Search
Close this search box.

Dekane vertel van toekomsplanne

Gepubliseer op: 20 Maart 2019

Akademia se hande het onlangs versterk met die aanstelling van drie dekane, prof. Gawie du Toit (Fakulteit Opvoedkundige Wetenskappe), prof. Hannes Rautenbach (Fakulteit Natuurwetenskappe) en prof. Pieter Duvenage (Fakulteit Geesteswetenskappe).

Rautenbach was voorheen departementshoof van die Departement Geografie, Geoïnformatika en Meteorologie by die Universiteit van Pretoria (UP) en buitengewone professor by die Skool vir Gesondheidstelsels en Publieke Gesondheid aan dieselfde universiteit. Du Toit het voorheen gedien as hoof van die Skool vir Opvoedkunde by die Sol Plaatje Universiteit (SPU). Duvenage was voorheen professor en hoof van die Departement Filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Watter erfenis van die vorige instelling bring jy na Akademia?

Du Toit: Ek bring wedersydse respek en waardering vir kollegas en studente saam. Die nastrewing van ʼn gedeelde visie en waardes is ook uiters belangrik.

Rautenbach: My betrokkenheid op bestuursvlak by die UP het my goeie blootstelling gegee aan die funksionering van ʼn tipiese openbare universiteit, en ook aan wat as belangrik bestempel word in die natuurwetenskapomgewing. Alhoewel Akademia ʼn privaat hoëronderwysinstelling is, is die doel om uiteindelik ʼn volwaardige universiteit op die been te bring. Wat veral belangrik is, is om uitnemendheid na te streef deur nie net internasionaal mededingend te wees nie, maar ook om daarna te streef om oplossings vir plaaslike probleme te vind. Hiervoor is nie net opleiding nodig nie, maar ook ʼn sterk komponent van navorsing en die skep van ʼn omgewing wat innoverende denke aanmoedig.

Op ʼn persoonlike vlak dink ek dat, as ʼn vertrekpunt, die uitdagings wat geskep word deur klimaatsverandering ʼn belangrike rol kan speel in transdissiplinêre samewerking tussen die verskillende akademiese strome in Akademia.

Duvenage: Die UV was vir my baie goed die afgelope agt jaar waar ek nie net hoof van ʼn akademiese departement was nie, maar ook redakteur van ʼn geakkrediteerde vaktydskrif en lid van verskeie universiteitskomitees. Wat laasgenoemde aanbetref het ek die voorreg gehad om die afgelope twee jaar in verskeie komitees nou saam die rektor te werk. Ek moet egter sê dat ek voor my tyd by die UV ook goeie ervaring opgedoen het by twee privaat Australiese universiteite met kampusse in Suid-Afrika, asook ander Suid-Afrikaanse universiteite. My akademiese en administratiewe ervaring strek oor 30 jaar.

Wat onderskei Akademia volgens jou van ander universiteite?

Du Toit: Akademia se onderrigmodel is toegespits op moedertaalonderrig – in besonder Afrikaans as moedertaal. Dit maak Akademia beslis uniek in die hoëronderwysomgewing.

Rautenbach: Akademia is uniek in die sin dat dit ʼn spesifieke gemeenskapsaanslag nastreef wat veral daarop gemik is om die Afrikaanssprekende bevolking te akkommodeer. Hierdie aanslag kom natuurlik nie net vanuit die institusionele raamwerk van Akademia self af nie, maar eerder vanuit die groter strewe van die Afrikaanssprekende gemeenskap as geheel. Dit is veral in die natuurwetenskappe belangrik, omdat grondliggende akademiese wetenskapbegrippe gevestig sal word deur gebruik te maak van fundamentele moedertaalkommunikasie. Hierdie benadering sal Afrikaansprekende studente veel beter toerus om baanbrekers te word in toekomstige navorsing en toepassings deur hul kennis met selfvertroue oor te dra na die plaaslike en internasionale gemeenskappe wat bedien word.

Duvenage: Vir my is daar ʼn paar uitstaande punte as dit by Akademia kom. In die eerste plek is dit ʼn private en vrye hoëronderwysinstelling. In die tweede plek is dit ʼn gemeenskapsinstelling. In die derde plek is dit ʼn waardegedrewe hoëronderwysinstelling wat aansluit by die diepste bronne van ons beskawing, en poog om studente nie net op te lei nie, maar in ʼn holistiese sin op te voed.

Waaraan dink jy kan Akademia se sukses toegeskryf word?

Du Toit: Moeilik om op hierdie stadium ʼn mening te lig, maar ek oordeel tog dat hier ʼn dinamiese groep mense byeen is wat wil verseker dat Akademia van krag tot krag sal gaan. Ek is ook geweldig beïndruk met die struktuur en sisteme wat in plek is en die bekwaamheid van die kollegas met wie ek tot op hede te doen gehad het.

Rautenbach: Terwyl openbare universiteite in Suid-Afrika al meer na teoretiese globalisering begin streef, skep Akademia ʼn platform vir die Afrikaanssprekende gemeenskap vanwaar Afrikaans as akademiese taal kan ontwikkel. Dit vind plaas deur beide gehalte opleiding en opvoeding in Afrikaans. Die sukses van hierdie benadering lê veral in die kenmerkende behoefte van die Afrikaanssprekende gemeenskap om Afrikaans te bly ontwikkel.

Duvenage: Die sukses van Akademia is dat sy vanuit die gemeenskap die hoogste moontlike waarde in ʼn universele sin nastreef. Ek dink die gehalte en toewyding van die dosente en administratiewe personeel speel ʼn groot faktor in die sukses van Akademia. Dan hoef ons ook nie die wiel weer van vooraf uit te vind nie – daar is ʼn honderd jaar van voortreflike Afrikaanse tersiêre akademie waaruit ons kan put.

Watter verskil wil jy by Akademia maak?

Du Toit: Dit gaan nie oor die verskil wat ek kan maak nie, maar eerder watter verskil ons as span gesamentlik kan bewerkstellig.

Rautenbach: Van die grootste deurbrake in die natuurwetenskappe is gemaak deur Afrikaanssprekendes. Dink maar aan die internasionaal erkende bydraes wat gemaak is ten opsigte van kernkragontwikkeling en ook die skep van brandstof uit steenkool – om maar enkeles te noem. Die verskil wat ek sal wil maak is om hierop voort te bou deur ʼn vooruitstrewende natuurwetenskappefakulteit op die been te bring wat vooruitstande wetenskaplikes sal oplewer wat daarna sal streef om oplossings te vind vir die vele uitdagings wat Moeder Aarde in die gesig staar.

Duvenage: Ek sal baie graag my ervaring en talente in spanverband by Akademia wil aanwend. Uit die aard van die saak is my passie die geesteswetenskappe, wat dissiplines soos filosofie, geskiedenis, tale en politiek insluit. Om ʼn suksesvolle geestewetenskappefakulteit vanuit die grond op te bou is die uitdaging waaraan ek, in samewerking met baie ander rolspelers, met oorgawe wil werk.

Wat is jou droom vir Akademia?

Du Toit: My droom is dat Akademia ʼn voortreflike akademiese instelling sal word betreffende onderrig en leer, navorsing, en akademiese burgerskap wat die behoeftes van Afrikaanssprekendes en die gemeenskap in die breë aanspreek. Ook dat Akademia as voorbeeld vir Afrika en die res van die wêreld kan dien betreffende moedertaalonderrig in diverse gemeenskappe.

Rautenbach: Dit is my wens dat Akademia in die nabye toekoms sal ontwikkel tot ʼn volwaardige universiteit wat op ʼn professionele vlak sal kan meeding met van die beste universiteite in die wêreld, en sodoende ʼn trots vir Afrikaanswees te vestig.

Duvenage: Ek droom van ʼn voortreflike universiteit met ʼn fisiese kampus in die ooste van Pretoria en ʼn top tegnologiese afstandsmodel. Dit moet ʼn universiteit wees wat fisies en geestelik nie net die Afrikaanse wêreld nie, maar ook die Suid-Afrikaanse en die internasionale wêreld met voortreflike opvoeding verstom.