Maritieme loods stuur sy loopbaan as trotse Akademia-alumnus

Gepubliseer op: 1 Julie 2025

Die ou skeepsvaartgesegde, iemand se kompas staan stil, verwys na ʼn persoon wat onseker is en nie weet wat om te doen nie – en per implikasie daarom nie bewus is van watter koers sy/haar skip vaar nie. Hierdie is allermins die geval vir Akademia-alumnus, Deon Basson (49), wat as maritieme loods en hawemeester werksaam is by die Mosselbaaise hawe.

Van die hawemeesterskantoor na die lesinglokaal

Vir dié Kapenaar, wat in 2017 by Akademia aangesluit het, het sy reis as Fontie met die BCom (Ekonomie en Regte)-program begin wat hy by wyse van die nauurse afstandsmodel aangepak het. Hy het gevolglik by die sentrum in George ingeskakel en vertel trots dat hy die program in die voorgeskrewe minimumtyd van drie jaar voltooi het. Laasgenoemde is beslis ʼn prestasie as jy in ag neem dat hy destyds voltyds as loods én operasionele bestuurder by die hawe gewerk het. “Ek het harde bene gekou, maar danksy die vaardighede wat ek tydens my studie opgedoen het, soos kennis oor die Wet op Arbeidsverhoudinge, kon ek kop bó water hou,” skerts Basson. Hy lig óók sy hoed vir sy familie sonder wie se ondersteuning hy nie sou kon klaarkom nie.

Intussen het Basson se leergierigheid en sy belangstelling in die regte hom aangespoor om vir die LLB-program te registreer, en is hy tans besig om hierdie program nauurs oor afstand te voltooi. Hy pak hierdie ronde sy studie by wyse van die e-leeropsie aan en meen dat die gerief en toeganklikheid hiervan hom soos ʼn handskoen pas, veral gegewe sy huidige werksverpligtinge. Volgens Basson het die BCom (Ekonomie en Regte)-program hom voorts baie goed voorberei vir sy LLB-studie en is hy dankbaar vir hierdie deeglike begronding wat hom in staat stel om die groter geheel raak te sien en te waardeer.

Só ontvou Basson se loopbaanreis

Basson se loopbaanreis het in Simonstad begin toe hy as ʼn offisier by die Suid-Afrikaanse Vloot aangesluit het. Sedertdien het hy vir onder meer Safmarine se handelsvloot gewerk, die destydse Kaapse Technikon (nou die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie) én Transnet (sy huidige werkgewer).

Ten einde jouself as ʼn maritieme loods te bekwaam vereis twaalf maande se intensiewe opleiding, plaaslik én internasionaal. Basson vertel dat jy in Durban, Kaapstad en Nederland geskool is in lesinglokale, nabootser asook in die wind en weer op die wye oseaan. Omdat elke hawe se uitleg verskil het jy volgens Basson voorts te make met verskillende dieptes, gevaarpunte, seestrome, heersende winde en nóg vele meer. Om hierdie rede benodig elke hawe ʼn spesialisbegeleier, of dan maritieme loods, wat skepe sorgvuldig in en uit die hawe kan begelei. Maar wat presies behels dié loods se werk?

Basson verduidelik dat hy deur ʼn loodsboot na die gekarteerde loodsoptelpunt, ongeveer vyf kilometer buite die bek van die hawe, geneem word om groot skepe te begelei. As loods klim hy met ʼn touleer op teen die kant van ʼn skip en sodra hy aan boord is, sluit hy op die brug by die kaptein aan om die navigasieplan tot in die hawe te bespreek. Sodra die skip veilig in die hawe is, word wagtende sleepbote beveel om die skip veilig teen die kaai te bring.

As hawemeester, ʼn rol wat hy in die tussentyd vervul, is hy meestal kantoorgebonde.

ʼn Trotse Akademia-ambassadeur

Basson, wat baie trots is op sy Fontie-status, rig sy lewe volgens die bekende filosofie dat ʼn persoon se sterflikheid ʼn gegewe is, maar dat enige leerervaring ewigheidswaarde het. In die lig hiervan glo hy dat persoonlike ontwikkeling belangrik is en dat ʼn mens daarna moet streef om ten alle tye relevant en bemarkbaar te bly.

“Ek vertel vir almal van Akademia,” sê Basson en voeg by dat dit juis die instelling se moedertaalonderrig is wat hom opgewonde maak. “Ek was aanvanklik skepties daaroor om in Afrikaans te studeer, veral omdat ek myself in ʼn Engelse werksplek besig, maar vandag is ek oortuig dat ek nie ʼn beter keuse kón maak nie,” meen Basson. Vir hom het moedertaalonderrig vir groter begrip gesorg en kon hy programinhoude baie vinniger sy eie maak en toepas.

Wat die instelling se uitbreidingsplanne met ʼn nuwe voltydse Paarl-kampus asook die ontwikkeling van ʼn wêreldklas kampus in die ooste van Pretoria, is Basson baie opgewonde. “Ek is só trots op my alma mater en studietuiste, en dit is vir my ʼn riem onder die hart om te sien hoe Akademia al hoe meer ʼn voorkeurhoëronderwysinstelling word,” sluit Basson af.

Indien jy soos Basson ʼn trotse Akademia-alumnus is en graag jou loopbaanreisverhaal wil deel, en só ander Fonties wil inspireer, besoek die Akademia-webblad.

Deon Basson (49) is ʼn maritieme loods en tussentydse hawemeester by die Mosselbaaise hawe. Dié Kapenaar is óók ʼn trotse Akademia-alumnus.
As maritieme loods is Deon Basson daarvoor verantwoordelik om skepe veilig in en uit die hawe te navigeer.
ʼn Kantooruitsig met ʼn verskil. Akademia-alumnus, Deon Basson, werk as maritieme loods by die Mosselbaaise hawe.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.