Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia ondersteun Helpmekaardag

Gepubliseer op: 6 April 2020

Geskryf deur prof. Danie Goosen, akademiese hoof by Akademia.

Akademia, wat vanuit die gemeenskap se klein bydraes gebore is, vier Helpmekaardag op 7 April saam met haar susterinstellings van die Solidariteit Beweging. Dié dag rus op die gedagte dat ʼn klein bydrae ʼn groot verskil kan maak.

Ter wille van agtergrond: In sy reaksie op die Covid-19-krisis het die Solidariteit Beweging reeds verlede week ʼn Bewegingsnoodfonds gestig om ons gemeenskap in hierdie tyd van krisis te ondersteun.

In die besonder het die Bewegingsnoodfonds ten doel om ons gemeenskap, wat enorme maatskaplike en ekonomiese probleme in die gesig staar, by te staan. Deur middel van die Noodfonds sal veral Solidariteit Helpende Hand se hulpverlening aan kinders en bejaardes versterk word, terwyl dit ook die Skoleondersteuningsentrum (SOS) by sal staan sodat leerders op Wolkskool, die SOS se e-leerstelsel, voortgesette onderrig tydens die krisis kan ontvang.

In lig hiervan word Helpmekaardag op Dinsdag gevier om aan ons as gemeenskap die geleentheid te gee om die lewensbelangrike werk van bogenoemde instellings te ondersteun.

Onderliggend aan Helpmekaardag lê ʼn bekende begrip vir ons in Akademia, naamlik die begrip “gemeenskap”. By Akademia bou ons immers nie net ʼn gewone universiteit nie – ons bou ʼn gemeenskapsuniversiteit.

Alhoewel dit te vroeg is om stellige uitsprake oor die gevolge van die Covid-19-pandemie te maak, is dit opvallend hoe kommentators wêreldwyd beklemtoon dat die wêreld ná die krisis waarskynlik veel meer klem gaan lê op die belangrikheid van plaaslike gemeenskappe. In plaas daarvan om op koue, onpersoonlike en selfs magtelose super-staatlike strukture te vertrou, gaan ons ʼn wêreld tegemoet waarin plaaslike gemeenskappe groter inspraak in dié sake sal hê wat hulle toekoms direk raak.

Waarom? Alhoewel ons verskeie antwoorde hierop kan gee, word dit miskien die beste saamgevat in die term “effektiewe empatie”. Meer as enige ander groepering is plaaslike gemeenskappe nie net in staat om empatie met hul eie (asook met die van naasliggende gemeenskappe) te toon nie, maar is tegelyk in staat om by wyse van eie maatskaplike hulpverlening, ekonomiese ondersteuning aan klein sakeondernemings, mediese sorg, onderwys, gemeenskapsuniversiteite en soortgelyke inisiatiewe ʼn effektiewe antwoord op krisisse te gee.

As sodanig staan die gemeenskapsbenadering in skrille kontras met die globale tendens die afgelope jare om ʼn indiwidualistiese betekenis aan empatie te gee. Ingevolge dié benadering word ons as indiwidue opgeroep om empatie te toon jeens die lyding van alle indiwidue dwarsoor die wêreld. Nou, daar is uiteraard niks verkeerd mee om ʼn empatie jeens almal te toon nie. Nogtans kan dit as “oneffektiewe empatie” beskryf word: Die indiwidualistiese benadering lei tot geen egte empatie nie, omdat dit geen konkrete verskil in die lewe van andere maak nie. Dit troos hoogstens die gewete van die empatiese indiwidu.

Kortom, om jouself op die begrip “gemeenskap” te beroep, beteken nie vandag om uit pas met wêreldtendense te wees nie. Inteendeel. Akademia ondersteun daarom ook met volle oorgawe Helpmekaardag. Dit is ʼn wegwyser vir die toekoms!

Klik hier vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak by die Solidariteit Beweging se noodfonds wat maatskaplike hulp bied aan behoeftige gemeenskappe en individue.

Prof. Danie Goosen is die akademiese hoof by Akademia.