*Die Paarl-kampus is voorlopig goedgekeur
Gepubliseer op: 27 Januarie 2026
Geskryf deur Salomien Boshoff, vakhoof: Ondernemingsbestuur aan Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Die wêreld van bemarking verander vinnig. Dink maar net aan nuwe tegnologieë, kunsmatige intelligensie (KI), groot hoeveelhede data en voortdurend veranderende verbruikersgedrag. Hierdie realiteite maak dit maklik om te glo dat die bemarker van die toekoms bloot iemand is wat slimmer instrumente kan gebruik, vinniger kan werk en meer sosiale media en ander platforms kan bestuur. Maar die werklike vraag is dalk eerder: Het ons regtig net meer vaardige bemarkers nodig – of geheel en al ʼn ander soort bemarker?
Hoewel tegnologie baie prosesse versnel en vereenvoudig, maak dit nie bemarkingsbesluite noodwendig makliker nie. Inteendeel, hierdie besluite raak daagliks moeiliker en meer kompleks. Elke besluit oor teikenmarkte, begrotings, handelsmerkposisionering of kommunikasie dra groter implikasies as ooit tevore en ʼn verkeerde besluit word vinniger uitgewys, verder versprei en moeiliker reggestel.
In só ʼn wêreld is bemarking nie meer nét ʼn uitvoerende funksie nie. Navorsing in Suid-Afrika wys juis op hierdie spanning. Bevindinge deur Modiegi Mulaudzi (so onlangs as 2023) toon dat die plaaslike bemarkingsbedryf ʼn groeiende gaping tussen taktiese vaardighede en strategiese oordeel ervaar. Werkgewers soek nie net werknemers in bemarking wat kan doen en aksie neem nie, maar mense wat kan dink, integreer en verantwoordelik besluite kan neem.
Van doen na dink
Baie bemarkers is uitstekend daarmee om die vraag, “Wat doen ons volgende?” te beantwoord. Die bemarker van die toekoms begin egter by ʼn ander vraag: “Waarom doen ons dit – en hoe dra dit by tot my span, my onderneming se visie en die samelewing se volhoubaarheid? Strategiese bemarking vra dat ʼn mens anders dink oor besluite. Bemarkingsbesluite is nie meer iets om net vinnig te neem omdat dit moontlik is nie, maar om bewustelik te besluit wat werklik aandag nodig het.
Elke keuse plaas iets op die voorgrond en skuif iets anders opsy; elke aksie het gevolge wat verder strek as die volgende veldtog. Juis daarom beweeg bemarking weg van maklike antwoorde wat deur KI gegee word of voorafbepaalde oplossings wat op die internet verkry kan word. Bemarking word toenemend ʼn bestuursfunksie waar oordeel, konteks en verantwoordelikheid swaarder weeg as spoed alleen.
Hierdie skuif word ook weerspieël in die werk van die Marketing Association of South Africa (MASA), wat bemarking plaaslik doelbewus posisioneer as ʼn professionele bestuursdissipline en nie net bloot ʼn versameling taktiese vaardighede nie. MASA beklemtoon etiese praktyk, professionele standaarde en voortdurende ontwikkeling juis omdat moderne bemarkers toenemend verantwoordelikheid dra vir strategiese rigting, waardeskepping en vertroue. Deur professionele standaarde, etiese riglyne en voortdurende professionele ontwikkeling help MASA om bemarkers toe te rus om nie net vinnig op te tree nie, maar om ingeligte, verantwoordbare besluite te neem wat die organisasie én die breër samelewing dien.
Data help, maar oordeel lei
Die huidige era is een van ongekende data. Tog bied data selde volledige sekerheid. Data kan wys wat gebeur, maar nie altyd hoekom dit gebeur nie. Dit kan patrone uitwys, maar nie noodwendig betekenis gee nie.
Internasionale en plaaslike studies bevestig en ondersoek hierdie spanning. HG Insights wys dat datagedrewe ondernemings tot ses keer meer winsgewend kan wees, en vyf tot agt keer beter opbrengs op belegging kan lewer, maar slegs wanneer data met konteks en oordeel gekombineer word. Digital Regenesys beklemtoon weer dat die grootste uitdaging nie toegang tot data is nie, maar die vermoë om sinvolle besluite daaruit te kan neem. Die bemarker van die toekoms is daarom datageletterd, maar mensgesentreerd. Data word ʼn inset vir denke – nie ʼn plaasvervanger daarvoor nie.
Navorsing as rigtingwyser, nie net ʼn bewysstuk nie
Waar bemarking vroeër dikwels op aannames staatgemaak het, beweeg dit al hoe meer na bewysgedrewe besluitneming. Dit beteken egter nie om alles te meet tot die punt van verlamming nie.
Die bemarker van die toekoms onderskei hom- of haarself deur die vermoë om die regte vrae te stel, gepaste metodologieë te kies en navorsingsbevindings verantwoordelik na ʼn strategiese rigting te vertaal. Dit verg meer as tegniese kundigheid; dit vra oordeel. Juis hier ontstaan ʼn kernspanning in moderne bemarking: die balans tussen diepte en tyd.
Nie elke besluit kan uitgestel word totdat alle inligting beskikbaar is nie, maar ook nie elke besluit kan geneem word sonder deeglike nadenke nie. Die waarde van die bemarker lê daarin om te weet wanneer daar genoeg insig is om verantwoordelik op te tree, en wanneer verdere ondersoek noodsaaklik bly.
Die skuif van bemarking na leierskap
Bemarking is lank reeds nie net ʼn spesialisrol nie – dit is ʼn leierskapsrol. Volgens die American Marketing Association (AMA) se 2021 meningspeiling (soos van toepassing op hoofbemarkingsbestuurders) het bemarking se rol uitgebrei. Hierdie uitbreiding verteenwoordig ʼn klemverskuiwing vanaf kommunikasie na kernbesluitneming binne organisasies, met moderne bemarkingsbestuurders wat toenemend verantwoordelik gehou word vir groei, innovasie en rigting. Besluite word nie net op grond van feite geneem nie, maar binne ʼn netwerk van mense, belange en verwagtinge. Die bemarker van die toekoms moet kan kommunikeer, spanning fasiliteer en uiteenlopende perspektiewe bymekaarbring. Op die keper beskou beteken dit dat invloed belangriker as enige titel word.
Kreatiwiteit as verantwoordelike risiko
Kreatiwiteit bly ʼn kern van bemarking, maar nie in die oppervlakkige sin van “iets nuuts probeer” nie. Ware kreatiwiteit beteken om nuwe waarde te skep binne werklike beperkings. Elke kreatiewe besluit vra ʼn afweging tussen risiko en waarde.
In die lig hiervan word bemarkers toenemend beoordeel op hul vermoë om prestasie, vertroue en verantwoordbaarheid in balans te hou. Kreatiwiteit in bemarking is daarom nie ʼn aksie sonder nadenke nie, maar ʼn deurdagte keuse waar risiko en waarde teen mekaar opgeweeg word om sinvolle, volhoubare impak te skep.
As alles saamgevat word, sien ons ʼn duidelike verskuiwing. Die bemarker van die toekoms is minder ʼn uitvoerder, meer ʼn denker; minder reaktief, meer rigtinggewend. Nie omdat hy of sy al die antwoorde het nie, maar omdat hy of sy kan besluit wanneer daar geen maklike antwoord is nie. En dalk lê dit juis hier waar die ware waarde van bemarking én bemarkingsopleiding vandag lê: nie in die belofte van sekerheid nie, maar in die vermoë om met kompleksiteit saam te leef en steeds verantwoordelike keuses te maak.
Bemarking behels daarom nie om altyd reg te wees of om net iets te verkoop nie, maar ʼn doelbewuste, ruimhartige poging om mense se werklike probleme te help oplos, hul lewens te verbeter en vertroue te bou deur empatie, betekenisvolle stories en deur te fokus op dit wat werklik saakmaak.
Akademia bied vanaf 2026 ʼn splinternuwe program, die Nagraadse Diploma in Bemarkingsbestuur, aan en studieaansoeke word reeds ingewag en sluit op 27 Februarie. Indien jy in dié program belangstel en meer wil uitvind, woon die aanlyn inligtingsessie op Donderdag 12 Februarie by. Besoek gerus die Akademia-webblad om jou aanlyn sitplek te bespreek.

Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.