Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Die verantwoordelikheid teenoor ons oseane

Gepubliseer op: 6 Junie 2022

Geskryf deur prof. Hannes Rautenbach, dekaan: Fakulteit Natuurwetenskappe

In ʼn poging deur 140 lande om bewusmaking en gesamentlike optrede ten opsigte van die bewaring van watergehalte en ekosisteme in ons oseane aan te moedig, word Wêreldoseanedag jaarliks op 8 Junie deur die Verenigde Nasies se afdeling vir oseaansake en die wet van die see aangebied. In 2022 word daar klem gelê op ʼn aksiefokus, naamlik dat ons gesamentlik daaraan moet werk om ten minste 30% van ons blou planeet teen die jaar 2030 te beskerm teen onnatuurlike besoedeling en oormatige ontginning. Hierdie oseaan-aksiefokus sluit natuurlik ook aan by pogings om ons klimaat te stabiliseer en om volhoubare landelike ekosisteme en watergehalte te verseker.

Suid-Afrika se kuslyn, wat begrens word deur beide die Indiese en Atlantiese Oseane, strek oor ʼn enorme afstand van 2 850 km. Dit beteken dat, na Somalië (3 333 km), Suid-Afrika die tweede langste kuslyn op die Afrikakontinent het, en daarom oefen ons oseane ʼn wesenlike invloed uit op vele aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing.

Van die vroegste tye af was die seeroete om die Suid-Afrikaanse kuslyn van kardinale belang vir seevaarders en internasionale handel en is daar dikwels aan die Suid-Afrikaanse kus vir ʼn wyle vertoef om rantsoene en water op die skepe aan te vul. Vandag beskik Suid-Afrika oor nagenoeg sewe groot hawens, vanwaar goedere vanoor die hele suidelike Afrika in- en uitgevoer word.

Daarbenewens word die Suid-Afrikaanse kus en aangrensende oseane as ʼn ryk en diverse nasionale hulpbron beskou, waaruit sektore soos toerisme, handel, die mynwese, landbou en seevisserye kan voordeel trek. Voortspruitend hieruit ontstaan daar die risiko van ongekontroleerde afvalstorting, besoedeling en seelewe-ontginning. Oor die jare het laasgenoemde gelukkig aanleiding gegee tot verskeie kusbestuurbeleide en -wetgewings, asook die vestiging van verskeie mariene bewaringsgebiede.

Oor die dieper oseaan beoefen Suid-Afrika, volgens die internasionale wet, jurisdiksie uit oor ʼn enorme oseaangebied van bykans 1,5 miljoen km2. Dit kan vergroot word na vier miljoen km2 as ʼn onlangse aansoek vir ʼn meer uitgebreide gebied, insluitend die Prins Eduard-eilandgroep, deur die Verenigde Nasies goedgekeur word. Dit sal Suid-Afrika in ʼn posisie plaas om beheer uit te oefen oor een van die aarde se grootste oseaangebiede.

Aan die suidpunt van Afrika het ons daarom ʼn wesenlike verantwoordelikheid om ʼn bydrae te lewer tot die ordelike bestuur en ekologiese welvaart van die wêreld se oseane. Hierdie verantwoordelikheid word dikwels verontagsaam omdat ons die oseaan grootliks sien as die oppervlak van ʼn groot watermassa, sonder ʼn bewustheid van die uitgebreide gebied onder die wateroppervlak. By Akademia is dit dus elkeen van ons se plig om dieper te kyk, en sodoende by te dra tot die viering van Wêreldoseanedag.

Prof. Hannes Rautenbach is ʼn groot natuurliefhebber en dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia.