BA (Taalstudies)
Die BA (Taalstudies)-graad is ʼn unieke kwalifikasie wat studente toerus met teoretiese en praktiese kennis om suksesvolle loopbane in die openbare en privaat sektore en ook in die akademie te volg. Hoewel studente in hierdie kwalifikasie in taalstudies spesialiseer, word hulle blootgestel aan ’n breë spektrum verwante dissiplines. Die kwalifikasie plaas klem op navorsingsvaardighede, kritiese denkvaardighede en analitiese en probleemoplossingsvaardighede in die konteks van taalstudies.
WAT KAN EK MET DIE BA (TAALSTUDIES) DOEN?
Studente wat die BA (Taalstudies)-kwalifikasie suksesvol voltooi, sal loopbane kan volg in onder meer enige van die volgende sektore: taalopleiding, vertaling en tolking, teksredigering, taalbeplanning
en -ontwikkeling, kreatiewe skryfkuns, toerisme en diplomasie, die advertensiewese of openbare skakeling, joernalistiek, asook digitale media en inhoudskepping vir verskeie platforms.
WAT BEHELS DIE PROGRAM?
NKR-vlak 7
360 krediete
ONDERRIGLEERMODEL: Voltydse kampusmodel (Slegs die Centurion-kampus)
KWALIFISEER EK OM BA (TAALSTUDIES) TE STUDEER?
MODULES
Groep A (verpligtend)
Die doel van die module is om die student bekend te stel aan die taal- en letterkunde van Afrikaans en Nederlands. Die module bied ʼn kort oorsig van die verskeie komponente van die linguistiek van Afrikaans en sy geskiedenis. Verteenwoordigende poësie, prosa en dramatekste word bestudeer binne die konteks van die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde, sy sentrale temas en poëtiese raamwerke. Studente sal toegerus word om akademiese tekste te lees en analiseer, en akademiese diskoers in Afrikaans te handhaaf deur te besin oor die gebruik van Afrikaans binne ʼn normatiewe raamwerk.
Hierdie module is ʼn sistematiese inleiding tot die literatuurteorie (of literatuurwetenskap) aan die hand van verteenwoordigende teorieë van die 20ste eeu. Daar word besin oor die aard en definisie van letterkunde, wetenskap en soorte letterkunde (soorte tekste). Daarna word ondersoek ingestel na die oriëntasie van teorieë en ʼn sistematiese oorsig oor die veld van literatuurstudie word gegee. Die grootste deel van die module bestaan uit ʼn studie van teksgerigte benaderings tot die letterkunde (Russiese Formalisme, die Amsterdamse Skool, New Criticism, Franse strukturalisme en semiotiek). Lesergerigte benaderings (taalhandelinge, resepsieteorie, reader-response-kritiek) kom laastens aan bod. Verteenwoordigende, inleidende tekste uit die genoemde 20ste-eeuse benaderings tot die letterkunde word bestudeer. Hulle word saamgelees met resente literêre tekste – soos gedigte, kortverhale, romans en rubrieke. Die doel is deurgaans om die studente die vaardighede aan te leer om literêre (en ander) tekste krities te lees en analiseer.
Die eerstejaarsmodule, Inleiding tot Linguistiek, stel studente bekend aan basiese aspekte van die algemene linguistiek (ook bekend as taalwetenskap). In die inleidende module word belangrike begrippe en konsepte, asook die gepaardgaande terminologie van hierdie vakgebied, aangebied. In die eerste jaar val die fokus veral op die definiëring van taal. Die verskillende vlakke van taalstruktuur – klanke, woorde en sinne – word uitvoerig bespreek. Die ontwerpkenmerke van taal kry vervolgens aandag. Daarna val die soeklig op die beskrywende linguistiek en die kernvelde van hierdie vakgebied. Die module sluit af met taaltipologie.
Groep B (kies een)
Die module het ten doel om studente bekend te stel aan die akademiese bestudering van letterkunde en taalkunde in Engels. Verskeie aspekte van die literêre tradisie en letterkunde (met ʼn klem op die hoofgenres) word ondersoek en studente leer vaardighede aan om poësie, drama en prosa krities te bestudeer en analiseer. Die taalkundekomponent van die module behels die bestudering van fonetiek en fonologie om begrip en ʼn waardering vir die verskillende uitsprake in Engels te kweek. Aandag word ook gegee aan vorm en betekenis in Engelse grammatika, met ʼn fokus op werkwoorde en grammatikastrukture. Studente sal ook hul akademiese skryfvaardighede in Engels slyp.
Hierdie module bied ʼn oorsigtelike inleiding tot Duitstalige letterkunde binne die historiese gegewe van die 20ste eeu. ʼn Keur van geskrewe en visuele tekste word bespreek – met spesifieke verwysing na die sosio-politieke en kulturele Europese konteks waarbinne dit ontstaan het. Die tekste word ondersoek in terme van die basiese teoretiese beginsels van teksinterpretasie om studente toe te rus met ʼn stel vaardighede om literêre werke krities te kan beskryf en interpreteer. Hierdie vaardighede sal verder ontwikkel word om studente in staat te stel om oor ʼn verskeidenheid van sosio-politieke, kulturele en estetiese aspekte en kwessies te besin. Die taalkomponent van hierdie module stel ten doel om studente se basiese taalvermoë in Duits te ontwikkel tot op B1+-bevoegdheidsvlak, soos voorgeskryf deur die Gemeenskaplike Europese Verwysingsraamwerk vir Tale (CEFRL). Die module lê dus klem daarop om studente se taalvaardigheid te ontwikkel, sodat hulle basiese Duits met gemak kan verstaan en gebruik in verskeie kontekste, eenvoudige tekste kan skep oor ʼn verskeidenheid onderwerpe, hul ervaringe kan beskryf en ook hul opinies kan verduidelik. Die module fokus gevolglik op die kernaspekte van taalverwerwing: die bemeestering van luister-, praat-, lees- en skryfvaardighede. Die ontwikkeling van hierdie vaardighede veronderstel enersyds die uitbreiding van woordeskat en andersyds ʼn begrip van die grammatikastrukture in Duits. Hierdie vaardighede word gekontekstualiseer binne ʼn uitvoerige kennismaking met die kulture van Duitssprekende lande, waardeur kennis van en sensitiwiteit vir hierdie kulture aangemoedig word. Studente moet Duits op matriekvlak hê of Duits magtig wees op ʼn A1-bevoegdheidsvlak volgens die CEFRL om vir Duits 1 te kan registreer.
Die module het ten doel om studente se vaardighede te ontwikkel om tekste in Frans te interpreteer en sinvolle en samehangende argumente te formuleer om bepaalde interpretasies te motiveer. Studente sal ook deur middel van die tekste die geleentheid kry om te besin oor Franse estetika, geskiedenis en kultuur deur dit met die Suid-Afrikaanse konteks te vergelyk. Wat die taalkunde betref, sal studente wat die module suksesvol voltooi op ʼn B1-vlak van taalbevoegdheid wees volgens die Gemeenskaplike Europese Verwysingsraamwerk vir Tale (CEFRL). Studente op hierdie vlak kan die belangrikste inhoud verstaan wanneer standaard-Frans en bekende temas gebruik word. B1-gebruikers kan hulle op ʼn eenvoudige en samehangende wyse uitdruk wanneer hulle oor hierdie temas gesels. Studente moet Frans op matriekvlak hê of Frans magtig wees op ʼn A1-bevoegdheidsvlak volgens die CEFRL om vir Frans 1 te kan registreer.
Die doel van hierdie module is om studente bekend te stel aan die basiese grammatika met ʼn fokus op die linguistiese strukture met ʼn hoë funksionele lading. Die studente word bekend gestel aan die 300 mees gebruikte woorde in Sepedi wat gebaseer is op ʼn lys wat verkry is van ʼn elektroniese datakorpus. Die module fokus verder op die lees en verstaan van eenvoudige, kort tekste en die skep van eenvoudige sinne. Eenvoudige luister- en gespreksoefeninge gee vir studente blootstelling aan die uitspraak van moedertaalsprekers en die geleentheid om dit in te oefen.
Groep C (kies een)
Hierdie inleidende kursus in die filosofie – met ʼn historiese én sistemiese fokus – ondersoek hoe die antieke samelewings en klassieke bronne van filosofie steeds van toepassings is op hedendaagse denkwyses en optrede. Die module fokus op van die belangrikste filosofiese vraagstukke deur die denke van die vooraanstaande filosowe uit die Antieke, Grieks-Romeinse en Middeleeuse tydperke te bestudeer.
Die module fokus eerstens daarop om studente bewus te maak van die basiese kompleksiteite van geskiedskrywing en hoe die verlede op verskillende wyses vertolk kan word. Die klem verskuif dan na die belangrike temas in die internasionale geskiedenis en hoe dit help vorm het aan ʼn moderne Suid-Afrika. Temas wat hier aan die orde kom, sluit in die Europese uitbreiding en die vestiging van rykes en slawehandel. Die module fokus ook op die vroeë beginjare van ʼn moderne Suid-Afrika en ondersoek onder meer die vestiging en ontwikkeling van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie aan die Kaap. Die verhoudinge tussen die onderskeie groepe en die geleidelike uitbreiding na die binneland – asook die implikasies hiervan – kom ook in hierdie module aan die orde.
Die module bied aan studente ʼn oorsig van die geskiedenis, ontwikkeling en rol van massamedia in die samelewing. Ons bestudeer sleutelteorieë en -benaderings tot massamedia, soos agendastelling en nuusraming. In die tweede semester val die fokus op die ontwikkeling, rol en funksie van joernalistiek in die samelewing, met spesifieke verwysing na die Suid-Afrikaanse konteks. Ons besin oor die rol en verantwoordelikhede van die joernalis in ʼn digitale en globale wêreld en lê verder klem op die basiese beginsels en vaardighede in die joernalistiekbedryf. Uitsaaimedia (televisie en radio) kry veral aandag in hierdie module.
Taalpraktyk 1 het ten doel om studente bekend te stel aan die belangrike komponente van taalpraktyk om hulle voor te berei op loopbane in hierdie rigting. In die eerste jaar van hierdie module sal studente die basiese teoretiese beginsels van en vaardighede in teksanalise, skryfwerk en redigering bemeester.
Die module het ten doel om studente bekend te stel aan die akademiese bestudering van letterkunde en taalkunde in Engels. Verskeie aspekte van die literêre tradisie en letterkunde (met ʼn klem op die hoofgenres) word ondersoek en studente leer vaardighede aan om poësie, drama en prosa krities te bestudeer en analiseer. Die taalkundekomponent van die module behels die bestudering van fonetiek en fonologie om begrip en ʼn waardering vir die verskillende uitsprake in Engels te kweek. Aandag word ook gegee aan vorm en betekenis in Engelse grammatika, met ʼn fokus op werkwoorde en grammatikastrukture. Studente sal ook hul akademiese skryfvaardighede in Engels slyp.
Die doel van hierdie module is om studente bekend te stel aan die basiese grammatika met ʼn fokus op die linguistiese strukture met ʼn hoë funksionele lading. Die studente word bekend gestel aan die 300 mees gebruikte woorde in Sepedi wat gebaseer is op ʼn lys wat verkry is van ʼn elektroniese datakorpus. Die module fokus verder op die lees en verstaan van eenvoudige, kort tekste en die skep van eenvoudige sinne. Eenvoudige luister- en gespreksoefeninge gee vir studente blootstelling aan die uitspraak van moedertaalsprekers en die geleentheid om dit in te oefen.
Groep A (verpligtend)
- Afrikaans en Nederlands 2
- Literatuurteorie 2
- Linguistiek 2
Groep B (kies een)
- Engels 2
- Duits 2
- Frans 2
- Sepedi 2
Groep C (kies een)
- Geskiedenis 2
- Filosofie 2
- Joernalistiek 2
- Taalpraktyk 2
- Engels 2
- Sepedi 2
Groep A (verpligtend)
- Afrikaans en Nederlands
Groep B (kies een)
- Engels 3
- Duits 3
- Frans 3
- Sepedi 3
Groep C (kies een)
- Literatuurteorie 3
- Linguistiek 3
ANDER INLIGTING
Minimum tydsduur vir die program is drie jaar en die maksimum toelaatbare tyd vir die voltooiing van die program is sewe jaar.
Toelatingsvereistes
- ʼn Nasionale Senior Sertifikaat wat graadstudie spesifiseer met 50% vir Afrikaans.
- ʼn Sertifikaat van vrystelling uitgereik deur USAf indien die aansoeker ʼn ander skoolverlaterkwalifikasie as ʼn NSS behaal het.
- ʼn Hoër sertifikaat in ʼn ooreenstemmende studieveld.
Matriek-Duits/matriek-Frans of ʼn A2-vlaksertifikaat volgens die Gemeenskaplike Europese Verwysingsraamwerk vir Tale, in die onderskeie tale, indien die student Duits/Frans as keusemodule kies.
Besoek die betalingsopsies-blad vir die nuutste programkostes.
Handboeklyste word na suksesvolle registrasie aan studente gekommunikeer.
DOEN NOU AANSOEK OM BA (TAALSTUDIES) TE STUDEER