Search
Close this search box.

BComHons-studente beïndruk met hul navorsingsvaardighede

Gepubliseer op: 28 Oktober 2024

Die BComHons (Ondernemingsbestuur)-program, soos aangebied deur Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het gedurende die 2024- akademiese jaar sy tweede inname van studente geniet. Hierdie program, wat via die instelling se nauurse afstandsmodel aangebied word, het ʼn tweeledige fokus. In die eerste plek het dit ten doel om studente binne ʼn globale konteks toe te rus met die nuutste ondernemingsbestuurskennis, -vaardighede en -bevoegdhede. Ten tweede is die program daarop gerig om studente op ʼn teoretiese asook ʼn praktiese wyse bloot te stel aan die navorsingsproses.

Vanjaar se groep van 21 studente het op Saterdag 26 Oktober hul nuutgevonde navorsingskennis en -vaardighede tydens ʼn spesiale voorleggingsgeleentheid ten toon gestel. ʼn Paneel kundiges, bestaande uit akademiese personeel vanuit die fakulteit, het die onderskeie voorleggings, wat in groepsverband aangebied is, beoordeel en waardevolle terugvoer gelewer.

Volgens Elize-Mari Coetzer, departementshoof van Bestuurswetenskappe en die programkoördineerder van die BComHons (Ondernemingsbestuur)-program, was die geleentheid daarop toegespits om die studente se begrip van die navorsingsproses te peil. Hiermee saam is daar ook sterk klem gelê op effektiewe kommunikasievaardighede asook voorleggingsvernuf. Die navorsingsprojekte het op areas gefokus wat onder meer algemene bestuur, strategiese bestuur, bemarking, veranderingsbestuur, voorsieningskettingbestuur en leierskap ingesluit het. Ná afloop van die geleentheid het dr. Celia Booyse, senior bestuurder: Programontwikkeling en Akkreditasie by Akademia die studente geloof vir hul toewyding tot die navorsingsproses en hulle gelukgewens met die hoë standaard van die projekte.

Op die vraag waarom studente ʼn honneursprogram moet oorweeg, verduidelik Coetzer dat die program as ʼn verdieping van kennis en ʼn koppeling tussen teorie en die praktyk gesien moet word. “ʼn Nagraadse program soos hierdie rus studente toe om konvensionele denkwyses krities te beproef deur vorendag te kom met alternatiewe en innoverende probleemoplossings,” sê Coetzer.

Volgens Coetzer word die waarde van hierdie honneursprogram verder verhoog deur die feit dat studente dit via die nauurse afstandsmodel in die gemak van hul eie huis of kantoor kan aanpak. “Studente volg die interaktiewe kontaksessies saans aanlyn vanaf ʼn Dinsdag- tot ʼn Donderdag, en omdat slegs een module per aand gedek word, word fokus versterk en verdiep,” verduidelik Coetzer. Sy voeg by dat dié aanlyn omgewing gespreksvoering aanwakker en dat die sessies gekenmerk word deur lewendige debattering en waardetoevoegende vraag-en-antwoordsessies.

Indien jy in 2025 hierdie dinamiese BCom-honneursprogram aan Akademia wil volg, doen vandag nog aansoek.

Wilda Jacobs, Alexia Goosen en Lizanne Stroebel se voorlegging het op lojaliteitsprogramme en die beplande herhaalde aankope van millenniërs gefokus.
Willie Coetzee, Nadine Venter en Sarel Nel het die gebruik van kunsmatige intelligensie in ouditfirmas nagevors.
Jenice Heath, Gavin Engelbrecht en Leeu Stadler het die invloed van emosies op besluitneming ondersoek.
Janco Minnaar, Shawneé Freemantle en Edwin Slippers het op effektiewe besluitneming in projekbestuur gefokus.
Britnie Cloete, Catherine-May Trollip en Sherise Breytenbach se navorsing het die rol van inligtingsintegrasie in klein- en mediumondernemings ondersoek.
Morné Rossouw, Danelle van der Westhuizen en Hanke du Plessis het besluitneming vir middelvlakbestuurders nagevors.
George Wolhuter, Carami van der Vyver en Jeanne-Marie van Zyl het ook op kunsmatige intelligensie gefokus, met spesifieke verwysing na die veranderingsuksesfaktore vir middelvlakbestuur.