Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Akademia se Wes-Kaap-droom neem vorm aan

Gepubliseer op: 13 Junie 2024

Akademia het vroeër vanjaar die opwindende nuus gedeel dat dié hoëronderwysinstelling in die proses is om sy geografiese voetspoor in die Wes-Kaap teen 2026 uit te brei. Hierdie uitbreiding spreek tot die instelling se nuwe groeifase wat vanjaar reeds uitgeloop het op die ingebruikneming van ʼn bykomende voltydse kampus in Centurion asook die bekendstelling van twee splinternuwe inwoonkoshuise.

Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van die instelling, is die Wes-Kaap-droom vinnig besig om vorm aan te neem en sal die nuwe satellietkampus na alle waarskynlikheid in die Paarl-omgewing gesetel wees. “Ons het reeds ʼn bedrewe bedryfsbestuurder, Tony van der Merwe, vir die Wes-Kaap aangestel en die onderhandelings vir ʼn geskikte ligging vir die kampus is op ʼn gevorderde stadium,” sê Visser. ʼn Aankondiging in die verband sal binnekort gemaak word. Intussen word daar onverpoosd gewerk om aan die voorgestelde infrastruktuur- en kapasiteitsbehoeftes te voorsien.

Nóg opwindende nuus is dat prof. Gawie du Toit, wat tans die dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia is, as die hoof van die Wes-Kaap-kampus diens gaan doen. Du Toit beklee die dekaanspos sedert 2019 en is reeds vir meer as 35 jaar aktief betrokke in die Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor as onder meer navorser, departementshoof, kurrikulum-ontwikkelaar, programdirekteur en senior bestuurder.

Visser verduidelik dat die voorgestelde satellietkampus die instelling se bestaande voetspoor in die Wes-Kaap sal aanvul. Akademia geniet tans ʼn teenwoordigheid, by wyse van sentrums, in George, die Paarl en Somerset-Wes. Hierdie sentrums word benut deur studente wat via die nauurse afstandsmodel studeer. Wat studentegetalle betref spreek Visser die hoop uit dat dié kampus ʼn aanvang sal neem met om en by 1 500 studente. Dit word verder voorsien dat daar nagenoeg dertien programme oor Akademia se bestaande fakulteite aangebied sal word en studente sal tussen die instelling se nauurse afstandsmodel of die voltydse kampusmodel kan kies.

Gedagtig aan Akademia se verbondenheid tot die gemeenskap, is Visser opgewonde oor die toekomstige impak wat die instelling en sy studente in die Wes-Kaap sal hê. Laasgenoemde spreek direk tot die instelling se bestaansrede as ʼn onafhanklike hoëronderwysinstelling wat ten nouste verbonde is tot die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe.

Meer inligting oor dié opwindende uitbreiding sal volg namate die vestigingsproses vorder.

Prof. Gawie du Toit is ʼn hoëronderwysveteraan en sal as hoof van Akademia se satellietkampus in die Wes-Kaap optree.