Search
Close this search box.

Akademia-simposium bespreek geleenthede en uitdagings in die Afrikaanse media

Die Departement Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia het op Donderdag 13 April ʼn simposium by Leriba in Centurion aangebied. Die joernalistieksimposium het belangrike joernalistieke temas aangeraak wat die Afrikaanse medialandskap beïnvloed. Bekende mediapersone van dwarsoor die land het as sprekers opgetree en die simposium is bygewoon deur joernaliste, asook studente van Akademia se BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-kwalifikasie.

Dr. Alé Steyn, departementshoof van Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia het die verrigtinge geopen deur die gaste en sprekers te verwelkom. “Die mediabedryf is onvoorspelbaar met verskeie uitdagings soos digitalisering, finansies, nuwe mediagehore en nuwe maniere om media te gebruik,” het Steyn gesê. “Dit skep ook egter groot geleenthede en daarom is ons opgewonde om studente af te lewer wat hul plek in die werkplek kan volstaan en ʼn sinvolle bydrae kan lewer.”

Johannes D. Froneman, buitengewone professor en ouddosent van die Noordwes-Universiteit, se boek, Ter wille van oorlewing, ideologie en geld, is ook tydens hierdie funksie bekendgestel. Die boek, uitgegee deur die Akademia Uitgewery, handel oor die geskiedenis van die Afrikaanse joernalistiek en die rykheid daarvan. Die teikenmark van hierdie boek is jong joernaliste en ook diegene wat as joernaliste of mediagebruikers ʼn stuk van die geskiedenis beleef het. Die handboek is reeds te koop op Die Winkel.

Volgens Steyn is Froneman drie jaar terug getaak om ʼn oorsig oor die ontwikkeling van die Afrikaanse media te gee. “Daar was nie ʼn beter persoon om hierdie groot taak te verrig nie. Hy het meer as 45 jaar se ervaring, navorsing en ervaring in hierdie boek ingeploeg. Die boek bevat nie bolangse kennis nie – dis ʼn diep en fyn waarneming van wat in die Afrikaanse media gebeur het.”

Froneman en Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum MSW, het die boek kortliks tydens die simposium bespreek. Wyngaard het Froneman gelukgewens met die bekendstelling van die boek. “Die werk wat jy doen – ons neem kennis daarvan en waardeer dit,” het Wyngaard aan Froneman gesê.

Froneman het meer vertel oor die beweegrede van die boek. “Die perspektiewe was altyd die bedoeling – nie ʼn volledige geskiedenis nie. Dit is my perspektiewe, maar ek hoop daar is ander perspektiewe ook in die boek raak te sien – deur my verwysing na baie bronne. Ek skryf oor verskeie publikasies van baie mediagroepe so as ek praat van die Afrikaanse media sluit dit verskeie rolspelers in.”

Die hoofspreker van die dag was Barnard Beukman, redakteur van Beeld. Hy het die toekoms van die Afrikaanse media en volhoubaarheid van Afrikaanse joernalistiek bespreek. “Die kernoplossing vir ʼn volhoubare toekoms in Afrikaanse joernalistiek is nie gerig op die aktiwiteite van media-instansies nie, maar eerder die opleiding van gehalte Afrikaanse joernaliste,” het Beukman genoem. “Daar is verskeie makro-kwessies in die globale joernalistiek wat nuwe joernaliste opgelei moet word om te kan hanteer. Teoretiese sowel as praktiese opleiding is noodsaaklik vir Afrikaanse joernaliste om gehalte inhoud te kan skep.”

Kabous Meiring, televisievervaardiger, -regisseur en -aanbieder van Prontuit op kykNET, het tydens haar aanbieding meer oor die menslikheid van joernalistiek in Suid-Afrika vertel. “Joernalistiek, nes Suid-Afrikanerwees, is menslik. Kunsmatige intelligensie (KI) het ʼn impak op joernalistiek, maar KI kan nie menslikheid vervang nie. Dit is die werk van joernaliste,” het Meiring uitgelig. “Die media het oor die laaste tien jaar hekwagters geraak, maar nou moet ons pioniers ook wees. Ons moet elke dag verbeter en uitnemend wees.”

Maroela Media se uitvoerende hoof, Susan Lombaard, se aanbieding het gehandel oor die geleenthede wat ʼn digitale mediaomgewing bied. “Daar is baie geleenthede in die toekoms van digitale media – die digitale medialandskap in Suid-Afrika is nog betreklik klein,” het Lombaard gesê. “Opleiding vir digitale media is steeds baie belangrik, daarom het Maroela Media en Akademia se skryfskool, genaamd Skryfnet, ʼn kursus in gemeenskapsjoernalistiek ontwikkel. Dié praktiese kursus sal deelnemers toerus om vir gemeenskapsmedia te skryf – wat vir joernaliste geleenthede in digitale media sal skep. Akademia se BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-kwalifikasie maak ook studente slaggereed vir die werkplek, wat digitale media insluit.”

Maygene de Wee, spesialisverslaggewer by Netwerk24, het haar eie perspektiewe en ervaringe as senior joernalis gedeel. “Ek is ʼn spesialisverslaggewer oor misdaad en skryf oor die Kaapse onderwêreld. Ek skryf mensestories wat die harte van ons mense in die Kaapse Vlakte en verder raak,” het De Wee oor haarself gedeel. “Ek skryf ook oor lief en leed, soos die eerste Covid-19-sterfgeval in Suid-Afrika. Ons moet ʼn stem wees vir alle Afrikaanssprekendes.”

Die dag is afgesluit deur ʼn paneelgesprek waar die breër tema van uitdagings en geleenthede in die Afrikaanse media bespreek is. Die paneel het bestaan uit Heindrich Wyngaard, Barnard Beukman, Antoinette Slabbert (senior verslaggewer by Rapport), Nico Strydom (nuusredakteur van Maroela Media) en Pieter Steyn (senior joernalis by Rapport en inhoudsregisseur by RSG).

Die eerste besprekingspunt was die veld van media self. Slabbert het genoem dat joernalistiek steeds die lekkerste werk vir nuuskierige mense is. “Joernalistiek is uniek weens die outonomiese aard daarvan. Jy kan jou neus volg solank jy binne raamwerke gehalte inhoud lewer en uitkomstes bereik.” Sy vertel verder dat dit heerlik is om gesaghebbend te wees op jou veld, maar ook dat daar altyd ruimte is om ʼn verskeidenheid inhoud te kan skep solank dit jou lesers sal interesseer.

Beukman het verder genoem dat die medialandskap ʼn dinamiese omgewing is. “Nuuskantore bestaan ook nie meer uit ʼn reuse-nuusspan nie. Mens moet jou stories kies en kan nie meer alles dek nie. Daar is ook nie meer baie spasie vir spesialiste nie – mens stel ‘all-rounders’ aan wat verskeie stories kan skryf van goeie gehalte.”

Dit het gelei tot ʼn gesprek oor hoe joernaliste in vandag se tyd moet lyk. Steyn (Pieter) het genoem dat nuuskantore deesdae uit baie jonger joernaliste bestaan, maar dat mens steeds by die meer ervare joernaliste kan leer en juis daardie kans nie moet laat verbygaan nie. Slabbert het beaam dat die media ʼn goeie mengsel van jongmense, mense in die middel van hul loopbaan en ervare mense as joernaliste nodig het. “In my ervaring het ons bietjie van ʼn balans bereik,” het sy gesê.

Strydom van Maroela Media het genoem dat hulle joernaliste soek wat bereid is om te leer en ʼn passie het om te skryf. “Die jonger generasie is weer ouer joernaliste een voor met digitale vaardighede, maar ʼn ‘all rounder’ by ons is bereid om iets van alles te doen.” Beukman het die besprekingspunt afgesluit deur te sê dat die toekoms van media by gehalte joernaliste met passie en goeie vertrouensverhoudinge lê.

Nog ʼn punt wat tydens die paneelgesprek bespreek is, is wat goeie inhoud behels. Steyn het opgemerk dat mense bekendes se sensasie soek maar ook belangrike sake soos Eskom. “Daarom moet daar ʼn mengsel van verskillende stories wees – jy moet vir mense gee wat hulle wil lees, maar ook wat hulle nodig het.”

Strydom het hierdie aanslag beaam. “By Maroela Media het ons ʼn wye verskeidenheid lesers danksy ons groot variëteit van stories, vanaf harde nuus, tot landbou, tot vermaak, gemeenskapstories en baie meer.”

Hy het verder gesels oor hoe mens stories prioritiseer in die digitale mediaruimte. “Omdat ons ʼn direkte verhouding met ons lesers het, kry ons vinnig terugvoer. Só weet ons watter inhoud tref onder ons lesers wat ons help om ons inhoud te bepaal. Omdat ons ʼn nuwe platform is en slegs digitaal, kon ons ondersoek doen om kwaliteit inhoud te lewer, eerder as kwantiteit wat maklik aanlyn kan gebeur.”

Nog een van die besprekingspunte was die groot verskeidenheid platforms waaruit die media deesdae bestaan. Steyn het genoem dat dit vir hom ʼn voorreg is om op verskeie mediaplatforms te kan werk. “Op die ou einde is ons almal storievertellers, ongeag van die platform wat jy gebruik. Die digitale ruimte is egter honger vir goeie inhoud – dit is ʼn uitdaging en ʼn groot geleentheid om hierdie ruimte te probeer vul,” het hy afgesluit.

Akademia het op Donderdag 13 April ʼn joernalistieksimposium in die Departement Tale en Kultuurwetenskappe aangebied. Die sprekers was Maygene de Wee (Netwerk 24), Kabous Meiring (Prontuit), Susan Lombaard (Maroela Media) en Barnard Beukman (Beeld).
Prof. Johannes Froneman se boek oor die geskiedenis van Afrikaanse joernalistiek, Ter wille van oorlewing, ideologie en geld, is tydens die simposium bekendgestel. Froneman en Heindrich Wyngaard het die boek bespreek tydens die funksie.
Die paneelgesprek rakende die geleenthede en uitdagings in die Afrikaanse media is bespreek deur Barnard Beukman, Nico Strydom, Heindrich Wyngaard, Antoinette Slabbert, en Pieter Steyn.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.