Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

Wêreldsosialemediadag – Word só sosialemediaslim en verseker ʼn impak

Gepubliseer op: 30 Junie 2024

Geskryf deur Chané Jonker, junior beampte: Sosiale media by Akademia.

Wêreldsosialemediadag word jaarliks op 30 Junie gevier en vanjaar se tema fokus op die impak wat sosiale media op die verbintenis van mense met mekaar het. Het jy al ooit gesit en wonder hoekom jy altyd dieselfde smaakmakers se plasings éérste sien wanneer jy jou sosialemediatoeps oopmaak? Die antwoord hierop is eenvoudig: Dié gunstelingsmaakmakers maak gebruik van bewese strategieë om hul profiele te bestuur.

Gedagtig hieraan, nooi ek jou om hierdie Wêreldsosialemediadag jou sosiale media op dieselfde wyse vir jou te laat werk. En nee, jy hoef nie vir ure agter jou rekenaar te sit om op te lees oor die nuutste algoritmiese veranderinge óf die redes agter die verandering van die Twitter-url na x.com nie. Om sosiale media vir jou as individu te laat werk, moet jy bloot na dié tipe media kyk soos wat ʼn joernalis na ʼn artikel kyk en die alombekende vyf W’s-en-H-raamwerk toepas: Wie, wat, waar, wanneer, waarom en hoe.

Wie?

Die woord “teikenmark” is nie net ʼn term wat slegs deur bemarkers gebruik word nie. Vra jouself af wie jou plasing gaan sien? Wanneer jy ʼn gesinsfoto, ʼn komiese video of jou mees onlangse akademiese kwalifikasie deel, is dit belangrik om te bepaal wie jou persoonlike teikenmark is. Jou werkgewer of potensiële werkgewer is byvoorbeeld nie die regte teikengehoor vir plasings oor jou besige sosiale lewe nie. Die wie-vraag verwys ook na die manier waarop jy jouself uitbeeld. Wie wil ek aan die wêreld wys? Die antwoord op hierdie vraag sal baie verskillend lyk op jou LinkedIn-profiel (wat ʼn meer professionele aanslag benodig) as op jou Instagram-profiel.

Wat?

Wanneer ʼn kelner ʼn skemerkelkie met ʼn vars suurlemoenskyfie voor jou neersit is die versoeking groot om ʼn foto hiervan dadelik op jou WhatsApp- en/of Instagram-storie te deel. Vra jouself egter eers die volgende vraag af: Voeg dié inhoud waarde by of is dit net ʼn mooi foto? Beeld dit die “wie” uit wat jy vir die wêreld wil wys? Indien wel, plaas die foto. Indien nie, moenie dit plaas nie. Stoor dit liewer op jou foon in ʼn album om dan en wan nostalgies daarna terug te kyk.

Waar?

Individue dupliseer dikwels plasings op hul verskeie sosialemediaplatforms. Dit is egter nie die mees effektiewe manier om jou sosiale media te bestuur nie. Nadat jy jou wie- en wat-vrae beantwoord het, vra jouself af waar jou plasing die grootste impak sal maak? Neem jou persoonlike teikenmark en die unieke aard van elke platform in ag alvorens jy ʼn besluit maak. TikTok is byvoorbeeld meer geskik vir kort informele video’s as LinkedIn. Laasgenoemde platform is nommerpas vir inligting oor akademiese kwalifikasies, nuwe vaardighede wat jy bemeester het, of loopbaanaangeleenthede.

Wanneer?

Konsekwentheid is die goue reël wat jou in staat stel om enige algoritme baas te raak. Wanneer jy jou plasings konsekwent hou, met ander woorde om elke week byvoorbeeld twee plasings te maak, is die spesifieke tyd waarop dit geplaas word minder relevant. Jou profiel verloor trefkrag wanneer jy net een keer in twee maande ʼn plasing maak. Wanneer jy gereeld plasings maak, sal jy jou impak vergroot.

Waarom?

Waarom plaas jy inhoud op jou sosialemediaplatforms? Neem genoeg tyd en maak seker dat jy weet wat jy met jou sosialemediaplatforms wil bereik alvorens jy dié vraag beantwoord. Is jou hoofdoel om met vriende en familie in verbinding te bly? Wil jy jou professionele netwerk uitbrei? Is jy gemotiveerd om self as ʼn smaakmaker vir jou ʼn mark uit te kerf?

Hoe?

Daar is verskeie vrae wat aan die “hoe”-oorweging gekoppel kan word. Hoe groei ek my volgelinge? Hoe kan ek daarvan verseker wees dat ek op hoogte bly van nuwe tendense? Die belangrikste oorweging hier is egter hoe diep is my sosialemediavoetspoor? Kan jy nog die wagwoord onthou van jou Instagram-profiel wat jy in 2014 geopen het? Waarskynlik nie.

Op sosiale media dra jy self die hoed as jou reputasiebestuurder. Dit is nie nodig vir jou werkgewer om bewus te wees van jou modeflaters in graad 10 nie. Verwyder byvoorbeeld gereeld verouderde profiele en irrelevante inhoud.

Ten slotte, sosiale media is ʼn spieël waarin jy nie net jouself kan besigtig nie, maar ook waarin die wêreld jou kan sien. Maak seker dat jy ten alle tye sosialemediaslim optree en verseker só dat jy ʼn goeie indruk maak.

Chané Jonker, junior beampte: Sosiale media by Akademia, meen sosiale media is ʼn spieël waarin jy nie net jouself kan sien nie, maar ook waarin die wêreld jou kan sien. Om dié rede is dit belangrik om ten alle tye sosialemediaslim op te tree.