Gepubliseer op: 14 April 2025
Geskryf deur Willem Ackerman, dosent: Professionele Studies aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.
Die vraag word dikwels gevra of Geskiedenis op skoolvlak enigsins waarde toevoeg. Ons bevind onsself immers in ʼn snel ontwikkelende samelewing waar die fokus deurlopend op vaardigheidsontwikkeling met die oog op ʼn uiters mededingende beroepswêreld geplaas word. My antwoord op dié vraag is ʼn onomwonde “ja!”.
Geskiedenis as ʼn skoolvak speel ʼn onmisbare rol in die ontwikkeling van kritiese denke én kulturele selfbegrip. Dit help leerders om die verlede beter te verstaan en só hulself toe te rus om ingeligte besluite oor die hede en die toekoms te kan neem.
Méér as net ʼn studie van die verlede
Geskiedenis behels soveel méér as bloot ʼn studie van die verlede. Dit is in aard en wese ʼn instrument wat leerders help om patrone te identifiseer, besluite krities te evalueer en op dié manier hul plek in die samelewing te verstaan. In kort: dit slaan ʼn brug tussen generasies. Hierdie verbintenis fasiliteer voorts vaardigheidsontwikkeling wat verband hou met die oordrag van kulturele erfenis en waardes asook die ontleding van komplekse sosiale, politieke en ekonomiese vraagstukke.
ʼn Samelewing wat sy verlede nie deeglik verstaan nie, loop die gevaar om dieselfde foute vanuit die verlede te herhaal. Om hierdie belangrike rede speel Geskiedenis ʼn kernrol in die begrip en ontwikkeling van ʼn eie taal- en kultuuridentiteit. Hierdie identiteit beïnvloed die manier waarop persone binne ʼn groter gemeenskapskonteks met mekaar en die omgewing skakel. Die gehalte van laasgenoemde interaksie word gevolglik gekenmerk deur die vermoë (of dan onvermoë) om ʼn eie narratief te skep, eerder as om uitsluitlik op ander se weergawes en interpretasie van gebeure te reageer.
Só beskryf kundiges die waarde van dié vakgebied
Die akademikus dr. Leopold Scholtz illustreer hierdie idee met ʼn analogie wat hy op Tafelberg skoei: Dié gebergte verskyn anders afhangend van ʼn persoon se perspektief, máár bly steeds dieselfde berg. Soos die geval ook met Geskiedenis is, bly dit ʼn konstruksie van verskeie perspektiewe. Walter Cronkite beklemtoon dit deur te sê: “In seeking truth, you have to get both sides of the story.” Hierdeur benadruk hy die noodsaaklikheid van kritiese denke en deeglike bron-analise in die bestudering van dié vakgebied.
Op sy beurt meen die historikus Arthur Marwick dat Geskiedenis nie net ʼn onveranderlike verlede is nie, maar ʼn dinamiese veld waarin verskeie interpretasies die teenwoordigheid en toekoms beïnvloed. Sy siening oor die noodsaaklikheid van kritiese denke, soos in dié vakgebied ontwikkel word, bevestig hoe hierdie dissipline die nodige vaardighede vir die ontleding van die verlede en die evaluering van sy impak op die hede en toekoms ontwikkel.
Stefan Berger, ʼn Europese historikus, se werk oor die samehang tussen taal, kultuur en opvoeding beklemtoon die belangrikheid van Geskiedenis in die vorming van identiteite in die samelewing. Volgens Berger speel Geskiedenis ʼn sleutelrol in die bevordering van kultuurerfenis, wat nie net die taal bevorder nie, maar ook die kulturele identiteit en erfenis beskerm.
Beide Marwick en Berger se benadering en gedagtegang illustreer hoe die studie van Geskiedenis, deur kritiese interpretasie, nie net die verlede bewaar nie, maar óók die bewaring van kulturele identiteit en die versterking van samehang tussen taal en kultuur bevorder.
Die sosiale wetenskappe as die sambreelveld waarbinne Geskiedenis gedy
Die Geskiedenis-komponent van sosiale wetenskappe ondersoek sleutelgebeure en -ontwikkelings in die geskiedenis van die mensdom. Dit sluit in die vorming en verandering van samelewings oor tyd, asook die invloed van politieke, ekonomiese en sosiale bewegings wêreldwyd in.
Verder bestudeer dit die rol van belangrike figure en ideologieë in historiese veranderinge, asóók die impak van kolonialisme, industrialisasie en globalisering op verskillende gemeenskappe. Suid-Afrika se geskiedenis tesame met sy veelvoudige kulturele hutspot vorm in die lig hiervan ʼn kernfokus, terwyl internasionale gebeure se invloed op plaaslike ontwikkelinge dienooreenkomstig ontleed word.
Maar watter invloed het dit op leerders? In die eerste plek stel dit leerders in staat om kritiese vrae te vra, bronne te evalueer én ingeligte gevolgtrekkings te kan maak. Hierdie vaardighede is noodsaaklik vir akademiese én professionele sukses, aangesien dit leerders toerus om onafhanklik te redeneer en hul eie oordeel te vorm.
Praktiese riglyne vir die klaskamer
Om Geskiedenis as skoolvak op ʼn doeltreffende manier oor te dra, moet dit relevant en boeiend vir leerders gemaak word. Hiermee enkele strategieë wat in die klaskamer toegepas kan word:
Oorspronklike dokumente, foto’s en mondelinge geskiedenis bied aan leerders ʼn meer genuanseerde begrip en maak die vak meer tasbaar.
Deur historiese gebeure aan hedendaagse kwessies te koppel, kry dit betekenis.S
Debatte, rolspel en simulasies verdiep insig en betrek leerders aktief by die vakinhoud.
Digitale bronne en virtuele realiteit kan historiese terreine lewendig maak sonder fisiese reise.
Struktureer lesse rondom temas soos mag, innovasie of menseregte om só patrone te help identifiseer en groter begrip te kweek.
Deur leerders aan te moedig om hul eie gemeenskap se geskiedenis te ondersoek, word die vak persoonlik en relevant.
Geskiedenis as ʼn hoeksteen van die sosiale wetenskapsveld speel ʼn onontbeerlike rol in die vorming van ingeligte en verantwoordelike burgers. Dit verskaf ʼn raamwerk vir die begrip van die wêreld en bevorder kulturele en historiese bewustheid.
Die oud-staatsman Jan Smuts het per geleentheid gesê: “Die geskiedenis van ʼn volk is die verhaal van sy stryd om sy bestemming te bereik.” Hierdie idee versterk die waarde van Geskiedenis as ʼn dinamiese proses wat die identiteit van ʼn samelewing vorm en die pad na sy toekoms bepaal. Om daarom dié vak doelbewus en insiggewend te onderrig, is nie net ʼn akademiese noodsaaklikheid nie, maar óók ’n morele verpligting teenoor toekomstige geslagte.
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2025 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat
Akademia-skenkingsfonds
Eerste Nasionale Bank
Rekeningnommer: 62857561445
Takkode: 210554
Verwysing: Jou selfoonnommer
Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)
Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.
Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak.
083 254 0142
skenking@akademia.ac.za
Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.