Search
Close this search box.

Nuwe loopbaan wink vir weermag-hoë na NGOS-studie aan Akademia

Gepubliseer op: 5 Desember 2024

Ná ʼn loopbaan van meer as 30 jaar in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) wink ʼn splinternuwe en opwindende loopbaanreis vir luitenant-kolonel Johan de Villiers (56). De Villiers voltooi vanjaar die Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys)-program aan Akademia, en hy sien daarna uit om in 2025 sy jarelange onderwysdroom te vervul.

Dié program, wat in kort as NGOS bekend staan, word via Akademia se nauurse afstandsmodel aangebied en bied aan gegradueerdes die geleentheid om as vakkundiges die onderwysberoepsveld te betree. In die geval van De Villiers, wat reeds oor ʼn BSc-verwante kwalifikasie beskik, sal hy homself gevolglik as ʼn Fisiese Wetenskappe-onderwyser vestig.

De Villiers, wat sy studie aan die instelling op 55-jarige ouderdom begin het en oor twee jaar aangepak het, is van mening dat die lewe eers werklik ná 50 begin. “Ek voel glad nie oud nie, inteendeel, ek sien kans vir nog só baie dinge. Ek onthou wel dat ek aan my eie ouers as oud gedink het toe hulle hierdie ouderdom was … Snaaks hoe ʼn mens se uitkyk en belewenis van die lewe verander,” filosofeer De Villiers.

Só ontvou De Villiers se Fontiereis

De Villiers het in Desember 2022 vir die NGOS-program aansoek gedoen, en die keuse uitgeoefen om sy studie oor ʼn tydperk van twee jaar aan te pak. “Omdat ek op daardie tydstip nog voltyds in die beroepswêreld gestaan het, het dié opsie my die geleentheid gebied om myself genoeg tyd te gee om aan my studieverpligtinge te bestee en só ʼn balans te vind tussen my bestaande werksverpligtinge en gesinslewe.”

Die keuse van Akademia as ʼn studietuiste het gevolg nadat De Villiers homself deeglik vergewis het met die beskikbare opsies vir persone wat wil werk én studeer. “Die nauurse afstandsmodel het die knoop vir my deurgehaak, en omdat ek in Pretoria gevestig is, is die Centurion-sentrum maklik toeganklik,” meen De Villiers. Hy verduidelik dat die oomblik toe hy sy daaglikse roetine vasgestel het, sy studies momentum gekry het en die aanpassing makliker geraak het.

Volgens De Villiers was sy aanvanklike loopbaandoel om homself as ʼn onderwyser te bekwaam en sy BSc-kwalifikasie was ter voorbereiding hiervan. Die lewe het egter anders daaruit gesien en hy het sy loopbaanvisier aangepas. “Ná negentien jaar in dieselfde rang, het die tyd egter vir my aangebreek om my horisonne verder te verbreed en my eertydse droom as ʼn tweede loopbaanreis aan te pak,” verduidelik De Villiers. Hy voeg by dat dié ommekeer gepaard gaan met ʼn totaal nuwe manier van dink, doen én selfs praat. “Ek is gewoond aan prosesse en selfs my woordeskat is deurspek met tegniese jargon,” vertel De Villiers en voeg by dat sy eerste kennismaking met pedagogie en konstruktivisme hom aanvanklik laat kopkrap het. “Ná twee jaar het ek die pedagogiese gesprekstaal onder die knie en kan ek nie wag om dit steeds verder uit te brei en toe te pas nie,” sê De Villiers.

Hy vertel dat hy nie ʼn enkele module as sy gunsteling kan uitwys nie, en dat al die modules tot sy vorming en afronding bygedra het. De Villiers meen élke dosent verdien om gekomplimenteer te word op sy/haar toewyding, passie en kennisoordrag. In dié opsig sonder hy graag die Wiskunde- en Natuurwetenskappe-dosente uit. “Hulle vermoë om moeilike inhoud effektief en verstaanbaar oor te dra verdien ʼn gróót pluimpie. Die bystand en leiding wat hulle tydens my proeftydperk gebied het, was ook uitsonderlik. Ek beskou elkeen van hulle as rolmodelle,” sê De Villiers.

Op die vraag of hy maklik as ʼn ouer student kon inskakel, antwoord De Villiers dat dit wel die geval was. “Ek is nog ou-skool en daarom was daar sekere uitdagings, en was die aanlyn klaservaring iets om aan gewoond te raak. Ek moes ook blitsvinnig leer om te tik, want jy het nét soveel tyd in die eksamen en om met net twee vingers te tik neem baie tyd in beslag,” lag De Villiers. Hy is dit egter eens dat hy deurentyd goed ondersteun is en dat die verskillende WhatsApp-gespreksgroepe baie handig te pas gekom het.

De Villiers, wat homself as ʼn passievolle lewenslange leerder beskou, noem dat dit belangrik is om – ongeag ouderdom of lewensseisoen – nóóit op te hou om leergierig te wees nie. “Óf dit nou beroepsgerigte opleiding is, kortkursusse om jouself toe te rus met lewensvaardighede óf bloot verdiepende leeswerk is wat jou in staat te stel om jou kinders met hul huiswerk te help, jy is dit aan jouself verskuldig om voluit te lewe en te leer,” verduidelik De Villiers. Hy voeg by dat stagnasie die wêreld ʼn baie klein plekkie maak.

Refleksie op ʼn luisterryke loopbaan

Oor die bestek van dertig jaar het De Villiers verskeie posisies binne die SANW beklee nadat hy as jong man sy verpligte dienspligjaar en basiese opleiding by die Infanterie Skool in Oudtshoorn voltooi het. Hierna het hy sy loopbaan in die weermag begin by Berede Sentrum, en is daarna oorgeplaas na Noordwes Kommandement Werkplaas wat ingelyf is by die Algemene Steunbasis Potchefstroom.

ʼn Bevordering na die rang luitenant-kolonel het De Villiers en sy gesin na die Jakarandastad verplaas en hier het hy by die Leërhoofkwartier diens gedoen. Tydens hierdie plasing het De Villiers eers as instandhoudingsbestuurder aan die stuur van die weermag se Casspir- en Mamba-voertuie se instandhoudingsafdeling gestaan, waarna hy as produktestelselbestuurder diens gedoen het. In 2017 is De Villiers as die B Eskadron-bevelvoerder van die Gautengse streekswerkswinkel aangestel – ʼn posisie wat hy tot en met sy uittrede uit die SANW in 2024 beklee het.

Toekomsmusiek

De Villiers betree 2025 met gróót opgewondenheid en sien daarna uit om by die Raad vir Suid-Afrikaanse Opvoeders (SARO) te registreer en sy onderwysloopbaan te begin. Intussen gebruik hy sy tyd om steeds verder te lees en méér kennis op te doen om, soos sy Akademia-dosente, besinnend ʼn indruk te maak op leerlinge en hul houding teenoor wiskunde en wetenskap.

Die volgende item op sy emmerskoplysie is om sy Sepedi-taalvaardighede uit te brei ten einde redelike gesprekke te kan voer. Verder wil hy graag sy gholfvoorgee onder 80 kry oor agtien putjies. “In wese wil ek egter elke geleentheid wat oor my pad kom aangryp en die lewe voluit lééf,” sluit De Villiers af.

Indien jy, soos De Villiers, die NGOS-program oor ʼn tydperk van twee jaar wil voltooi, doen vandag nog aansoek vir die 2025- akademiese jaar. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 23 Desember 2024.

Majoor Johan de Villiers sien daarna uit om ná ʼn loopbaan van méér as 30 jaar in die Suid-Afrikaanse Weermag (SANW) sy onderwysdroom uit te leef.

Direkte inbetaling: Bankbesonderhede

Akademia-skenkingsfonds

Eerste Nasionale Bank

Rekeningnommer: 62857561445

Takkode: 210554

Verwysing: Jou selfoonnommer

Testamentêre bemaking

Voeg die volgende klousule tot jou testament by. (Vervang self die bedrag.)

Ek bemaak ʼn kontantbedrag van R100 000.00 (Eenhonderd Duisend Rand) aan AKADEMIA MSW met registrasienommer: 2005/024616/08 geregistreer by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as ʼn privaat hoëronderwysinstelling ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 onder registrasienommer: 2011/HE08/005.

Laat jou besonderhede hieronder dan sal ‘n skenkingsfondsbestuurder met jou kontak maak. 


Zander Botha: Skenkingsfondsbestuurder

083 254 0142
skenking@akademia.ac.za

Ek sien uit daarna om jou persoonlik te ontmoet en jou unieke bydrae en nalatenskap te bespreek.