Search
Close this search box.

Leefstyloudits kan help om korrupsie te bekamp – Akademia-kenner

Gepubliseer op: 28 Oktober 2024

Geskryf deur Mariska Wannenburg, ʼn dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe by Akademia.

Kabinetslede asook lede van die onderskeie provinsiale regeringstrukture word gereeld aan leefstyloudits onderwerp wat tot groot openbare bespiegeling aanleiding gee. Méér nog toe dit onlangs bekend gemaak is dat sewe van die negentien amptenare binne die Gautengse provinsiale regering tot dusver nie hul oudit geslaag het nie. ʼn Verdere drie amptenare is voorts as mediumrisiko-kandidate geïdentifiseer. Maar waaroor gaan die bohaai en wat is die doel van hierdie oudits?

ʼn Leefstyloudit is niks anders as ʼn praktiese aanspreeklikheidsinstrument nie, en dit het ten doel om korrupsie te identifiseer en uit die weg te ruim. Korrupsie word dikwels na verwys as die ekonomiese pandemie van ons tyd, veral gegewe die Suid-Afrikaanse konteks.

Die teenvoeter vir korrupsie op welke vlak is etiese optrede wat gepaard gaan met morele regverdigheid, korporatiewe bestuur, aanspreeklikheid en integriteit. Dit is ongelukkig só dat staatsamptenare en politici heeldikwels nie dié etiese toets slaag nie, juis vanweë ʼn (ernstige) gebrek aan veral deursigtigheid wat hul bestuurspraktyke betref. Hierdie wanprestasie verswak die samelewing se algehele bestuursargitektuur en baan gevolglik die weg vir korrupsie om te floreer. ʼn Etiese samelewing dien as ʼn veerkragtige en langdurige buffer, en selfs as ʼn verdedigingsmeganisme, teen hierdie verval. Binne hierdie milieu speel intervensies soos ʼn leefstyloudit ʼn deurslaggewende rol.

Wat behels ʼn leefstyloudit?

In kort behels ʼn leefstyloudit die invordering van inligting ten einde ʼn staatsamptenaar se finansiële profiel te peil. Hierdie profiel trek ʼn verband tussen hulle wettige verklaarde inkomste en hulle bekende en waargenome bates.

Hierdie oudit word verder geskoei op tipiese waarskuwings of sogenaamde rooi vlae wat met ʼn staatsamptenaar se buitensporige leefstyl óf skielike lewenstylverandering gepaard gaan. Hierdie leefstyl of lewenstylverandering kan op korrupte gedrag dui en regverdig daarom verdere ondersoek.

Die Association of Certified Fraud Examiners (ACFE) het in ʼn 2024-verslag aangedui dat ongeveer 39% van alle mense bó hul werklike vermoë leef. Dié realiteit word egter reeds sedert 2008 as die mees algemene aanduider beskou as dit kom by individue se betrokkenheid by bedrieglike aktiwiteite. Dit word voorts gereken dat meer vroue (41%) as mans (39%) buitensporige leefstyle aanhang. Nóg ʼn interessante bevinding is dat die opbrengs uit korrupsie, of ander kriminele aktiwiteite, in die meeste gevalle op luukse items soos motors en vaste eiendom bestee word.

Die Suid-Afrikaanse presidensie het dit reeds in Desember 2017 benadruk dat korrupsie met dieselfde intensiteit beveg moet word as armoede, werkloosheid en ongelykhede. In daardie jaar se staatsrede is dit ook pertinent uitgewys dat uitvoerende bestuurders in die regering wat binne die openbare sektor werksaam is, hulself aan leefstyloudits moet onderwerp. In die lig hiervan is ʼn raamwerk saamgestel deur ʼn multidissiplinêre span wat onder meer bestaan het uit die presidensie, die teenkorrupsietaakspan, die openbare dienskommissie, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die ouditeur-generaal en die spesiale ondersoekeenheid van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Wanneer vind ʼn leefstyloudit plaas?

Dit is belangrik om daarvan kennis te neem dat só ʼn oudit nie iets is wat na willekeur gedoen word nie, en daar moet ʼn behoorlike basis wees vir ʼn ondersoek. ʼn Werknemer sal byvoorbeeld slegs uitgesonder word vir ʼn oudit indien daar ʼn skielike en onverklaarbare leefstylverandering plaasvind wat nie strook met ʼn bonus of salarisverhoging nie.

ʼn Belastingopgawe kan deur SAID vir ʼn leefstyloudit voorgehou word indien daar groot veranderinge in die belastingbetaler se inkomste, soos dit verband hou met sy/haar inkomste, gereflekteer word. In sektore wat besonder vatbaar is vir korrupsie, soos die kleinhandel en konstruksie, kan oudits ook meer gereeld voorkom. Natuurlik het belastingpligtiges die geleentheid om te kan bewys dat hulle bron van inkomste wel wettiglik bekom is. Hierdie bewyslas sal ʼn deeglike finansiële analise asook persoonlike onderhoude, en formele besoeke aan hulle werksplek en woning(s) insluit. In vandag se digitale omgewing sal die persoon se sosialemediaplasings óók ondersoek word om te bepaal of hul weelderige leefstyl belyn is met hul inkomstestroom.

Só verloop die proses

Dit is nodig om te benadruk dat leefstyloudits slegs een van die drie bene is wat gebruik word om te bepaal of ʼn staatsamptenaar se leefstyl binne redelike perke van sy/haar inkomstestroom is. Die ouditproses verloop as volg:

Eerstens word ʼn leefstyloorsig gedoen om ʼn idee te kry van die werknemer se leefstyl. Tipiese fokusareas sluit in aandeelhouding, leningsrekeninge, inkomste-gegenereerde bates, trust, vennootskappe, direkteurskappe, besoldiging wat buite werksverband ontvang word, inkomste deur konsultasie, borgskappe en geskenke. Gedurende hierdie proses word daar gesteun op onder meer eksterne databasisse van die aktekantoor, eNatis, en die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom. Hierdie proses word dikwels van stapel gestuur nadat iemand die fluitjie oor bedenklike aangeleenthede blaas. Die uitkoms van dié hersiening is nie finaal nie en is slegs ʼn aanduider dat iets nie pluis is nie. In sommige gevalle kan ʼn verandering in leefstyl die gevolg wees van bykomende wettige inkomstebronne soos erfporsies, of ʼn welgestelde lewensmaat of familielid wat bykomende finansiële ondersteuning bied.

Die tweede been van die proses behels ʼn leefstylondersoek. Hierdie ondersoek word gedoen indien die staatsamptenare nie redelike redes kan verskaf waarom hulle uitgawes gereeld hulle inkomstevermoë oorskry nie. ʼn Primêre ondersoektegniek wat gebruik word, is die analise van spandeerpatrone omdat oortreders die geld wat hulle onwettig bekom in die meeste gevalle dadelik spandeer.

Die laaste stap is dié van ʼn leefstyloudit en ouditeure word betrek om bates en opbrengste te identifiseer wat moontlik die onverklaarbare rykdom kan verduidelik. Verder word hierdie span daarmee getaak om vas te stel of staatsamptenare bo hulle vermoë leef en om skuld, kriminele rekords en verduisterde bates te identifiseer. Sou dit nodig wees, sal ʼn objektiewe evaluering ook van die persoon se lewensstandaard gedoen moet word ten einde ʼn ouditmening te vorm.

Leefstyloudits, as ʼn belangrike risikobestuursmeganisme, spreek direk tot etiese bestuurpraktyke en vorm die grondslag van administratiewe, siviele en strafregterlike vervolgingsprosesse. Alhoewel onwettige verryking nie in Suid-Afrika gekriminaliseer is nie, berus daar wel ʼn baie swaar verslaggewingsverantwoordbaarheid op die skouers van persone in magsposisies. Laasgenoemde sluit onder meer wetgewing in soos die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite 12 van 2004, die Wet op die Bestuur van Openbare Administrasie 11 van 2014 en die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite 12 van 2004.

In ʼn land waar daar jaarliks miljoene rande se belastingbetalersgeld in regeringsdepartemente aan korrupsie verlore gaan, kan hierdie oudits ʼn belangrike rol speel in die vestiging en versterking van etiese bestuurspraktyke. Dit kan ook as ʼn vroeë waarskuwingsteken dien vir korrupte handelinge en só oortreders aan die kaak help stel.

Mariska Wannenburg, ʼn dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe by Akademia, verduidelik dat leefstyloudits ʼn belangrike aanspreeklikheidsmeganisme is om korrupsie by wyse van etiese bestuurspraktyke aan die lig te bring.