Sagteware-ontwikkeling nou óók deel van Akademia se nauurse programverskeidenheid

Gepubliseer op: 21 Julie 2025

Sien jy uit na ʼn loopbaan as sagteware-ontwikkelaar waar jy jou voorliefde vir tegnologie en vernuftige probleemoplossing kan uitleef? Bevind jy jouself egter reeds in die werksomgewing óf jaag jy voltyds ander belangstellings na? Indien wel, het Akademia goeie nuus vir jou! Vanaf 2026 sal die BSc (Rekenaarwetenskappe)-program, spesifiek die sagteware-ontwikkelingstroom óók by wyse van die instelling se nauurse afstandsmodel aangebied word. Studente wat van dié onderrigleermodel gebruik maak het die keuse om óf hul studie via die e-leeropsie vanaf enige plek ter wêreld aan te pak, óf om van Akademia se uitgebreide sentrumnetwerk gebruik te maak.

Volgens dr. Piet Pretorius, waarnemende dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe aan Akademia, word sagteware-ontwikkeling allerweë beskou as een van die vaardigheidsvelde waarvoor daar ʼn groot aanvraag bestaan – plaaslik en internasionaal. Die rede hiervoor, verduidelik Pretorius, is dat kodering op welke wyse ook al ʼn beduidende impak op alle rekenaartegnologie uitoefen.

“In die lig van nie nét die gewildheid van die sagteware-ontwikkelingstroom nie, maar ook die noodsaaklikheid van goed opgeleide kundiges in dié veld is Akademia daartoe verbind om ʼn voorkeurstudietuiste vir rekenaarwetenskaplikes te wees.” sê Pretorius. Hy voeg by dat dié uitbouing van hierdie program tot die instelling se nauurse afstandsmodel voorts ʼn lansie breek vir die Afrikaanse universiteitswese.

Meer oor die BSc (Rekenaarwetenskappe)-program

Akademia se Fakulteit Natuurwetenskappe huisves sedert 2023 die instelling se dinamiese BSc (Rekenaarwetenskappe)-program. Dié program rus graduandi toe om met kritiese interdissiplinêre vaardighede die snelgroeiende veld van rekenaarwetenskappe met selfvertroue te betree.

Studente het ʼn keuse om in twee fokusareas te spesialiseer, naamlik datawetenskappe en sagteware-ontwikkeling waarvan die eersgenoemde via die voltydse kampusmodel in Pretoria aangebied word. Die laasgenoemde sal vanaf 2026 op die voltydse Paarl-kampus en via die nauurse afstandsmodel aangebied word.

Beide hierdie fokusareas omvang ʼn beduidende aantal onderwerpe, waaronder projekbestuur, databasisse, bedryfstelsels en netwerke. Sagteware-ontwikkeling fokus primêr op die aktiwiteite wat aan die ontwikkeling en integrering van stelselkomponente verbonde is soos kodering, databasisse, ensovoorts. Datawetenskappe volg ook ʼn sagteware-ontwikkelingsbenadering, maar is baie meer gefokus op die ontwikkeling van algoritmes vir die ontleding van data, en die besluitneming wat daarop gebaseer is. By datawetenskappe is daar ook ʼn groter fokus op wiskunde en statistiek vir die ontwikkeling van komplekse algoritmes.

Studieaansoeke vir die 2026- akademiese jaar is reeds oop. Besoek gerus die Akademia-webblad vir meer inligting.

Dr. Piet Pretorius, waarnemende dekaan: Fakulteit Natuurwetenskappe aan Akademia, meen dat dat die uitbouing van die instelling se BSc (Rekenaarwetenskappe)-program, spesifiek die insluiting van die sagteware-ontwikkelingstroom tot die nauurse afstandsmodel, ʼn lansie breek vir die Afrikaanse opleiding van kundige rekenaarwetenskaplikes.
Binne Akademia se BSc (Rekenaarwetenskappe)-program het studente die keuse om in twee fokusareas te spesialiseer, naamlik datawetenskappe en sagteware-ontwikkeling. Die eersgenoemde word via die voltydse kampusmodel in Pretoria aangebied, terwyl die laasgenoemde vanaf 2026 op die voltydse Paarl-kampus asook via die nauurse afstandsmodel beskikbaar sal wees.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.