Gepubliseer op: 3 Julie 2025
Akademia-alumnus, Hanke du Plessis (34) het ʼn fyn aanvoeling vir detail. Hierdie ingesteldheid kom haar baie handig te pas in haar dubbeldoorwerksverantwoordelikheid by onderskeidelik Agrisol én Melior in Potchefstroom. Beide hierdie maatskappy funksioneer binne die Suid-Afrikaanse landbousektor en bedien boere met onder meer onafhanklike ontledings, landboukundige advies en oplossings wat op wetenskap geskoei en datagedrewe is. Du Plessis het tydens die instelling se onlangse kwalifikasieplegtigheid nie nét die BComHons (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie met onderskeiding verwerf nie, maar is óók tydens die voorafgaande prestigefunksie as die toppresteerder in dié program vereer.
ʼn Aangename Akademia-leerervaring
Oor dié merkwaardige prestasie is Du Plessis baie dankbaar en sy vertel dat haar fokus op detail óók hierin ʼn deurslaggewende rol gespeel het. “Ek het my studie aan Akademia in 2023 via die nauurse afstandsmodel oor twee jaar aangepak vanweë my besige skedule. Op hierdie manier kon ek myself die ruimte bied om my kennis en vaardigheide tot in die fynste detail verder te ontwikkel en te verdiep,” verduidelik Du Plessis. Sy dra haar prestasie op aan haar Hemelse Vader en gebruik dit as ʼn getuienis van Sy goedheid en guns.
In hierdie tyd het sy van die e-leeropsie gebruikgemaak en is sy vol lof vir die toeganklikheid van hierdie onderrigleermodel. Laasgenoemde het haar in staat gestel om goed te beplan en soms selfs vooruit te werk om voorsiening te maak vir besige tye by die werk. Hiermee saam beskryf sy die instelling se leerbestuurstelsel vir studente, die Spens, as ʼn eenstopdiens wat voorbereiding baie vergemaklik het.
Wat Du Plessis se kennismaking met Akademia betref, vertel sy dat sy gedurende die instelling se vroeë vestigingsjare in 2013 betrokke was by die sagtewareontwikkelingsproses van die destydse studente-aansoekportaal. “Die Akademia-droom en -span het my toe reeds beïndruk en ek het die instelling se groei en vordering sedertdien via sosiale media dopgehou. Omdat ek myself met die instelling se werkswyse én waardestelsel vereenselwig, was ek baie opgewonde toe die nagraadse Ondernemingsbestuur-program aangekondig is,” sê Du Plessis. Sy voeg by dat ʼn nagraadse kwalifikasie haar voorts ʼn stappie nader bring aan haar droom van deelname aan ʼn MBA-program.
Terugskouend oor haar studiereis is dit vir Du Plessis moeilik om ʼn enkele gunstelingmodule of -dosent uit te sonder. Vir haar was die dosente se deeglike voorbereiding, passievolle ingesteldheid en kundigheid ʼn riem onder die hart. Voortdurende terugvoer het haar ook in staat gestel om opdrag vir opdrag te verbeter en só aan haar grootse prestasie te werk. Sy lig wel haar hoed vir Elize-Mari Coetzer, programkoördineerder: BComHons (Ondernemingsbestuur) en departementshoof van Bestuurswetenskappe, vir haar mentorskapsrol as studieleier van haar groepsnavorsingsprojek. Sy het ook die geleentheid gehad om dr. Rachel Maritz, dekaan: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, persoonlik te ontmoet. Du Plessis beskryf Maritz as ʼn uiters dinamiese en vooruitstrewende leier wat studente na hoër hoogtes inspireer.
“Ek het my Akademia-reis terdeë geniet en kan nie uitgepraat raak oor hoe baie ek geleer het nie, akademies én persoonlik. Ek wens ʼn soortgelyke ervaring toe vir elke Fontie asook alle voornemende studente!” sê Du Plessis. In die lig hiervan meen sy dat haar alma mater inderwaarheid ʼn voorkeurhoëronderwysinstelling is wat die vlag van Afrikaanse universiteitswese hoog swaai.
Balanseer só werk en studeer
Om te werk en te studeer is volgens Du Plessis nie net haalbaar nie, maar ook baie bevredigend mits jy jou studie realisties en doelgerig aanpak. Die realiteit is egter dat dit wel by tye uitdagend kan wees.
Sy het die volgende praktiese advies vir diegene wat nauurse afstandstudie oorweeg:
Omring jouself met ʼn goeie ondersteuningsnetwerk. “Ek is nie seker of ek hierdie reis sonder my ondersteuners sou kón aanpak nie, wat nog te sê voluit sou kon deurvoer nie. Ek is opreg dankbaar vir elkeen van hierdie ondersteuners se rol en onderskraging.” noem sy.
Du Plessis sluit af deur die hoop uit te spreek dat elke Fontie met verwondering gevul sal wees oor die vorming wat hul denke én hart tydens hul studiereis sal ondergaan, ongeag die onderrigleermodel wat hulle volg. Hierdie verwondering is volgens Du Plessis ʼn getuienisvlam wat die boodskap van Akademia die wêreld sal indra.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.