Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia: Registrasie vir 2017 steeds oop te midde van rekordgetal aansoeke

Gepubliseer op: 17 Januarie 2017

Te midde van ʼn rekordgetal aansoeke, sal studente wat in 2017 nog by Akademia wil studeer vinnig moet spring. Meer as ʼn duisend aansoeke is reeds ontvang, en registrasie vir nuwe studente sluit op 27 Januarie.

Terwyl die meeste universiteite landswyd se registrasietydperk nou verby is, bied Akademia nog tot 27 Januarie aan nuwe studente kans om vir ʼn hoër sertifikaat of volwaardige graad te registreer, sowel as aansoek om rentevrye studielenings te doen. Dubbel die aantal aansoeke wat in 2016 ontvang is, het Akademia reeds in 2017 bereik – van 504 in 2016 tot meer as 1 000 in 2017.

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, sê die verdubbeling in aansoeke is aanduidend van die vraag na gehalte onderrig in Afrikaans. “Akademia bied ʼn wêreldgehalte hoëtegnologie-onderrigmodel waarop bekostigbare, gehalte, Afrikaanse onderrig regstreeks en interaktief geskied. Boonop kan studente werk en studeer tegelyk en sowel inkomste as werkservaring ten tyde van hul studie opdoen.”

Verskeie volledig-geakkrediteerde kwalifikasies word aangebied. Vir 2017 aanvaar Akademia inskrywings vir die volgende:

  • BCom Ondernemingsbestuur
  • BCom Bestuursrekeningkunde
  • BCom Ekonomie en Regte
  • BCom Finansiële Beplanning
  • Gevorderde Diploma in Projekbestuur
  • Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde
  • Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie

 

Akademia brei vanjaar sy landswye voetspoor van studiesentrums uit, met sentrums in Bloemfontein, Boksburg, Centurion, George, Krugersdorp, Paarl, Pretoria, Somerset-Wes, Tygervallei en Vanderbijlpark. Elkeen van hierdie sentrums is met moderne videokonferensie-tegnologie toegerus en gratis internettoegang is by alle sentrums beskikbaar, waarmee studente toegang tot Akademia se unieke aanlyn ondersteuningstelsel kry.