Gepubliseer op: 17 Februarie 2025
Geskryf deur prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia.
Een van die “groot boeke” wat Fonties* vanjaar as deel van die Groot Boeke-program by Akademia lees, is die bekende Odusseia van Homeros. Alhoewel dié grootse verhaal uit die Westerse letterkunde oor verskeie sake handel, is dapperheid een van die grootste temas. In vele opsigte is die Odusseia ʼn verhaal oor die heldedade van Odusseus en die betekenis van dapperheid in ons lewe.
Maar wat het dapperheid met Akademia en sy groter gemeenskap te doen? Is dapperheid nie eerder ʼn militêre as ʼn universitêre deug nie? Ek wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om oor die belangrikheid van dapperheid in die akademiese lewe na te dink.
As ʼn inleiding tot hierdie grootse saak kan daar natuurlik na die talle dapper dade verwys word wat elke dag van die instelling se personeel geverg word om dié Afrikaanse studietuiste verder uit te brei. Elke klein daad verg dapperheid. Elkeen is op sy eie wyse ʼn ridder van die klassieke universiteitslewe.
Ek wil egter die geleentheid gebruik om veral na die akademiese lesingsale te verwys en die dapperheid wat dit van ons studente en dosente verg. Van ons studente word onder meer dapperheid in die formulering van hulle vrae geverg; in die formulering van hul argumente teenoor die dosente én hul medestudente, asook – en dit verg miskien die meeste dapperheid – te erken as hulle in hulle argumente verkeerd sou wees.
Hierdie gedagte bring ons by die sentrale vraag waarna ons hieronder wil verwys: Hoe dapper moet ons studente inderdaad met hulle vrae wees? Hoe ver kan en mag ons as ʼn Christelike hoëronderwysinstelling met ons vrae gaan? Is dit nie gevaarlik om té ver met ons vrae te gaan nie? Sal dit nie ons diepste oortuigings en geloof in gevaar stel nie? Moet daar nie ʼn grens aan ons vrae gestel word nie? Want, kan die argument lui, denke en geloof sluit mekaar tog ten diepste uit. Uiteindelik moet ons grense aan ons vrae stel sodat ons plek vir ons geloof kan maak. So word dikwels aangevoer.
Ek wil voorstel dat Akademia die dapperheid aan die dag sal lê om (weliswaar met die grootste nederigheid) tot aan die uiterste eindes met sy vrae te volhard. Anders geformuleer, ons moet dapper genoeg wees om (aangevuur deur die moeilikste denkbare vrae) die hoogste vlugte van die denke te onderneem. En die verste horisonne met ons denke te verken.
Waarom? Ek is maar te deeglik bewus van hoe netelig hierdie saak is. As ʼn vertrekpunt kan aangevoer word dat selfs die moeilikste vrae en die hoogste vlugte van die denke nie in spanning met ons diepste geloofswaarhede staan nie. Inteendeel, ons het goeie rede om aan te voer dat dié waarhede eerder die logiese en natuurlike eindpunt van ons denke verteenwoordig (as dat ons denke in spanning daarmee staan). Ons denke moet inderwaarheid insig in die diepste en hoogste waarhede verwerf. Ons denke wys uit sigself na die hoogste waarhede van die geloof.
Hoe dieper ons vrae reik en hoe hoër ons denke vlieg, hoe nader kom ons aan die hoogste waarhede. Om die waarheid te sê, dit is juis omdat ons nie dapper genoeg met ons vrae is nie en ook nie hoog en ver genoeg met ons denke vlieg nie, dat ons by te vinnige, maklike en oppervlakkige antwoorde uitkom. Ons geloofswaarhede word eerder deur te maklike as te moeilike vrae bedreig.
Kom ons gebruik ʼn praktiese voorbeeld om dié punt duideliker te maak. Die voorbeeld handel oor sommige van die vrae wat vandag oor God gevra word. Gee ons nie vandag te vinnige antwoorde op die vraag wie en wat God is nie? Trouens, dink ons ver genoeg oor die wie en die wat van God? Hou ons vrae nie te vinnig op nie? Moet ons nie nóg verder en dieper delf met ons vrae nie?
Daar word vandag, myns insiens, te maklik uitgegaan van die standpunt dat God slegs ʼn “ding” naas ander dinge in die werklikheid is. Só word té maklik aangevoer dat God ʼn fiksie van ons verbeelding is; óf dat die geloof in God slegs ʼn gevolg is van hoe ons gene (ons DNS) bedraad en ons biologie evolusionêr ontwikkel het. Net só word daar voorts geargumenteer dat God slegs die funksie van ʼn bepaalde tydperk in die geskiedenis van die mens (die religieuse tydperk) is, en dat ons vandag in ʼn postreligieuse tydperk is – dit wil sê in ʼn tydperk anderkant God.
Ingevolge hierdie standpunte, is die antwoorde op die vraag na die wie en wat van God ʼn uitdrukking van vrae wat nie diep genoeg gevra én denke wat nie hoog genoeg gevlieg het nie. Dit is die uitdrukking van vrae wat té vinnig en té maklik beantwoord word. Uit die Bybel wéét ons dat God nie ʼn ding te midde van ander dinge is nie. Hy is daarom ook nie ʼn fiksie van ons verbeelding nie. Hy is óók nie ʼn funksie van ons biologiese erfenis nie. Hy kan óók nie tot ʼn bepaalde tydperk in die geskiedenis van die mens beperk word nie. Telkens transendeer God elkeen van hierdie dinge. Trouens, God is eerder die voorwaarde vir al hierdie dinge om hoegenaamd te kan wees: vir ons vermoë om te kan droom, vir ons biologiese erfenis om te kan wees, en ook vir die geskiedenis van die mens om hoegenaamd te kan gebeur.
Ons moet dapperder wees as dit; as ons na God vra, moet ons vrae nóg hoër, wyer en dieper strek, en moet ons nie met vinnige en maklike antwoorde tevrede wees nie. Veral nie met antwoorde wat God as net nog ʼn ding tussen ander dinge weg verklaar nie. Want, dit is wat met bogenoemde benaderings gebeur: God word tot slegs ʼn deel van die werklikheid verklaar (en nie as die oorsprong van die werklikheid nie).
Kortom, as ons die dapperheid aan die dag lê om die volle vlug van die denke te onderneem (en nie met te vinnige antwoorde verlief te neem nie), sal ons nie in spanning met die fundamentele waarhede van ons geloof tree nie, maar juis daarby aanklop.
Trouens, ons sal ontdek dat ons denke juis op die waarhede van die geloof afgestem is. Waarom? Op grond waarvan sê ons dit? In aansluiting by wat nou reeds gesê is: Uit die Bybel en ons groot teologiese erfenis weet ons dat ons denke weliswaar nie ʼn greep op die wese van God kan kry nie (dié bly vir die denke in ʼn geheim gehul), maar ons weet ook dat die denke as denke ten diepste heenwys na God as die oorsprong en doel van alle dinge. Ons denke is as denke op God afgestem. Eers in God self kom ons vrae tot rus, soos wat ʼn groot teoloog uit die verlede dit geformuleer het.
As ons tot dapperheid in ons denke opgeroep word, word ons opgeroep om (trou aan die aard van die denke) ook na die oorsprong en doel van alle dinge deur te vra. Daarin vind die denke as denke sy logiese en natuurlike eindpunt. As die denke dit nie doen nie, is dit nie grondige denke nie.
In 2025 wens ek Akademia en sy groter gemeenskap die dapperheid toe om nie in maklike en vinnige antwoorde vas te val nie, maar om eerder na die oorsprong en doel van alle dinge deur te vra. Dit alles met die diepliggende wete dat insig in die uiteindelike waarheid ʼn geskenk is wat ons ontvang (eerder as iets wat ons self verwerklik).
* Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.