Moedertaalonderrig die polsslag van Akademia se roepingstaak

Gepubliseer op: 21 Februarie 2025

Wanneer daar na die spreekwoordelike harde- en sagteware van ʼn hoëronderwysinstelling –soos Akademia – gelet word, is beide belangrik, maar dit is deur goeie sagteware dat gehalte uitsette gelewer word. Uitsette wat ʼn positiewe impak in jou lewe, jou werksplek en jou gemeenskap tot gevolg sal hê. Só meen Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia.

Hy verduidelik dat hardeware onder meer na dinge soos die instelling se fasiliteite (bates) verwys – die kampusse in Centurion en eersdaags in die Wes-Kaap, die sentrumnetwerk, akademiese programme, die leeruitkomste asook die assesseringsmetodes. Dit is egter die sagteware, wat die gees én roepingstaak van die instelling ontsluit. Hiermee word onder andere bedoel dinge soos werksetiek, ingesteldhede, deelname, oop gesprekke en die omgeehart van die Akademia-gemeenskap – personeel, studente en alumni.

Op Internasionale Moedertaaldag, wat op Vrydag 21 Februarie gevier word, verduidelik Visser dat moedertaalonderrig een van die instelling se sleutelsagtewarekomponente is. Hy voeg by dat dié verbondenheid tot die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe asook die Afrikaanse universiteitswese gevier, gekoester én doelgerig uitgebou moet word.

Dit is volgens Visser baie belangrik dat die hardeware nie agterweë gelaat word in ʼn groeiende omgewing nie. En Akademia as instelling staan op die drumpel van gróót uitbreidings, wat veral infrastruktuur betref. “Die vestiging van die satellietkampus in die Paarl met die ingang van 2026 en die ontwikkeling van ʼn wêreldklas kampus in Pretoria met die oog op 2028 is goeie voorbeelde hiervan.

“Dit is egter belangrik om te besef en bestek te neem daarvan dat Akademia nóg altyd, en toenemend, op die uiters hoë gehalte van sy instellingsaard en wese presteer,” verduidelik Visser en voeg by dat die instelling se roepingstaak die grondslag vir hierdie prestasie lê. Laasgenoemde verwys na die strewe om ʼn Afrikaanse studietuiste te wees waar die denke én hart van Fonties* gevorm word met die oog op ʼn vrye toekoms.

Maar wat doen die instelling om moedertaalonderrig te vier en te bevorder? Dertien jaar ná die eerste klasse met slegs 42 studente in vier programme ʼn aanvang geneem het, word beduidende stappe geneem om die rykheid van Afrikaans as universitêre taal te omhels en uit te brei. In die lig hiervan noem Visser verskeie wyses waarop die instelling bogenoemde vermag:

  • As ʼn trots-Afrikaanse hoëronderwysinstelling neem Akademia vanjaar deel aan die #Afrikaans100-veldtog deur onder meer ʼn toegewyde jaartema, koorfeeste, pasgemaakte studenteaktiwiteite én deelname aan verskeie nasionale en plaaslike gebeurlikhede.
  • Geleenthede te skep vir individue, ongeag waar in die wêreld hul hulself mag bevind, om op ʼn tersiêre vlak onderrig in Afrikaans te kan ontvang. Akademia se internasionale voetspoor sluit lande soos onder meer Australië, Namibië, Nederland, Nieu-Seeland, Rusland, Swede, Thailand, die Verenigde Emirate en die Verenigde State van Amerika in.
  • Die voorsiende aflewering van ʼn rekordgetal van meer as 500 kwalifikasies tydens die 2025-kwalifikasieplegtigheid spieël die viering en lewenskragtigheid van Afrikaanse moedertaalonderrig op die hoogste vlak.
  • ʼn Dinamiese aanbod van ʼn verskeidenheid programme by wyse van vyf fakulteite, naamlik: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Natuurwetenskappe, Regsgeleerdheid, Geesteswetenskappe en Opvoedkunde.
  • Die daarstelling van ʼn vriendelike, verstaanbare en gehalte onderrigsomgewing waarbinne Afrikaans gehuldig word as ʼn ontwikkelde en moderne universitêre taal in beide sy voltydse kampusmodel asook die nauurse afstandsmodel.
  • ʼn Passievolle verbintenis om die taal op die hoogste vlak te gebruik en daarom gedy die taal in sentrale universitêre funksies soos navorsing en dosering. Akademia se Taalsentrum het ten doel om juis hierdie taak te ondersteun deur Afrikaans as akademiese, algemene en vreemde taal uit te bou.
  • Aktiewe deelname aan die vestiging en verdere ontwikkeling van die taal as ʼn lewendige akademiese en wetenskapstaal ten einde volhoubaarheid te help verseker. Die instelling se samewerkingsooreenkoms met Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) is ʼn sprekende voorbeeld hiervan.
  • ʼn Bruisende studentelewe verleen stukrag by tot die versterking en vernuwing van Afrikaans as ʼn sosialiseringstaal.
  • Skryfnet, ʼn gesamentlike projek tussen Akademia en Maroela Media, bied aan Afrikaanse skrywers, professionele persone en skoolleerders die geleentheid om hul skryftalent te slyp deur kort- en langer kursusse aanlyn of via kontakwerkswinkels aan te bied.
  • As onafhanklike uitgewer van hoofsaaklik akademiese publikasies, streef Akademia Uitgewery deurentyd daarna om Afrikaans as kulturele en navorsingstaal verder uit te bou.
  • Die aanbied van ʼn verskeidenheid praktykgerigte kortkursusse via die kortkursusplatform Akademia et al.


“Moedertaalonderrig is die spreekwoordelike goue draad wat die denke en hart van Akademia aan mekaar verbind,” som Visser die instelling se verbondenheid tot Afrikaans op. Hy voeg by dat die instelling opgewonde is om voortgeset en doelgerig hande met die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe te vat om só die voortsetting van moedertaalonderrig en die Afrikaanse universiteitswese te help verseker.

*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, meen die instelling se verbondenheid tot die uitbouing van Afrikaans as ʼn universitêre taal word gespieël in die verskeie maniere waarop moedertaalonderrig omhels en uitgebrei word.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.