Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia strewe na uitnemendheid

Gepubliseer op: 4 Oktober 2018

Akademia se strewe na uitnemendheid is duidelik in al die take en verantwoordelikheide wat die instelling aanpak. ʼn Groot deel van die aanbied van gehalte hoër onderwys is om te voldoen aan die vereistes en riglyne wat bepaal word deur regulerende liggame soos die Raad op Hoër Onderwys, Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, en dergelike instansies.

ʼn Voorbeeld hiervan is die 2017-Akkreditasieraamwerk van die Raad op Hoër Onderwys, wat ʼn geleentheid vir hoëronderwysinstellings bied om ʼn groter selfregulerende rol te speel en aanspreeklikheid vir die gehalte van hulle kwalifikasies te verhoog. Vanuit hierdie standpunt betree Akademia ʼn volgende fase in die strewe na onderrig van die hoogste gehalte. ʼn Gevestigde gehalteversekeringstelsel is in Augustus deur Akademia se Akademiese Raad goedgekeur. Hierdie stelsel sluit gevorderde eksterne ewekniebeoordeling, asook internasionale en nasionale normtoetsing, in.

Hierdie versekeringstelsel dien as deel van ʼn gereelde interne gehaltehersieningsiklus met die doel van rigtinggewer vir die evaluering van die instansie en haar kwalifikasies. Voortspruitend hieruit is ʼn gehalteverbeteringsplan ontwikkel ten einde die bedryfsfokus en aanbiedingsgehalte van akademiese programme aan Akademia deurlopend te verhoog.

Die toenemende betrokkenheid van eksterne ewekniebeoordelaars verseker dat onderrig en leer by Akademia sodanig plaasvind dat haar studente hulself in die werkplek sal onderskei. As bykomende verwysing word die internasionale Raad vir die Bevordering van Standaarde in Hoër Onderwys ook in aanmerking geneem. Hierdie raad is ʼn konsortium van professionele verenigings in hoër onderwys wat professionele standaarde daarstel vir die ontwikkeling, evaluering en verbetering van gehalte studenteleer, -programme en -dienste.

Die voordele wat Akademia se inisiatiewe van gehalteversekering vir studente inhou sluit die volgende in: die ontwikkeling van ʼn sterk sin van akademiese integriteit en wetenskaplikheid; die opdoen van omvattende vakspesifieke kennis in die ter sake dissiplines; die bevordering van selfmotivering en -regulering; dinamiese aanpasbaarheid by die eise wat veranderende werkomgewings stel; en die kweek van ʼn ingesteldheid van lewenslange leer.

Ons is trots om te sê dat Akademia verskeie maatstawwe in plek het om te verseker dat afgestudeerdes ʼn kwalifikasie van uitstaande gehalte bekom.