Search
Close this search box.

Só bou Akademia die toekoms van Afrikaans, kampus vir kampus

Gepubliseer op: 14 Augustus 2024

Op 14 Augustus vanjaar vier die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe Afrikaanse Taaldag. Akademia, as ’n trotse onafhanklike hoëronderwysinstelling, neem met groot opgewondenheid aan dié viering deel, en gebruik hierdie spesiale geleentheid om opnuut sy verbondenheid tot die taal gestand te doen.

Die instelling gee vanjaar gestalte aan dié verbondenheid tot Afrikaans met die nuus dat hy toekomsgerig besig is om sy geografiese voetspoor en impaksfeer uit te brei. Hierdie uitbreidingsvooruitsigte weerspieël die gunstige groeitrajek van die instelling.

Die vestiging van ’n wêreldklas kampus in Pretoria

Opwindende ontwikkelingsnuus is op 1 Augustus bekendgemaak toe Akademia en die eiendomsontwikkelingsmaatskappy, Kanton, die *#Toekomsbouer-veldtog van stapel gestuur het. Dié veldtog, wat die grootste ontwikkelingsprojek in die geskiedenis van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe verteenwoordig, behels die vestiging van ʼn wêreldklas-kampus vir Akademia in die ooste van Pretoria.

Marthinus Visser, besturende direkteur van die instelling, verduidelik dat dié ontwikkeling die verwesenliking van ’n groot droom is. Volgens hom maak Akademia sedert sy totstandkoming in 2012 van verskeie tussentydse infrastruktuuroplossings in Centurion gebruik. Die aanvang van die voltydse kampusmodel in 2021 het egter die vraag na geskikte infrastruktuur eksponensieel laat toeneem en tans is twee kampusse, vier koshuise, twee daghuise sowel as die administratiewe hoofkantoor oor verskeie persele versprei. “Die nuwe omvattende residensiële kampus sal aan ons die geleentheid bied om die groei van die afgelope dekade te konsolideer én ’n vaste adres vir toekomstige kampusstudente te bied wat ’n veerkragtige en opwindende studentelewe gaan ondersteun,” sê Visser.

’n Volwaardige satellietkampus in die Wes-Kaap

Nóg opwindende nuus is die instelling se vooruitsig om sy voltydse kampusmodel, wat tans tot Centurion in Gauteng beperk is, in 2026 na die Paarl in die Wes-Kaap uit te brei. Die voorsiende uitbreiding sal die instelling se bestaande voetspoor in dié streek aansienlik vergroot. Laasgenoemde verwys na sentrums wat reeds in George, die Paarl en Somerset-Wes gevestig is en wat deur studente benut word wat via die nauurse afstandsmodel studeer.

Volgens Visser toon bestaande navorsingsbevindinge dat die Wes-Kaap die grootste konsentrasie Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika huisves. Gedagtig hieraan en gegewe die verskraling van Afrikaanse onderwysgeleenthede binne die nasionale hoëronderwysomgewing meen Visser dat Akademia ʼn groot rol het om te speel in die uitbouing én bewaring van Afrikaans as onderrig- en leertaal.

Met bogenoemde roepingsbesef in gedagte verduidelik prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie, dat die instelling se bestaan in vele opsigte afhanklik is van sy verbintenis tot die uitbouing van die hoër funksies van Afrikaans. “Kwalik enige aspek van ons daaglikse universiteitswese is nie op een of ander wyse ten nouste verbind aan die bevordering van dié funksie nie. Hierdie strewe strek vanaf die klaskamers tot en met die navorsing wat gedoen word; vanaf die talle lesings en gesprekke op ons kampusse tot en met die stille en harde werk wat dosente en studente agter hulle lessenaars doen,” verduidelik Goosen. Maniere waarop hierdie verbintenis uitgelééf word, sluit onder meer in:

  • Om by wyse van twee dinamiese onderrigleermodelle die lewenskragtigheid van moedertaalonderrig te ontsluit, selfs vir individue buite die landsgrense.
  • ’n Dinamiese daarstelling van ʼn verskeidenheid hoëronderwyskwalifikasies by wyse van vyf fakulteite, naamlik: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geesteswetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde en Regsgeleerdheid.
  • Die onlangse toevoeging van die BA (Taalstudies)-program asook die nuutgevonde Taalsentrum versinnebeeld die instelling se aktiewe strewe tot die verdere ontwikkeling van onder andere Afrikaans se hoër funksie.
  • ’n Bruisende studentelewe verleen stukrag tot die versterking en vernuwing van Afrikaans as ’n
  • As onafhanklike uitgewer van hoofsaaklik akademiese publikasies, streef Akademia Uitgewery deurentyd daarna om Afrikaans as kulturele en navorsingstaal verder uit te bou.

“As ’n akademiese tuiste streef Akademia daarna om die denke sowel as die hart van studente te vorm, en só die weg te baan vir ’n betekenisvolle toekoms. Dit is binne hierdie milieu dat Afrikaans die polsslag verteenwoordig wat Akademia se strewe, dade en verbondenheid op veral sy kampusse, ook binnekort in die Wes-Kaap, verder rig,” sluit Visser af.

*Besoek gerus https://www.toekomsbouer.co.za/ om meer oor hierdie projek te lees.

Akademia se bestaansrede is ’n viering van Afrikaanse universiteitswese. Hierdie verbondenheid tot taal- en kultuurgemeenskappe kry verder stukrag deur die vestiging van ’n satellietkampus in die Wes-Kaap en die ontwikkeling van ’n wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria.