee opgesluit lê.
Een student het gesê: “Ek het baie meer ontvang as wat ek gegee het.” Nog ʼn student het opgemerk hoe mense met só min steeds só gelukkig en vriendelik is, en dit het haar opnuut laat besef hoe belangrik dankbaarheid is. Hierdie gemeenskapservaring het die studente nie net bewus gemaak van hul eie voorregte nie, maar ook ʼn dieper gevoel van samehorigheid onder mekaar geskep. Hulle het besef dat geluk nie net in persoonlike suksesse lê nie, maar in die oomblikke waar ons onsself gee vir ander.
Nóg ʼn aktiwiteit wat ʼn groot indruk gemaak het, was die bou van speelhuise vir kinders wat nie altyd ʼn veilige omgewing het om in te speel nie. Terwyl die verskillende koshuise aan hierdie huisies gewerk het, het hulle hulleself voorgestel hoe kinders sou lag en speel – hoe hierdie eenvoudige strukture ʼn plek van vreugde en veiligheid sou bied. Ten spyte van hul eie moegheid, seer spiere en ongelukke met spykers, was die gevoel van vervulling en empatie sterker as die fisiese uitputting. Dit het hulle herinner aan die krag van verbeelding en die belangrikheid daarvan om kinders ʼn kans te bied om net kind te wees.
Hierdie ervarings illustreer ʼn belangrike waarheid oor geluk: dit word nie net gevind in wat ons vir onsself doen nie, maar in hoe ons bydra tot ander se welstand. Deur ons tyd, energie en hart aan ander te gee, versterk ons nie net ons eie geestesgesondheid nie, maar dra ons ook by tot ʼn gemeenskap van verbondenheid en betekenis. Geluk is dus nie net ʼn gevoel nie – dit is ʼn manier van leef, ʼn reeks keuses wat ons daagliks maak om ander op te hef en om ware vervulling te ervaar.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.