Akademia betree nuwe groeifase
Gepubliseer op: 25 Augustus 2017
Hy gebruik graag dié geleentheid om enkele opmerkings oor Akademia – en die baanbrekerswerk wat reeds hier verrig is en nog verder verrig gaan word – te doen.
“Een prestasie wat uitstaan is natuurlik Akademia se hoëtegnologie-onderrigmodel, waarmee ons by die beste in die wêreld kan kersvashou. Dit is ʼn model wat voortdurend verbeter word en waarmee onderwys en studie nuwe dimensies kry. ʼn Mens kan verwag dat – soos wat bandwydte in komende jare toeneem, tegnologie verbeter en Akademia meer en meer ervaring met die ontginning daarvan opdoen – gesogte internasionale erkenning sal volg en die gewildheid van hierdie studiewyse toeneem.
Dan is daar die prestasie dat hoëronderwys in Afrikaans geskied. Dit is ʼn prestasie in antwoord op ʼn krisis, naamlik dat Afrikaans by staatsuniversiteite afgeskaf word. Sonder burgerlike vervanging sal daar geen Afrikaanse hoëronderwys meer wees nie. Alhoewel hierdie krisis van die verlies aan Afrikaanse onderwys dalk ons onmiddellike aanleiding vir die oprigting van Akademia was, is Akademia terselfdertyd meer as net ʼn antwoord op verlies.
Akademia het ontstaan en baan sy weg te midde van ten minste drie ander krisisse of uitdagings. Hulle is weliswaar minder ooglopend, maar nie minder belangrik nie. Dié uitdagings is
1) die verbrokkeling van die universiteitswese as sodanig;
2) die verreikende implikasies van moderne tegnologie, veral ten opsigte van die arbeidsmark; en
3) die rewolusionêre verwerping van die Westers-Christelike tradisie.
Met hierdie uitdagings in ag genome kan Akademia nie net ʼn Afrikaanse herhaling van die nou Engelse, maar histories Afrikaanse, universiteite van die afgelope 50 jaar wees nie. En dit kan ook nie net ʼn Afrikaanse kopie van standaard universiteite wêreldwyd wees nie. (Eintlik moet ek sê staatsuniversiteite, want op enkele uitsonderings na is universiteite vandag nie meer selfstandige instansies nie.)
Om net ʼn Afrikaanse herhaling of ʼn Afrikaanse kopie te wees, sou beteken dat Akademia se akademici en studente die onderliggende uitdagings wat ons gemeenskap – en gemeenskappe wêreldwyd, maar veral in die Weste – in die gesig staar, nie die hoof sou kon bied nie. Dan sou ons in Afrikaans studente oplewer wat nie ʼn sin vir die geheel van dinge, sowel as hul besondere omstandighede, het nie. Ons sou in Afrikaans studente oplewer met groot studieskuld en ʼn lewensverwagting van digby 100 jaar, maar sonder dat hulle voorbereid is vir die herhaaldelike herspesialisasie wat die nuwe arbeidsmark en aftrede anderkant 80 van hulle gaan vereis. Ons sou in Afrikaans studente oplewer wat “selfies” neem terwyl standbeelde omgekeer word, wat nog te sê in staat is om die daders met beter alternatiewe en ʼn groter humaniteit te konfronteer.
Wat moet Akademia dan wees? Professor Danie Goosen, ʼn lid van Akademia se adviesraad en voorsitter van die FAK, antwoord so:
‘Afrikaans is ʼn lofwaardige ideaal, maar die nood van ons tyd strek veel dieper. Dit hou verband met die nood aan opvoeding [naamlik, om in staat te wees om aan die openbare lewe deel te neem; en om te verstaan hoe jou vakgebied in die groter geheel van dinge pas] … As die nuwe universiteit tot die ideaal van opvoeding verbind is, sal dit ʼn wesenlike alternatief op die hedendaagse verskraling van die universiteitswese wees. Afrikaans staan nie in spanning daarmee nie. Inteendeel, Afrikaans kan juis aan so ʼn universiteit tot haar reg kom.’
Die afgelope byna twee jaar was vir my ʼn eer en ʼn groot leerervaring. Ek bedank graag die direksie, personeel en besturende direkteur, Marthinus Visser, vir hul vertroue en medewerking. Ek wens Akademia voorspoed toe, en die blywende meelewing van sy ondersteunersgemeenskap.”
As besturende direkteur getuig Marthinus Visser daarvan dat Akademia baie gelukkig en bevoorreg was om ‘n jong, energieke en wyse denker en uitvoerder in Piet le Roux te kon vind.
“Piet, wat met sy aanstelling hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut was, het baie gou gesnap wat sy rol moet wees en ‘n groot bydrae in ‘n kort tyd in dié verband gelewer. Met sy en sy span se twee-weeklikse seminare oor interessante universiteite het belangrike denke en gesprekke onder ons aan die gang gekom. Piet het ander leiers op die gebied begin betrek sodat ons as’t ware ‘n regte dinkskrum aan die gang gekry het. Sy en prof Danie Goosen se besoek aan die VSA in 2016 het groot indrukke op Piet gelaat en hy kon met meer gesag en diepte oor die gewenste aard en wese van ons instelling praat.
Die aard van die pos waarin Piet hom bevind het, het groot eise aan hom gestel met betrekking tot die dag-tot-dag akademiese bestuur van die instelling. Piet het belangrike en sinvolle struktuurveranderinge aangebring en dit met groot oorleg en finesse in werking gestel.
Met Piet se vertrek by Akademia het ons mooi besin oor die opvolgstrategie met betrekking tot akademiese leierskap. Weens die snelle groei en die eise wat dit stel, het ons by die punt gekom waar ons die rolle van die ontwikkeling van die Akademia-idee en akademiese bestuur tot ‘n mate begin skei. Ons opvolgplan is dus om die verantwoordelikheid van die ontwikkeling van die Akademia-idee in die Akademiese hoofpos te setel en die dag-tot-dag akademiese bestuur in ‘n nuwe pos te setel, naamlik dié van Dekaan – akademiese bestuur. Laasgenoemde sal aan die Akademiese Hoof rapporteer. Hierdie pos is reeds geadverteer en sal eersdaags gevul word. Die pos van Akademiese Hoof sal dv in die eerste helfte van 2018 gevul word.
Ons sien baie uit na hierdie nuwe fase van akademiese leierskap en glo dit sal die groei-uitdagings wat voor ons lê, baie goed die hoof te bied.
Ons opregte dank aan Piet vir sy grootse bydrae tot Akademia.”