Search
Close this search box.

Eerste boksaand méér as net ʼn nuwe koshuistradisie

Gepubliseer op: 6 Augustus 2024

Akademia se bruisende koshuislewe skep milde ruimte vir die ontwikkeling van klassieke deugde en nuwe tradisies. Huis Hennops, een van die instelling se manskoshuise, het onlangs hul eerste boksaand met groot sukses aangebied. Die doel van dié geleentheid, ʼn eerste vir Akademia, was om fondse in te samel ter ondersteuning van die koshuis se interne ondersteuningsaksies.

Meer as 300 kaartjies is verkoop vir die geleentheid wat by die Sol-Tech-kampus plaasgevind het, en volgens Tinus Dodds, koshuisouer van Huis Hennops, was dit ʼn aand vir die geskiedenisboeke. “Die boksaand het nie net getuig van goeie en gesonde sportmanskap nie, maar ook van die omgee-ingesteldheid van Fonties. Die manne het hard saam geoefen, mekaar op ʼn verantwoordelike wyse in die kryt die stryd aangesê én in die proses fondse ingesamel om die lewe vir medestudente ʼn bietjie makliker te maak,” verduidelik Dodds. Hy voeg by dat dit ʼn groot voorreg was om die studente se verbondenheid tot mekaar op hierdie unieke wyse te kon ervaar.

“Boks, as ʼn mededingende sportsoort, herinner baie aan die uitdagings wat elkeen van ons in die lewe moet oorkom – hetsy fisies of sielkundig. Ek is ongelooflik trots op elke jongman wat in die kryt geklim het en só, diep bewus van hul eie vermoëns, as aktiewe deelnemers na vore getree het. Vir baie van die manne was dit hul eerste kennismaking met die sport, en dit het mannemoed geverg om deel te neem. As koshuisouer is ek oorstelp van trots,” sê Dodds.

Vir Conrad Prins, die primarius van Huis Hennops en die organiseerder van die geleentheid, was dit lekker om te sien hoe ʼn nuwe tradisie posvat, en om die opgewondenheid van die deelnemers te kon beleef. Prins, wat self ʼn ywerige bokser is, het ook gedurende die geleentheid in die kryt geklim.

“Danksy die boksaand sal ons by Huis Hennops ʼn hand van ondersteuning kan uitsteek na mede-Fonties wat ʼn hupstootjie nodig het om hul studies en deelname aan Akademia se bruisende studentelewe met ywer te kan aanpak,” vertel Prins. Hy voeg by dat die boksaand ʼn groot lansie gebreek het vir die koshuis se verbondenheid tot die kernwaardes van respek, integriteit en verantwoordelikheid.

In sy verwelkomingsboodskap tydens die geleentheid het dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum, die boksaand vanuit Akademia se bestaansrede as ʼn klassieke hoëronderwysinstelling begrond. Hy het verwys na C.S. Lewis se opstel getiteld: “The Necessity of Chivalry” en het veral gefokus op die deugde wat met die Middeleeuse ridderswese vereenselwig word. Volgens Lewis was ʼn ridder in hierdie era ʼn man met ʼn baie diep karakter. Aan die een kant was hy ferm, taai en gestruktureerd, terwyl hy ook deugsaam, beskaafd, hoflik en ingetoë was. Met hierdie eienskappe in gedagte is dit veral die karakter Lancelot, uit die King Arthur-verhaal, wat na vore tree.

“Jongmanne moet ferm wees en mekaar daagliks uitdaag om beter te wees, maar in die proses mag hulle nie hoflikheid en beskaafdheid prysgee nie. Hierdie deugde is nie teenoorgesteldes nie, en is ook nie ʼn een of die ander keuse nie,” verduidelik Maritz. Hy voeg by dat die verskil tussen goeie en suksesvolle vegters juis aspekte soos nederigheid, sagmoedigheid en deursettingsvermoë is. “Die keuse, as ʼn jongman én ʼn deelnemer in ʼn geleentheid soos die boksaand, om hierdie klassieke trekke te omarm is nie altyd maklik nie, en dit gebeur ook nie altyd natuurlik nie. Om ʼn vegter te wees, is uit en uit ʼn kuns wat aangeleer moet word deur oefening en ervaring,” sê Maritz. Hy het die deelnemers daarvan verseker dat die mooi harmonie en samehang tussen die genoemde eienskappe noodsaaklik is vir die bou van ʼn gesonde karakter.

Maritz, wat ook saam met die deelnemers geoefen het en ʼn groot respek vir die sportsoort het, meen Prins het in sy rol as primarius en organiseerder, van die eerste dag af raakgevat en as ʼn goeie motiveerder na vore getree. “Daar was tye tydens die oefensessies waar ek die handdoek wou ingooi, maar Prins het my deurentyd aangemoedig om myself fisies uit te daag en steeds méér te bereik,” vertel Maritz. Hy voeg laggend by dat dit ook Prins was wat hom oortuig het om ook in die kryt te klim en só ʼn item van sy eie emmerskoplysie af te tik.

Beide Dodds en Prins is dit eens dat dié nuwe tradisie en die klassieke deugde wat daarmee gepaard gaan nog vir generasies van Huis Hennops-manne en mede-Fonties ʼn bron van karaktervorming gaan wees. “

Conrad Prins, primarius van Huis Hennops en die organiseerder van die boksaand, is opgewonde oor die sukses van die geleentheid.
Tinus Dodds, koshuisvader van Huis Hennops (links) meen hy is oorstelp van trots op die manier waarop die deelnemers die instelling én die koshuis se waardes tydens die geleentheid uitgeleef het.
Dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum, sê die boksaand herinner aan die Middeleeuse ridderwese en die deugde wat tot karaktervorming bydra.